Oud-Zim-krieketspeler op operasietafel ná luiperd hom gryp

Guy Whittall in ’n Zimbabwiese hospitaal. (Foto: Hannah Stooks Whittall/Facebook)

Guy Whittall, ʼn voormalige Zimbabwiese krieketspeler, moes ʼn operasie in Harare ondergaan nadat hy deur ʼn gewonde luiperd aangeval is.

Volgens Cricinfo was die 51-jarige oudspeler, wat in 46 toetse vir sy land gespeel het, vroeër die week op die spoor van die wilde dier wat glo deur ʼn kliënt op sy Humani Ranch in die suidooste van Zimbabwe gekwes is.

Sy vrou, Hannah Stooks-Whittall, het die voorval op sosiale media bevestig en foto’s van ʼn bebloede Whittall gedeel.

Whittall in sy speeldae vir Zimbabwe. (Foto: Alexander Joe/AFP)

Hy is aanvanklik by die Hippo Clinic gestabiliseer, waarna hy per helikopter na die Miltonpark-hospitaal in Harare vervoer is waar hy Donderdag op die operasietafel was.

Volgens Stooks-Whittall het haar man baie bloed verloor en hy het onder meer snye aan sy arms en bene opgedoen, terwyl hy ook ʼn groot kopwond toegedien is.

Sy beserings kon dalk veel erger gewees het as dit nie vir sy hond, Chikara, was wat die luiperd stormgeloop het nie.

“Chikara moes ook veearts toe nadat hy deur die luiperd beetgekry is. Hy het die groot kat getakel in ʼn poging om hom van Guy weg te kry. Hy is ʼn baie getroue en spesiale hond.”

Stooks-Whittall vertel dat Chikara weliswaar ’n paar skrape opgedoen het, maar dat hy in ’n beter toestand as sy baas is.

“Hy het ’n hele paar bykomende hoenderhappies as beloning gekry!”

Evening all you special people Guy and I are overwhelmed by the hundreds of messages of well wishers after guys run in…

Posted by Hannah Stooks Whittall on Monday, April 22, 2024

Dit is nie Whittall se eerste onderonsie met ʼn wilde dier nie. In 2013 is ʼn nylkrokodil van meer as 160 kg onder sy bed verwyder.

Die oudspeler het destyds in ʼn onderhoud gesê dat hy nog vroegoggend kaalvoet op die bed se rand gesit het toe hy wakker geword het.

ʼn Kort rukkie later het die huishulp alarm gemaak toe sy die reusekrokodil onder die bed gesien het.

Die indringer het moontlik van die nabye Turgwe-rivier die huis binnegesluip en Wisden berig dat Whittall en sy span ná ʼn “rukkie se gestoei” weer die krokodil in die natuur vrygelaat het.

“Hy is ʼn baie gelukkige man. Eers die krokodil en nou die luiperd. Hy is werklik ʼn kat met nege lewens,” het Stooks-Whittall aan MailOnline gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Indien jag-vir-finansiële-gewin en/of trofee-jag verbied word, sal sulke gevalle nie plaasvind nie. 10/1 is die arme luiperd gekwes deur ‘n trofee-“jagter” met te min verstand, ervaring en te veel geld en moes dié man die gekweste dier opspoor om dit uit sy ellende te verlig. Dit maak my skoon boos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.