Die twee mans wat van die moord op ds. Willem Brits van Harrismith en sy aanstaande skoonseun, Gerhard Vermeulen, verdink word, verskyn vandag weer in dié dorp se landdroshof.
Ds. Brits se seun, Martin (28), het verlede jaar voor ʼn landdros van Fouriesburg skuldig gepleit op die aanval. Sy medebeskuldigde is Elliot Mhlambi (41).
Die twee mans word daarvan beskuldig dat hulle ds. Brits (60) en sy vrou Dorothea (59) op 8 November 2012 in hul pastoriehuis met ʼn byl aangeval het. Ds. Brits het die volgende oggend in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Vermeulen (25) is tydens die voorval doodgeskiet. Dorothea het erge hoofbeserings opgedoen en is sowat twee weke gelede uit die Life Pasteur-hospitaal ontslaan en woon tans in ʼn tehuis vir bejaardes in die dorp.
OFM berig Martin is een van die Brits-egpaar se vier aangenome kinders. Na verwagting sal die nasionale vervolgingsgesag vandag besluit in watter hof en wanneer die twee verdagtes se sake verhoor sal word.
Intussen moet die egpaar se dogter, Thea (24), weer op 11 Maart in die dorp se landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal en die rig van ʼn vuurwapen.