Planne bekendgemaak vir Afrikaans se eeufeesjaar

Michael Jonas, ondervoorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee en direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum. (Foto: Maroela Media)

“Ek dink Afrikaans is ʼn voorbeeld van wat met ʼn inheemse taal gedoen kan word. Dit het as kombuistaal begin en eindelik tot ʼn universiteitstaal met hoër funksies gevorder, wat op sigself ʼn merkwaardige mylpaal is.

“Die belangrikste aspek van Afrikaans se eeufeesviering is wel dat die taalgemeenskap hand in eie boesem moet steek en vra hoe die geskiedenis van gister, vandag en die toekoms byeengebring kan word.”

Só het Michael Jonas, ondervoorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee en direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum, Maandag aan Maroela Media gesê.

Afrikaans vier op 8 Mei 2025 sy 100ste jaar as amptelike taal. Daarom is die Afrikaans 100-oorsigkomitee gestig om te help om inisiatiewe van stapel te stuur om dié groot geleentheid te vier.

Leon Ecroignard, Amanda Strydom en Dean Balie het gaste by die Afrikaans 100-bekendstelling vermaak. (Foto: Maroela Media)

Planne om Afrikaans se eeufeeswording te huldig is die afgelope week by die Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion amptelik bekendgemaak.

Volgens dr. Theuns Eloff, voorsitter van die Afrikaans 100-oorsigkomitee, wil dié veldtog juis help om bewusmaking oor die ryk en gevarieerde geskiedenis van Afrikaans onder gewone mense te skep.

“Een van die vernaamste mylpale, is Afrikaans se ontwikkeling as goeie onderwystaal. Die boodskap wat hierin te lees is, is dat moedertaalonderwys van kardinale belang is.

“Wanneer ons dit met ander inheemse tale deel, kan ons vir hulle sê: ‘As julle wil hê julle tale moet oor 100 jaar dieselfde rykdom as Afrikaans hê, dan is moedertaalonderwys belangrik.”

Eloff sê verder dat onderwys die fondament van enige taal is. “Ek glo dat as ʼn taal nie ʼn onderwyspyplyn het nie, dan gaan daardie taal een of ander tyd beperk gebruik word. Ek sê nie die taal gaan uitsterf nie, maar dit kan hoogstens dalk ʼn gesprekstaal wees.”

Wanneer daar oor die diversiteit binne Afrikaans gepraat word, kom die uiteenlopendheid van sprekers en taalvariasie ter sprake.

“As ek na diversiteit in die taal kyk, dan kyk ek na verskillende tongvalle. Ek verwys na Arabiese- en Moeslim-Afrikaans, en na taalvariante soos Oosgrens-, Oranjerivier- en Gariep-Afrikaans.

Michael Jonas en dr. Theuns Eloff. (Foto: Maroela Media)

“Dit verteenwoordig deels die diverse Afrikaanse landskap. Uit hierdie genuanseerde landskap is daar soveel potensiaal vir Afrikaans om in al haar gedaantes gevier te kan word,” sê Jonas.

Hy het ook in sy toespraak op die komvandaan van Afrikaans teruggekyk en daarop gewys dat uiteenlopende en dikwels strydige menings en teorieë bestaan as dit by die oorsprong van Afrikaans kom.

“Die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans strek terug tot 1595 vanweë kommunikasie en kontak tussen plaaslike inwoners, seevaders en slawe uit die Ooste, tesame met taalbeïnvloeding, -kontak en -versteuring.

“Hoewel daar dikwels na hierdie tydperk as die eerste periode in die geskiedenis van Afrikaans verwys word, is dit egter 8 Mei 1925 wat onthou en herdenk sal word. Dit word as een van die monumentale mylpale in die geskiedenis van dié relatiewe jong Afrika-taal beskou.”

Op dié datum is Afrikaans deur die Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925, in die destydse parlement, naas Engels, as amptelike taal aanvaar. Sedertdien het die taal verskeie politieke en ekonomiese uitdagings, insluitend faktore wat die taal se hoëfunksies bedreig, getrotseer.

Omdat daar soveel sienings oor Afrikaans is, het die Afrikaans 100-oorsigkomitee ʼn manifes saamgestel wat deur al die deelnemende organisasies aanvaar is.

Afrikaans 100 se logo.

Die veldtog se hoofelemente bestaan onder meer uit toekomsgerigtheid en konstruktiewe bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap, ʼn gekoördineerde poging om 100 jaar met positiewe sentimente te vier en die waarde van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ten toon te stel. Die viering moet op talle gebiede en deur alle organisasies plaasvind, en toegang verleen tot ʼn eenvormige, positiewe feesveldtog en -identiteit in die vorm van ʼn logo wat saam met die instansie se eie korporatiewe identiteit gebruik kan word.

“Daar word alreeds baie gedoen om eenheid binne die taal te bevorder, maar ek dink ons kan selfs nog meer doen. Hierdie veldtog gaan baie help om ʼn samehorigheidsgevoel, trots en vreugde oor Afrikaans te skep,” sê Eloff ten slotte.

Enige navrae oor die Afrikaans 100-feesvieringe kan gerig word aan Merlyn van der Rheede by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rose ·

Afrikaans is n baie unieke taal. Dit het vermeng tot die taal wat ons vandag praat. My ouma het n hoogs Hollandse Bybel gehad waarin elke nuwe baba se naam ingeskryf was, vanaf die eerste stamvader in SA. Haar voorouers was van Hollands en later direkte (Hugenote) Franse afkoms, ook bietjie Duits. Sy het geskryf in die Nederlandse taal, maar ”Afrikaans” gepraat. As ek reg is, het hulle die Bybel vir die museum geskenk. My ander Afrikaanse tak, was ook van die heel eerste pioneers wat die Weskus en Namakwaland verken het. Hulle was van Duits en Nederlandse afkoms, en hulle taal was vermeng met n paar Khoisan woorde.

Nico ·

Afrikaans is nie ‘n kombuistaal nie, die taal is vermeng Hollands, Duits en Vlaandere. My voorsate het in 1704 vanaf Leiden Holland hier in die Kaap aangekom, so Afrikaans is nie ‘n kombuistaal nie!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Sprekers van Afrikaans wil partie hou, maar ons verskil oor die herkoms van die taal. Voel wit en swart op voetsoolvlak dieselfde? Ek luister sommer op die draadloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.