Polisie besoek gesin ná Karlien klagte indien

Karlien van Jaarsveld_Facebook_blur

Karlien van Jaarsveld en haar man Joe Breytenbach het dié selfie geneem in die restaurant kort voor hulle besef het wat agter hulle aan die gebeur is met die meisie. (Facebook/Karlien van Jaarsveld II)

Die sangeres Karlien van Jaarsveld verdien ʼn medalje nadat sy ingegryp het tydens ʼn kommerwekkende voorval tussen ʼn jong kind en haar ouers en ʼn klagte by die polisie aangemeld het.

En al het die polisie in Gauteng ná ʼn deeglike ondersoek bevind daar is geen rede tot kommer nie, verdien Van Jaarsveld se optrede lof, het die polisie gesê.

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het Vrydag bevestig ʼn ervare ondersoekspan, bestaande uit speurders en ʼn maatskaplike werker, het die gesin se huis reeds besoek.

“Na deeglik ondersoek ingestel is, is daar bevind die voorval [in die restaurant] was ʼn geïsoleerde voorval. Die polisie se ondersoek is daarom nou afgehandel,” sê Van Dyk.

Van Jaarsveld het vroeër in die week ʼn klag by die polisie ingedien ná sy gesien het hoe ʼn ma na bewering haar dogtertjie in ʼn Pretoriase restaurant rondruk en die kind verbaal boelie.

Van Jaarsveld en haar man, Joe Breytenbach, het op 30 Desember die Rasam Tandoori-restaurant in Moreletapark in die ooste van Pretoria besoek.

In ʼn plasing op haar Facebookblad skryf Van Jaarsveld hoe die ma “elke kort-kort ʼn lelike aanmerking teenoor die kind” maak. By die plasing is ʼn foto van Van Jaarsveld en Breytenbach. Volgens Van Jaarsveld is die foto geneem vóór sy besef het wat by die tafel agter hulle gebeur.

Van Jaarsveld skryf dan verder: “Dan noem sy haar prinses in ʼn sneeuwitjie stiefma tipe stemtoon dan sê sy vir haar, wat gaan ons met jou doen? Die dogtertjie sê niks, sy kyk net bang na die ma. ‘Ons kry skaam vir jou, jy’t niks respek vir my nie, jy is net soos daai lelike prinses van Shrek,’ [sic]”.

Volgens Van Jaarsveld het die ma “met haat” na haar kind gekyk. Die meisie het glo vreesbevange voorgekom en baie gehuil. Die ma het glo met “duiwelbesete oë” na haar kind gekyk en ook die pa probeer “oortuig om opgewerk te raak teenoor die stil, klein dogtertjie”.

Later, skryf Van Jaarsveld, het sy gehoor hoe die ma aan haar dogter sê hoe teleurgesteld sy in haar is. Dit was in dié stadium wat die dogtertjie glo opgekyk het en “jammer” gesê het. Die ma het haar toe glo met geweld aan haar arm gegryp en oor die tafel gesleep.

Van Jaarsveld skryf voorts dat sy later self na die ouers gestap en hulle gekonfronteer het.

“Toe draai die pa na my en sê ‘moenie worry nie ek het als onder beheer’. Die ma was onmiddellik onskuldig en sê vir die dogtertjie ‘kyk hoe het jy die tannie ontstel, nee my bokkie dis nie reg nie, kyk nou weer wat het jy aan ons gedoen, jy stel ons weer teleur, kom bokkie ons gaan ry’.”

Van Jaarsveld sluit haar plasing af deur te sê hoe diep die voorval haar teleurgestel het. “As jy toevallig dié lees, ek is op jou spoor, weet dit maar.”

Van Dyk het Vrydag bevestig die polisie het die klag ontvang wat Van Jaarsveld aangemeld het.

“Die polisie het dadelik opgetree en ʼn huisbesoek gedoen,” sê hy.

Volgens hom het die ouers hul kind in die restaurant berispe en was dit ʼn geïsoleerde voorval.

“Na die huisbesoek is daar geen bewyse gevind wat enige alarms laat afgaan het by die span ervare ondersoekers nie.”

Van Jaarsveld geloof vir ingryping

Van Dyk het ʼn beroep op mense gedoen om Van Jaarsveld se voorbeeld te volg en die polisie te kontak indien hulle onraad vermoed.

“Veral in sake van geweld is baie mense te bang om te praat. Vir haar om op te staan en standpunt in te neem, verdien ʼn groot pluimpie.”

Nadat sy die voorval onder die polisie se aandag gebring het, het Van Jaarsveld weer ʼn plasing gedoen.

Dit lui: “Dogtertjie van die restaurant, jy sal vir altyd in my hart en gedagtes lewe, ek sal aanhou baklei vir jou poppie, jy’s pragtig en jy verdien nie om bang te wees en rondgeruk te word nie. Jy verdien om liefgehê en veilig te wees,” [sic].

“Ek het al die stappe geneem, die saak is in die regte mense se hande.”

Unchain our Children, ʼn liefdadigheidsorganisasie wat hom veral vir kinderregte beywer, het in ʼn verklaring die polisie se vinnig optrede geloof.

“Ons bedank die polisie dat hulle so vinnig was om te reageer en die saak met die nodige erns ondersoek het,” sê Wayne van Onselen, voorsitter van Unchain our Children.

Hy was nes die polisie ook vol lof vir die goeie voorbeeld wat Van Jaarsveld gestel het.

“Mense moet onthou dat hulle ook anoniem sake van kindergeweld kan aanmeld. Wees eerder oorversigtig as wat jy net stilbly.”

Ronél Brink, Van Jaarsveld se ma en bestuurder, het by navraag gesê sy het geen insae in die saak nie en gaan daarom ook nie kommentaar lewer nie.

  • Mense kan enige vorm van geweld of mishandeling by die polisie aanmeld op die misdaadlyn by 0800 10111 of deur hul naaste polisiekantoor te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hannelie ·

Mooi so Karlien. Wat my egter bekommer, as die ma so aangaan in die openbaar, wat doen sy nie aan die arme dogtertjie in haar huis nie. En om jou kind verbaal te boelie, jinne jy verdien nie ‘n kind nie.

Ann Gwendoline ·

Waneer n mens so iets gewaar, sou dit beter wees om privaat met die persoon te gaan praat en jou eers te vergewis van die omstandighede. Om iemand sommer net so uit te haal voor die publiek is uiters onsensitief. Daar wys duisende vingers terug na jou en dalk vind baie mense haar nie so voorbeeldig soos wat sy dink sy is nie.

Olive ·

Mooi Karlien. Min wat die moed sal he om te doen soos jy. Weereens ‘n bewys van die pragtige mens wat jy is. Ongelooflik hoe sommige mense kinders en diere sleg kan behandel eerder as om hulle net lief te he.

Atta ·

@Dries as jy met ʼn kredietkaart betaal is dit maklik om opgespoor te word.

Anna ·

Ek dink die meeste van ons het so groot geword, ons ouers het dit net by die huis gedoen.

Onnie ·

Nooit Anna, waar het jy groot geword? Ons is nie rondgepluk of afgekraak en met skuldgevoelens geteister nie! Ons was 4, baie pakgekry, maar nooit verneder en verkleineer nie.

Ek hoop die polisie volg weer op, want ek kan jou belowe dit was nie die 1ste, of die laaste keer wat daardie ma haar “prinsessie” verbaal/fisiek mishandel het nie. Hierdie tipe gedrag raak nie beter nie, dit vereger met tyd totdat ons weer sit met ‘n Poppie-geval.

Mooi so Karlien dat jy nie skaam of bang was om hierdie mishandelaar in die openbaar aan te vat nie – dit vat guts! Die Here sal jou ryklik seën. Ek bid jou optrede werp vrugte af.

Jakes ·

Dit het hoogtyd geword dat mans of vrouens wat hul kinders of stiefkinders in die openbaar verkleineer of openlik beledig, vasgevat word. In hierdie geval wonder n mens wat by hul huis plaasvind as hulle sulke onvanpaste gedrag in n openbare plek doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.