‘n Polisiebeampte van KwaZulu-Natal is Donderdag 15 jaar tronkstraf opgelê vir moord en poging tot moord.
“Hlengiwe Mkhize (31) is tot 15 jaar gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is,” het Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) gesê. Sy is ook vyf jaar tronkstraf opgelê vir poging tot moord in vier gevalle. “Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word,” het Dlamini gesê.
Mkhize het Mlindeli Ngobo (15), wat in Julie 2012 saam met sy vriende was, in Bulwerweg in Taylor’s Halt, KwaZulu-Natal, doodgeskiet. “Ngcobo was saam met vier insittendes in die voertuig toe hulle per ongeluk in Mkhize se motor vasgery het.” Die twee het ingestem om die ongeluk by die polisie aan te meld, maar Mkhize het twee skote na Ngcobo se motor gevuur en hom in die kop getref. Hy het later in die hospitaal gesterf.
Mkhize het ná die ongeluk ‘n saak van poging tot kaping oopgemaak en aangevoer dat sy Ngcobo in selfverdediging geskiet het. “Opod verwelkom die vonnis, aangesien dit ‘n boodskap aan polisiebeamptes stuur dat hulle aanspreeklik gehou sal word vir hulle dade deur die regstelsel van ons land indien hulle hul vuurwapens en mag misbruik,” het Dlamini bygevoeg.