Premature wonderwerkies nou presterende tieners

Tanja, Ankia en Ilanka Verster. (Foto: Verskaf)

As daar vandag na foto’s van die pragtige tiener-tweeling Ankia en Ilanka Verster gekyk word, is dit moeilik om te glo dat hul gesamentlike gewig met geboorte minder as vier blokke winkelbotter was.

Toe hul ma, Tanja Verster, die eerste keer haar premature tweeling in 2007 ná haar noodkeisersnee gesien het, het sy boonop gedink dat daar ʼn fout gemaak is.

Dié klein wesentjies, met hul byna blou deursigtige velletjies, kon tog nie haar babas gewees het nie – hulle lyk dan niks soos sy nie?

Nou, 17 jaar later, verwys ma en dogters graag na mekaar as “die drie musketiers”. Onafskeidbaar, gesond en florerend – ondanks ʼn moedige gesondheidstryd.

Haar ouerskapsreis was nie maklik nie, maar volgens Tanja, ʼn dosent in bedryfswiskunde en informatika aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, was dit wel ʼn testament van die krag van geloofsvertroue en moederlike intuïsie.

Ankia en Ilanka, albei 16 jaar oud, is op 4 November 2007 in Bethlehem op 28 weke gebore.

Tanja en haar oorlede man, Arno, was in Clarens vir ʼn laaste wegbreek. Hul tweeling sou na verwagting eers einde Januarie 2008 gebore word.

“Ek het ʼn gesonde swangerskap gehad sonder enige gevaartekens dat hulle vroeër sou kom, maar toe kry ek die Saterdag om middernag baie erge krampe en begin bloei. Dié krampe was toe eintlik kraampyne,” verduidelik Tanja.

Die paartjie is inderhaas na die hospitaal op Bethlehem in die Vrystaat, waar Tanja ingelig is dat sy ʼn noodkeisersnee sal moet ondergaan. Sy skerts dat haar ginekoloog op Potchefstroom in die vroeë oggendure wakker gebel is om haar te help oortuig.

“My man was my steunpilaar, hy was kalm en het heeltyd gebid, maar ek was beslis in ontkenning oor die hele situasie. Toe hulle gesê het ek moet die vorm vir die operasie teken, toe sê ek nee.

“Ek het net gedink dat ek nog nie ʼn ooievaarstee gehad het nie, die kamers was nog nie reg nie én ek moes die Maandag toesig hou vir ʼn eksamen. In daai stadium was ek oortuig dat hulle my met iets kan inspuit om die babas binne-in my te hou.”

Met geboorte was Ankia 1 kg en Ilanka slegs 890 g. Albei se geringe gewig sou egter vinnig daal na 750 g en nie een kon asemhaal of sluk sonder die hulp van masjiene nie.

“My dokter het destyds gesê hulle sou tevrede wees as die tweeling op 34 weke gekom het. Ons weet ook nie wat die presiese oorsaak van die vroeë geboorte was nie, maar my infeksietelling was hoog, so dit kon moontlik die een of ander onderliggende siekte gewees het,” vertel Tanja.

Die werklikheid van haar omstandighede het ná die geboorte ook nie dadelik ingeskop nie. Haar brose babatjies se gesondheid was volgens Tanja ʼn “wipplank van emosies”.

“Ons het baie gehad om deur te werk en is met die besef getref dat ons babas moontlik nie sou oorleef nie of met gestremdhede sou grootword. ʼn Mens wil so graag net ʼn gewone mamma wees, maar jy mag nie eens aan jou babas raak nie.”

Die ouerpaar is veral weens die tweeling se uitdagings met slaapapnee, waar hulle vir kort rukkies ophou asemhaal in hul slaap, twee keer gewaarsku dat hulle dalk hul pasgeborenes moontlik sal moet groet. Daar was selfs ʼn geval waar hulle in 24 uur byna 180 keer wakker gemaak moes word om te keer dat hulle in hul slaap sterf.

Take soos voeding en doeke ruil, wat andersins normaal sou wees, het voorregte geword wat sy en haar man stuk-stuk toegelaat is. Op 9 November 2007 kon Ilanka vir kort tydperke vasgehou word, terwyl Ankia eers op 6 Desember uiteindelik haar ma en pa se arms sou voel.

As hulle verswak het, is kontak ook verbreek. Vrees vir breinskade, blindheid en ander fisieke uitdagings was veral die eerste drie maande altyd ʼn moontlikheid wat oor die meisietjies gehang het.

Tanja vergelyk haar tweeling se voorkoms destyds met dié van babavoëltjies wat te vroeg uit die nes geval het. “Die dokter het verduidelik dat hulle, na gelang van die tipe proses wat in hul liggaam gebeur, soms bruin, blou of amper geel kan lyk. Mens kon sien hulle is nog nie klaar ontwikkel nie.”

Sy onthou veral die vreemdheid van ʼn nuwe ma wat met leë arms moes huis toe gaan.

Ook nie eens na haar eie huis nie, maar gastehuise in die Bethlehem-omgewing – wat die volgende drie maande die egpaar se tuiste sou word.

“Die gemeenskap het my en my man behoorlik omarm. ʼn Dokter het sy huis vir ons oopgestel terwyl hy weg met vakansie was, vreemdelinge het kos aangedra. Ons was verstom oor mense se omgee-gesindheid teenoor ons gesin.”

Op 12 Desember is die tweeling ná 38 dae per vliegtuig na ʼn Potchefstroomse hospitaal oorgeplaas. ʼn Week later kon Tanja ʼn maand en ʼn half ná hul geboorte haar babas borsvoed.

Op 7 Januarie 2008 is die wonderwerkies uiteindelik huis toe, waarna vyf jaar se intensiewe spraak- en arbeidsterapie sou volg om die nodige mylpale soos sluk, regop sit, kruip en praat te help bereik.

Weens hul vatbaarheid vir siektes is die tweeling vir die eerste twee jaar tuis deur Tanja en haar “engel” Selina versorg.

“Ankia het veral gesukkel met fisieke mylpale, waar Ilanka gesukkel het met mondfunksies. Sy het op twee jaar oud eers woorde begin sê wat ek as mamma kon verstaan. Voor dit het Ankia my help verduidelik wat haar sussie bedoel.”

Boonop is Arno enkele dae voor hul tweede verjaardag oorlede aan pankreaskanker, ʼn terugslag wat Tanja sê sy nie sonder haar dogters sou kon trotseer nie.

“Dit was ʼn geloofstryd. Ek het vir die Here gevra hoekom Hy vir ons enigsins kinders sou gee as Hy my man wou wegvat? Nou besef ek dat hulle my juis daardeur gedra het,” verduidelik sy.

“As mens treur, wil jy net in die bed bly, maar ʼn tweejarige laat dit nie toe nie. Hulle wil jou goedjies wys en met jou deel. Daardie opgewondenheid oor die lewe smeer so af op ʼn mens en het my rede gegee om soggens my kop te lig.”

Tot op vyfjarige ouderdom moes die tweeling mylpale en vaardighede inhaal, maar ná sewe jaar oud het hulle vinnig hul maats begin verbysteek.

Vandag spog dié hoërskoolleerders aan Hoërskool Potchefstroom Gimnasium met A-gemiddelde en beskryf wiskunde as hulle albei “se gunsteling en maklikste vak”.

Sy skerts dat hulle nes hul ma “nie vreeslik atleties is nie”, maar gereeld goud in eisteddfods vir klavier en klawerbord verower en graag perdry. Tans wil albei ook in ma se wiskundige voetspore volg.

“Ek kyk elke liewe dag in verwondering na hulle en nes tieners rol hulle hul oë vir my as ek hulle herinner hoe ver hulle al in die lewe gekom het. Die tweetjies besef nie eens watse wonderwerke hulle is nie.”

Danksy haar unieke ouerskapsreis is Tanja die afgelope agt jaar ook ʼn gasspreker oor premature babas vir die NWU se verpleegkundige studente.

“Hulle leer al die akademiese aspekte van prematuriteit, maar mis soms bietjie die pasiënt se kant en menslike aspekte daarvan. Mens is dikwels onkundig oor hoe spesiaal dit is om ʼn volledige en gesonde swangerskap te hê. Baie sien dit as vanselfsprekend, maar dit is eintlik ʼn groot, groot voorreg.”

Haar boodskap aan ouers wat deur soortgelyke struikelblokke gaan, is om die Here te vertrou en hanteringsmeganismes of terapie aan te pak op ʼn manier wat vir hulle as individue en ouers werk.

“Dit is nie verkeerd om vir tweede opinies te gaan as ʼn juffrou, dokter of terapeut nie met jou in sync is nie. Probeer ook om kreatief te raak met terapeutiese aktiwiteite, daar is altyd ʼn oplossing te vinde.”

Sy benadruk dat ouers ook nie hul gesin se besluite of kinders se mylpale moet vergelyk met ander nie.

“Dit gaan nie daaroor of iets reg of verkeerd is nie, maar of dit vir jou kind en jou man of vrou werk. Dis ingewikkeld genoeg om ʼn ouer te wees, moenie dit vir jouself nóg moeiliker maak nie en vertrou jou ouerhart.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Skattig en wonderbaarlik. Wat n mooi en inspirerende lewensverhaal. Sterkte vir julle toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.