Tien persone is in hegtenis geneem by ʼn gebou wat onwettig beset is in Belgravia, Jeppestown in Johannesburg.
Burgemeester Herman Mashaba het Sondag gesê die persone is Vrydag in hegtenis geneem op aanklag van opsetlike saakbeskadiging, onwettige betreding, en minagting van die hof. Die verdagtes word by Jeppestown-polisiestasie aangehou en sal Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn, het hy gesê.
“Ek is in kennis gestel dat die regmatige eienaar die gebou in 2009 gekoop het en dit aan huurders uitgehuur het wat intussen die gebou gekaap het. Die huurders het sedert 2016 geweier om die maandelikse huur te betaal,” het Mashaba verduidelik.
Die eienaar het in Maart vanjaar ʼn uitsettingsbevel bekom. Die huurders is ontruim, maar hulle het dieselfde dag nog weer gewelddadig in die gebou teruggetrek.
“Ek is dankbaar dat ons nóg ʼn eienaar kon help wie se gebou in die hande van kapers was. Altesaam 23 geboue is reeds aan die regmatige eienaars terugbesorg.”
Geboue wat onwettig beset word, is een van die grootste probleme wat die stad in die gesig staar, het hy bygevoeg. “Misdadigers moet weet dat hulle kan hardloop, maar daar is geen plek in Johannesburg waar hulle kan wegkruip nie. Ek wil lt.genl. Deliwe de Lange, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, bedank vir haar toewyding om die probleem aan te spreek en ʼn toegewyde span op die been te bring wat spesifiek onwettige besettings kan ondersoek. Ek wil mense ook aanmoedig om enige bedrog of korrupsie aan te meld by ons 24-uur-kontaksentrum by 0800 002 587.”
Hierdie is nou een man wat sy werk doen tot die beste van sy vermoë, dankie Burgermeester.
Ons waardeer u harde werk opreg Mnr die Burgermeester. Saam sal ons oorwin. Ons moet net saamstaan.
Mnr Mashaba is die regte man om die DA se leier te wees.
Goed en wel dat die burgermeester probeer om die probleem op te los. Maar waarom nog die moeite doen? Daardie plekke is so verrot dat dit jare sal neem om dit weer op te bou.
Al die plekke rondom die stad Jhb is n vuillushoop. Gaan kyk hoe lyk dit onder die brug naby die ou Kaserne afdraai wat na City Deep toe gaan. Kapers het dit ook oorgeneem, dit is iets verskrikliks. Ooral is fabrieke en kantore gekaap. Ons trots van ons stede is so besoedel dat dit eintlik n moeras geword het. Jy het baie werk mnr die Burgermeester.