11 aangekeer oor taxi-geweld in Port St Johns

Skermgreep uit Twitter-video (Video: @MavishViwe/Twitter)

Altesaam 11 verdagtes is in hegtenis geneem sedert taxi-geweld Dinsdag in Port St Johns in die Oos-Kaap uitgebreek het.

“Die persone is in aanhouding op aanklag van moord, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging, die afvuur van vuurwapens in ʼn beboude munisipale gebied en openbare geweld,” sê kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie. Hulle sal binnekort in die Port St Johns-landdroshof verskyn.

Daar is beslag gelê op 15 vuurwapens, insluitend pistole, AK47’s, haelgewere en gewere, asook 328 patrone.

Maroela Media het vroeër berig voortgesette probleme tussen taxi-verenigings in die Lusikisiki/Port St Johns-gebied het Dinsdag minstens drie mense se lewens geëis. Die twee taxi-verenigings het die oggend by die taxi-staanplek in Port St Johns op mekaar geskiet. Drie veiligheidsbeamptes van een taxi-vereniging van Lusikisiki is noodlottig gewond. Vyf ander persone van die Port St Johns-vereniging is beseer. ʼn Elfjarige seun is tydens die skietery deur ʼn opslagkoeël getref. Drie voertuie is tydens die geveg aan die brand gesteek.

“Daar is ʼn hoë getal polisiebeamptes wat in die gebied ontplooi is om stabiliteit te verseker,” het Naidu bygevoeg.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het benadruk dat die polisie en betrokke belanghebbendes in gesprek is met albei taxi-verenigings om ʼn einde te bring aan die probleme.

“Ons spanne het beduidende vordering gemaak sedert gister. Ons polisiebeamptes sal met die hoë sigbaarheid voortgaan. Ons is verbind om die veiligheid van alle inwoners en pendelaars in die gebied te verseker,” het Mene bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KB ·

Port St. Johns het ʼn “nes” geword…danksy die vrot ANC-regering.

Johann ·

Wonder watter kaders is in die “bedryf” se sakke? Eenvoudig onaantasbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.