Altesaam 11 mense is tot dusver in hegtenis geneem te midde van voortgesette betogings in die Sondagsriviervallei-gebied tussen Kirkwood en Addo, noord van Port Elizabeth.
Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het gesê sewe verdagtes is Vrydag omstreeks 10:15 in die Kirkwood-omgewing in hegtenis geneem op aanklagtes wat verband hou met openbare geweld.
“Die verdagtes het na bewering in die omgewing rondgery en werkers beveel om nie vir werk op te daag nie. Hulle het ook na bewering deelgeneem aan optredes om onwettige gedrag aan te hits,” het Swart gesê.
Die sewe verdagtes, Zwelimnandi Daniel (49), Simpelo Peter Jim (52), Aviwe Mkhululbe (21), Malwande Ngqalala (22), Cwenga Ntiska Gwebeni (21), Luvo Sithelo (27) en Zolile Ndilele (33), het Maandagoggend in die Kirkwood-landdroshof verskyn. Die saak is tot 16 Julie uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle is almal op borgtog van R500 elk vrygelaat.
Maandagoggend is nóg vier verdagtes in hegtenis geneem in verband met aanklagtes wat verband hou met openbare geweld.
Volgens Swart is dié vier verdagtes in die Addo Heights-omgewing in hegtenis geneem. Hulle het later dieselfde dag ook in die Kirkwood-landdroshof verskyn, waarna die saak tot 24 Julie uitgestel is vir verdere ondersoek.
Die verdagtes, Madlonkosi Maczu (30), Raymond Fischer (43), Elfredo Bower (34) en Andries Pienaar (55), is ook R500 borgtog elk toegestaan.
Maroela Media het vroeër berig sommige sitrusplaaswerkers van die gebied betoog al sporadies sedert voorverlede week, vermoedelik oor arbeidsverwante kwessies.
“Talle grondpaaie wat na informele nedersettings tussen Addo en Kirkwood lei, word kort-kort met voorwerpe wat aan die brand gesteek word, asook klippe en stompe versper,” het Swart gesê. “Die betogings vind nog sporadies plaas, aangesien die arbeidskwessies nog nie opgelos is nie.”
Swart het gesê die situasie is tans onder beheer. Daar is ʼn groot polisieteenwoordigheid in die gebied om die situasie aan te hou monitor. Beamptes van die polisie-eenheid vir openbare orde is ook in die gebied ontplooi.