12 voertuie in motorslaghuis gevind

Foto verskaf deur SAPD

ʼn Pa en ʼn seun en hul werknemer is in hegtenis geneem in verband met ʼn motorslaghuis in Crystal Park in Ekurhuleni.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê die drie persone sal Maandag in die Benoni-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde voertuie.

“Beamptes het Vrydagmiddag op die motorslaghuis toegeslaan waar verskeie gesteelde en gekaapte motors gevind is,” het Peters gesê.

Beamptes van Johannesburg-Oos-misdaadintelligensie, lede van die SAPD, Gautengse verkeerspolisie, Tracker Connect, privaat sekuriteit en die Versekeringsmisdaadburo het aan die operasie deelgeneem.

“Met beamptes se aankoms het ʼn werknemer met ʼn Toyota Hilux gery waarin twee enjins, waaraan daar gepeuter is, vervoer is. Die voertuig is dadelik bevestig as ʼn voertuig wat in Junie 2018 in Honeydew gesteel is.”

In die werkswinkel het die beamptes op nog 11 voertuie afgekom wat van hul onderdele gestroop is. Die voertuigmodelle het gestrek van Toyota Hilux, Isuzu tot Ford Ranger en is intussen bevestig dat dit tussen 2018 en 2020 gesteel of gekaap is in Garsfontein, Germiston, Randburg, Langlaagte, Lyttelton en Roodepoort.

Gebruikers word gemaan om waaksaam te wees wanneer hulle motoronderdele koop, veral van “goedkoop” werkswinkels, omdat dit die opbrengs kan wees van gewelddadige kapings en diefstal van motors tydens rooftogte, het lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Ek sou sê dat skrootwerf meer verwys na ‘n wettige onderneming.

capie ·

Motorslaghuis, nogal oorspronklik. Afrikaans, Engels, Nederlands en duits is egter almal Germaanse tale. Engels groei so goed omdat hulle nie skroom om woorde uit ander tale te leen nie. ‘n Taal is egter die woorde wat die mense op grondvloer praat, baie woorde word geleen. Ons taal puriste moet dus waak om woorde te skep net om dit van Engels te onderskei. Dit laat die taal belaglik lyk, soos knormoer as voorbeeld,.

Johan ·

Hoekom praat ons dan nie maar engels nie dit is mos n bastaande taal. Hulle moes ook woorde skep om iets nuuts te beskryf soos bv “chop-shop” is n woord wat eers onlangs in engels opgeneem is. Ons moet trots wees as ons taal uitgebou word.

Zombie ·

Die logiese verband tussen die doel en inhoudelike van die artikel ontbreek. Dit is ń geweldige konseptuele sprong van kriminele aktiwiteit waaroor die berig handel, na ń gepoogde, subjektiewe taallessie.
(Ek sal “duits” met ń hoofletter en “taal puris” as een woord skryf, @capie.)

Anel ·

Oulike nuwe beskrywende woord. Kon ook motorslagpale gewees het..

Zombie ·

Die “motorslagpale” sou vir my ook meer beskrywend wees.

marius ·

Mense word vermoor sodat hierdie tipe drek in weelde kan leef .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.