16-jarige getuig teen pa, nog drie oor polisiemoorde

(Argieffoto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ʼn Sestienjarige seun sal nou vir die staat getuig in die moordsaak teen sy pa en nog drie beskuldigdes wat teregstaan vir die moord op twee polisiebeamptes in Noordwes.

Benjamin Jacobs (42), Jeremiah Mongale (26), Rapulana Keikantse (25) en Matthews Modukane (20) word beskuldig van die moord op konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa (50) en sers. Mojalefa Horatius Molete (42).

Klagte van opsetlike saakbeskadiging, roof met verswarende omstandighede, die besit van ammunisie, die besit van ʼn semi-outomatiese vuurwapen, ontvoering, die besit van ammunisie om ʼn misdryf te pleeg en regsverydeling staar hulle ook in die gesig.

Die polisiebeamptes het in Julie 2021 reageer op ʼn voorval van veediefstal in Mareestane, maar het nooit weer na die polisiestasie teruggekeer nie. Volgens die polisie is ʼn soektog na die twee beamptes van stapel gestuur en hul oorskot is op 27 Julie agterin hul uitgebrande staatsvoertuig in Ganyesa gevind.

Tydens hul inhegtenisneming is een van die beamptes se vuurwapens, twee selfone en SIM-kaarte wat vernietig is en in ʼn puttoilet gegooi is, by die huis van een van die beskuldigdes gevind, sê Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes.

Die klagte teen die 16-jarige seun is intussen laat vaar.

“Hy is nou ʼn staatsgetuie en het getuig oor hoe sake ontvou het op die dag van die moord op die twee polisiebeamptes. Die vier het voorheen ʼn ooreenkoms ingedien om skuldig te pleit, wat die staat verwerp het,” sê Mamothame.

Die vier is steeds in aanhouding nadat hul vroeëre aansoek om borgtog verwerp is.

Hul regsverteenwoordigers sal na verwagting die 16-jarige in kruisondervraging neem wanneer die saak voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Reg of verkeerd. Ek sou nooit teen my pa kon getuig nie, al was hy n moordenaar. Wegloop miskien. Maar nie in die moeilikheid bring nie.

Koos 100 ·

Kudos aan die seun, asook die mense wat die bewysstukke uit die puttoilet gaan haal het!

Danie ·

Hoekom hoor ons nou eers van die polisiemoorde?Wys jou nou maar net met wie het ons te doen in veediefstalle en die staat sloer nog steeds om op te tree.Daar is genoeg bewyse teen die moordenaars straf die 16 jarige ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.