18 jaar vir sý aandeel in Vicky Terblanche-moord

Vicki Terblanche (Foto: Facebook / Lala Fourie)

Dylan Cullis, een van die mans wat teregstaan weens die moord op Vicky Terblanche van Gqeberha,  is effektief 18 jaar tronkstraf opgelê vir sy aandeel in die moord.

Cullis, ʼn vriend van Terblanche se kêrel, Reinhardt Leach, is Woensdag in die hooggeregshof in Gqeberha skuldig bevind aan moord, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Cullis sal nou as staatsgetuie in die moordverhoor van Leach en Arnold Terblanche, Vicky se vervreemde man, getuig.

Luxolo Tyali, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê Cullis is onderskeidelik 18 jaar tronkstraf opgelê vir moord, tien jaar vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar vir regsverydeling.

Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Dylan Cullis (Foto: Twitter)

Maroela Media het vroeër berig Leach en Cullis is in 2021 in hegtenis geneem kort nadat Vicki se liggaam op 23 Oktober van daardie jaar in ʼn vlak graf in ʼn oop veld in Greenbushes gevind is. Terblanche is meer as drie weke later by sy huis in Mill Park, Gqeberha, in hegtenis geneem.

Leach was ten tyde van die moord in ʼn verhouding met Vicki en het saam met haar gewoon.

Daar word beweer dat Vicki op 18 Oktober met ʼn skedule 6-medikasie bedwelm is voordat sy met ʼn kussing versmoor is. Sy is ook van verskeie items, waaronder bankkaarte, juweliersware en ʼn selfoon, beroof.

Daar is toe glo dwelms en ander verdowingsmiddels by haar huis in Newton Park “geplant” waar al die beweerde misdade plaasgevind het. Daar word beweer dat die dwelms doelbewus daar geplaas is om die indruk te wek dat Vicki ʼn oordosis dwelms geneem het.

Cullis se medebeskuldigdes verskyn weer volgende maand in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.