1,8 miljoen dossiere na speurders teruggestuur

Foto ter illustrasie (Foto verskaf deur die NVG)

Die diepliggende probleme in die Suid-Afrikaanse Polisiediens se speurdiens is besig om die strafregstelsel lam te lê.

Só sê die VF Plus nadat dit bekend geword het dat meer as 1,8 miljoen strafsake sedert 2017 nie afgehandel kon word nie weens gebrekkige dossiere.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het dié inligting bekendgemaak na aanleiding van ʼn vraag deur die VF Plus in die parlement.

Die meeste dossiere (meer as 314 000) is in die 2018-’19-boekjaar teruggestuur na speurders vir verdere ondersoek. “Afhangend van die aard van die klagte kan verdere ondersoek behels dat finansiële ouditverslae of bykomende forensiese en ballistiese bewyse bekom word, wat ʼn aanklaer uit ondervinding weet nodig is ter voorbereiding van ʼn hofsaak,” het Lamola verduidelik.

Lamola het gesê dit is belangrik vir sake om behoorlik ondersoek te word voordat die saak op die hofrol geplaas word, om te verseker die saak word nie onnodig vertraag nie en ook om die regskoste te beperk. Hy voer ook aan dat sy departement hierdeur aan die norme en standaarde vir die “uitvoering van regterlike funksies” probeer voldoen, wat onder meer aanbeveel dat beskuldigdes ʼn “reg op ʼn spoedige verhoor” het.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê egter onvolledige dossiere dra juis daartoe by dat ʼn spoedige verhoor nie kan plaasvind nie.

Hy sê die probleem word vererger deur die tekort aan speurders om hierdie sake behoorlik te ondersoek.

“Die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, het einde verlede jaar aan die polisie se parlementere portefeuljekomitee onthul dat die polisie sedert 2016 altesame 8 400 speurders verloor het.

“Die aantal speurders het van 26 000 in die 2016-’17-boekjaar afgeneem tot slegs 17 600 in Oktober 2023. Wat die situasie vererger, is dat baie van die speurders wat verlore gaan, gesoute en ervare polisielede is wat aftree of na die private sektor gelok word.”

Hy wys ook daarop dat hulpmiddels soos voertuie jaar na jaar skaarser word, met meer as ʼn kwart van die voertuie in sommige provinsies wat aan speurders toegewys is, wat onbruikbaar is.

“Hierdie syfers skep die volle omvang van die ernstige krisis in die land se polisie- en speurdiens. Dit het ʼn direkte nadelige effek op die totale strafregstelsel.”

Groenewald sê ook Suid-Afrika se moordsyfer, wat tans op 36,5 per 100 000 van die bevolking staan, is verdere bewys van hoe donker die land se misdaadprentjie lyk.

“Die algemene misdaadsyfer styg ook en Suid-Afrika raak vinnig bekend as een van die misdadigste lande ter wêreld.

“In sulke omstandighede kan daar veral nie toegelaat word dat ʼn land se speurdiens verswak soos wat die laaste jare gebeur het nie. Daar moet dringend meer speurders aangestel word en moeite moet gedoen word om ervare lede na die polisie terug te lok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack ·

Absoluut alles sal van vooraf moet aandag kry as ons eendag van die ANC ontslae is.Keuring,opleiding,plasing en veral werks etiek sal van bo na onder weer hersien moet word.

Michael ·

Onbevoegde regering = Onbevoegde polisie en so verval alles tot niks ,die is die werklike nagevolge van de klerk se nalatenskap.

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Ek het geen vertroue in die Suid-Afrikaanse kriminele regstelsel nie.

Ore ·

Die inligting dui daarop dat die betrokke ministers (ons weet wie hulle is) nie beheer het oor hulle departemente nie. Word hulle ooit aanspreeklik gehou deur die president?
Sal heel moonlik beter resultate lewer indien hulle minder tyd by hofsake, vlae en Hamas spandeer.

Di ·

Ons probleem is dat die Polisiediens “too many chiefs and not enough Indians” het!! Dit gaan orals soos. Daar is meer BASE as klaase want ANC KADERS skep net meer en meer poste vir hulle kaders om miljoene te verdien maar nie genoeg werkers om die fisiese werk te doen nie.

Linda ·

My seun is gekaap en vermoor. Die polisie doen net mooi niks. Ons is nerens meer veilig nie.

Andre ·

…geen opgeleide speurder met aspirasies vir bevordering ,sal werk vir die man met die hoed nie!

trotsNAMSA ·

Geen skryfbehoeftes, geen werkende rekenaars nie en so kan ek aangaan……
Die “Chief” is nie ‘n opgeleide speurder nie.
Speurders is daar maar GEEN OPGELEIDE speurders wat die kursusse geslaag het. Opgelet dat jongmanne en -dames speurders is ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.