20 jaar tronkstraf vir Krugerwildtuin-stroper

Terrence Patrick Makhubela is tot 20 jaar tronkstraf vir renosterstropery gevonnis. (Foto: Verskaf)

Die Skukuza-streekshof het Terrence Patrick Makhubela altesame 20 jaar tronk toe gestuur vir stroperyverwante oortredings.

Makhubela het skuld beken op aanklag van betreding in die Krugerwildtuin, die onwettige besit van ʼn vuurwapen, die besit van ’n vuurwapen om ʼn misdaad te pleeg en die onwettige besit van ammunisie.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die hof het hom ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Die vonnis spruit uit ʼn voorval op 3 Desember 2014 in die Pretoriuskop-gebied van die wildtuin waar wildbewaarders op patrollie vermoed het dat daar stropers in die omgewing is. Hulle het Makhubela in hegtenis geneem terwyl sy drie makkers ontsnap het. Verskeie koeëls is in sy besit gevind.

ʼn Verdere soektog het ʼn jaggeweer en ammunisie opgelewer, asook ʼn sak met die horing van ʼn renoster wat onlangs geslag is sowel as ʼn byl.

“Naby dié bewysstukke, het hulle ook ʼn vars renosterkarkas ontdek,” sê Nyuswa.

Makhubela is in die daaropvolgende hofsaak op borgtog vrygelaat, maar het verdwyn voor die verhoor afgehandel kon word. Hy is daarna weer aangekeer en het onskuldig gepleit.

In die hofsaak het staatsaanklaer Lot Mgiba die getuienis van veldwagters gelei, asook die uitslag van die ballistiese toetse op die vuurwapen aan die hof voorgehou. Dié toets het bevestig die jaggeweer wat by Makhubela gevind is, is gebruik om die renoster mee te skiet.

Nyuswa sê DNS-bewyse wat by die hof ingedien is, het ook die horing wat in Makhubela se besit gevind is, positief met die renosterkarkas verbind.

“Die NVG bly daartoe verbind om stroperyverwante misdade te vervolg om die vlaag renosterstropery hok te slaan.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn 37-jarige man is vandeesmaand ʼn vonnis van 12 jaar in die Skukuza-streekshof opgelê nadat hy in April 2019 in die Pretoriuskop-omgewing betrap en in hegtenis geneem is.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Moeggeploeg ·

Dit vat 10 jaar om hom skuldig te vind en te vonnis? Gee so 3 jaar dan is hy weer uit. En hy kry groter straf as dié wat moor. Lewe in SA niks werd in die oë van die reg

Frederik ·

Nee wat, met al die bewyse teen hom. Gee hom dieselfde behandeling wat die arme renoster moes verduur het. Ons kleinkinders gaan nie eers weet hoe lyk n renoster en ietermago’s nie.

Nici ·

Ek weet van mense wat ‘n baie ligter vonnis kry vir moord en verkragting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.