22 gestrande SA’ners op pad huis toe

‘n Foto van vlugtelinge se bagasie naby die Egiptiese stad Aswan ter illustrasie. (Foto: STRINGER / AFP)

Die 22 Suid-Afrikaners wat vier dae lank op ’n vragskip in ’n Egiptiese hawe vasgekeer is weens die konflik in Soedan, is uiteindelik op pad huis toe.

Die groep sal na verwagting Donderdag in Kaapstad land.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die humanitêre noodlenigingsgroep Gift of the Givers, sê die groep is Dinsdag omstreeks 18:00 toegelaat om die Safaga-hawe te verlaat nadat personeel van die Suid-Afrikaanse ambassade in Kaïro met die Egiptiese departement van buitelandse sake en nasionale veiligheidsagentskap onderhandel het.

Die groep was sedert Saterdag op die vasgemeerde vragskip gestrand terwyl hulle gewag het op  toestemming om Egipte binne te gaan en by die lughawe te kom.

Sooliman sê die toestemming is uiteindelik met behulp van die Suid-Afrikaanse ambassade toegestaan en die groep bly sedertdien in ’n plaaslike hotel.

Hulle sal na verwagting Woensdagmiddag na Kaïro vertrek waar hulle ’n vlug huiswaarts sal haal. Dié vlug van Ethiopian Airlines vertrek Donderdag vroegoggend na Kaapstad via Addis Abeba.

Die groep sal na verwagting Donderdag om 13:45 op tuisbodem land.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaners is deel van ’n groep wat sedert September verlede jaar uitgekontrakteer is om aan ’n projek in Soedan te werk. Die projek sou oor twee weke afgehandel gewees het, maar toe breek dodelike gevegte tussen strydende magte van die regering en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF) uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pampoen ·

Hoekom is dit dat Gift of the Givers die werk doen? Is ons regering bloot te sleg daarvoor?

Di ·

Die Regering geen geen belange as dit kom by die landsburgers se welvaart nie. Hulle het ander dinge wat hulle heeltyd “besig” hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.