25 vas tydens gewelddadige betogings in Kaapstad

Honderde mense neem deel aan ʼn grondbesettingsbetoging in Ou Paarlweg naby Bloekombos in Kraaifontein (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Minstens 25 persone is Maandagoggend in hegtenis geneem tydens gewelddadige betogings oor behuising en grondbesettings in en om Kaapstad. ʼn Polisiebeampte is beseer tydens die geweld.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die persone is in hegtenis geneem op aanklag van ʼn rits misdade insluitend openbare geweld en oortreding van die Wet op Rampbestuur.

Ses persone is naby Mamre in hegtenis geneem toe ʼn groep van ongeveer 200 betogers in Silverstroomweg buitebande aan die brand gesteek en polisiebeamptes met klippe bestook het. “ʼn Beampte is in die gesig getref en het beserings opgedoen.”

Twaalf persone is in Bellville aangekeer tydens gewelddadige betogings.

Die betogings spruit uit ʼn versoek van die drukgroep Gatvol Capetonian om die stad Maandag tot stilstand te dwing in opstand teen persone wat van grond verwyder word en die plaaslike owerhede se ingryping op onwettige grondbesettings.

Dan Plato, burgemeester van Stad Kaapstad, het die provinsiale polisiekommissaris versoek om die geweld te hanteer en diegene “wat vasbeslote is om wetsgehoorsame burgers te teister, te stuit”. Hy het die Wes-Kaapse polisiekommissaris skriftelik versoek om ʼn gekoördineerde reaksie te lei om inwoners te beskerm.

Die stadsraad het Maandag ook alle vullisverwyderingsdienste opgeskort uit vrees dat personeel en voertuie aangeval sou word. Dit raak ook ander gebiede, omdat personeellede sukkel om werk toe te reis.

Keeromstraat in Kaapstad se middestad, waar die Wes-Kaapse hooggeregshof geleë is, is gesluit en ʼn deel van die R300 in Kuilsrivier is ook gesluit. Peter Barlowweg tussen Robert Sobukwe en Kasselsvleiweg in Bellville is ook gesluit. Voertuie is in Robert Sobukweweg met klippe bestook.

Betogings het ook opgevlam in Heideveld op die Kaapse Vlakte en Duinefonteinweg moes tydelik gesluit word. Buitebrande is aan die brand gesteek op die kruising van Forestrylaan en die R102.

Bande is ook in Ocean View aan die brand gesteek en die pad na Kommetjie is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nienie ·

Kom Gauteng toe en voel hoe voel onbevoegde korrupte munisipalieite, Kaap het dit nog leefbaar.

LANA is ELANè ·

Ek kan glad nie hierdie tipe gedrag van wetteloosheid en vernietiging van bestaande infrastruktuur waaroor gekerm word omdat dit nie in plek is nie, met die beste wil in hierdie wêreld begryp nie.

Johan ·

Vlug,Lana,Kaap toe,ons het jou stem nodig. Jy ook,Ninie,bring jul familie saam. Dinge gaan nog rof raak daar by julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.