28 jaar later: Man wat Alison Botha red, praat openhartig ná paroolskok

Dr. Tiaan Eilerd, die man wat Alison Botha 28 jaar gelede gered het, en sy hond, Gatlin. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Dr. Tiaan Eilerd raak vir ’n oomblik stil wanneer hy aan Alison Botha se aanvallers, wat vroeër vandeesweek op parool vrygelaat is, dink. Hy erken dat hy nie moet sê wat sy aanvanklike reaksie op die nuus was nie, maar van een ding is hy seker: dit is onaanvaarbaar.

“Dit is om mense wat uiters gruwelike dade doen, terug te sit in ʼn samelewing en te verwag dat hulle daarin funksioneer. Daar is geen manier nie,” het Eilerd Donderdag aan Maroela Media gesê.

Frans du Toit en Theuns Kruger het Botha, toe 27, in die middernagtelike ure van 18 Desember 1994 wreedaardig verkrag, vermink en vir dood agtergelaat. Hulle is op Dinsdag 4 Julie vanjaar, ná byna drie dekades in die tronk, op parool vrygelaat. Hulle is aanvanklik ʼn lewenslange vonnis opgelê.

Alison Botha se aanvallers, Frans du Toit en Theuns Kruger, is vroeër vandeesweek op parool vrygelaat. (Foto: ‘I have Life’)

Dit was Eilerd wat die bebloede, beseerde en halfnaakte Botha langs die stil pad in Gqeberha aangetref het. Vir byna ʼn uur, het hy by haar gesit en waak terwyl hulle vir ʼn ambulans gewag het. Hy het selfs al die pad saam met haar na die hospitaal gery – hy wou haar nie los nie.

Daar het hy haar lewe gered, en tog, wanneer hy aan daardie nag dink, weet hy dat Botha in baie maniere sy lewe ook gered het.

Eilerd se onsteltenis oor die paroolnuus gaan gepaard met ʼn wantroue in die regstelsel, wat hy bevrees nie gebou is om misdadigers ten volle te rehabiliteer nie.

“Die groot ding wat ek besef het, is dat daar ontsaglik baie slegte mense daar buite is. Op grond van wat mense sien in die hospitale van hoe mense, veral vroue, aangerand is, kinders aangerand is, moord … besef mens die samelewing is besig om te duik.

“Meer as die helfte van die goed word nie eers gerapporteer nie. Ons het van die hoogste sterftesyfers in die wêreld, en die verkragtingsyfer is net so hoog. Dit gee vir jou ʼn aanduiding van wat in ons regstelsel, wat veronderstel is om ons te beskerm, aan die gang is.”

ʼn Lewensveranderende aand en lewenslange vriendskap

Dit is nou al byna drie dekades sedert Eilerd se paaie met Botha sʼn gekruis het.

Daar was meswonde regoor haar liggaam, haar buik was oopgesny en keel byna heeltemal afgesny toe Eilerd, toe 20, op Botha afgekom het. Haar bebloede oë het egter stip na Eilerd gestaar, ten spyte van haar gebroke liggaam, was sy nog by haar bewussyn.

Dit was haar oë wat vandag nog in sy gedagtes vassteek wanneer hy aan die voorval dink.

“Sy kon nie praat nie. Sy het baie bloed verloor en was pap,” onthou hy daardie nag.

“Deur haar in die oë te kyk was al manier om te sien of sy nog wakker is.”

Die mes waarmee Botha aangeval is. (Foto: ‘I have life’)

Botha is op 18 Desember 1994 deur Du Toit en Kruger voor haar woonstelblok in Gqeberha gekaap en ontvoer. Hulle het met haar in haar eie kar deur die strate van Gqeberha gery voordat hulle eindelik uitgery het na die Noordhoek-pad waar hulle van die pad afgetrek het.

Sy is daardie aand in die donkerte tussen bosse deur Du Toit en Kruger wreedaardig verkrag en vermink. Sy het sowat 30 steekwonde opgedoen, met ernstige beserings aan haar nek en buik.

Daar het hulle haar vir dood gelaat.

Sy het die name van haar aanvallers, Frans en Theuns, langs haar in die sand geskryf voordat sy haar denimbloes om haar buik gebind het. Haar ingewande was weens haar beserings nie meer in haar lyf nie, sy het haar bloes nodig gehad om dit vas te kon hou terwyl sy pad toe gekruip het.

Met haar ander hand moes sy haar kop stewig hou, weens haar keelwond kon sy nie haar nek beheer nie.

Daar het ʼn motor verby Botha se bebloede lyf gery, maar het nie stilgehou nie. Dit was Eilerd wat eindelik by haar gestop het, met haar gepraat het en ʼn lewenslange verbintenis daardie nag met haar gesmee het.

Eilerd het in daardie stadium saam met ʼn groep vriende van ʼn nabye nagklub teruggekeer na die karavaanpark waar hulle vakansie gehou het. Min wetend dat sy lewe daardie aand onherroeplik sou verander.

“Sjoe, nie goed nie,” onthou hy hoe sy gelyk het daardie aand, “Regtig baie sleg.”

Die ambulans is ontbied en Eilerd het langs Alison gesit en wag, haar hand stewig in syne. Hulle het deur middel van handdrukke gekommunikeer, “een druk vir ja, en twee vir nee.”

Ná byna ʼn uur, het die ambulans eindelik by die toneel aangekom, maar Eilerd wou nie haar hand laat gaan nie. Hy het saam met haar in die ambulans geklim.

“Ek dink in ʼn stadium wou ek haar nie laat gaan het nie. Jy weet nie wat verder gaan gebeur nie. Jy kon sien dat dit iets is wat nie met enigeen moet gebeur nie.”

Eilerd en Botha in later jare. (Foto: verskaf)

Eilerd se lewe het ná die voorval ʼn ander koers ingeslaan – hy het besef dat hy sy droom om ʼn dokter te word moet najaag.

Hy het in daardie stadium veeartsenykunde-tegnologie studeer, en het oorweeg om sy studies te staak. Sy keuse om ʼn totale ommeswaai in sy toekomsplanne te maak, het vir Eilerd ʼn lang, maar bevredigende pad besorg.

“Ek het onder begin,” onthou hy.

Hy het aanvanklik ʼn paramediese kursus gedoen en vir ʼn wyle as paramedikus gewerk voordat hy terug weermag toe is. Daar is hy as verpleër opgelei. Hy het ná sy tyd in die weermag oorgeslaan na kliniese tegnologie waar hy in kritieke sorg gespesialiseer het.

v.l.n.r. Melvin Humpel, die speurder wat Botha se saak hanteer het, Alison Botha en Tiaan Eilerd. (Foto: verskaf)

Hy het eindelik in die vroeë 2000’s sy mediese graad aan die Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe verwerf.

Tydens sy internskap, het hy die geleentheid gehad om tydens Botha se tweede keiser te assisteer.

“Vir iemand van wie daar nie verwag is om eendag kinders te kan hê nie, was ʼn tweede keisersnit ongelooflik. Dit was baie spesiaal.

“Ons vriendskap is nog net so sterk soos daardie eerste aand,” vertel hy.

Eilerd en sy vrou, Annette. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Wanneer Eilerd vandag aan die afgelope drie dekades dink, weet hy dat sonder Botha, sou sy lewe nie gelyk het soos wat dit vandag doen nie.

“Toe ek besluit het om medies te studeer, was dit ʼn baie lang pad om daar uit te kom, maar as dit nie vir die voorval was nie, sou ek dit seker nooit gedoen het nie. Ek sou tien teen een nie gesit het waar ek vandag sit nie, die mense ken wie ek vandag ken nie. Dinge kon heeltemal anders vir my uitgedraai het.”

“Ek het my vrou in die weermag ontmoet, ek het drie kinders wat ek tien teen een nooit sou gehad het nie. Dit het my lewe handomkeer verander.”

Bykomende bronne: Alison, I have life

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Die DKD gaan nog spyt wees oor hul besluit. Dié tipe ouens rehabiliteer nie maklik nie.

TRP ·

Ek het haar boek gelees en die grafiese besonderhede van hoe hulle haar om die beurt verkrag het en toe probeer vermoor het, laat my steeds kil. Dit is so jammer dat elke saak versillend hanteer word. Ek kan nie glo hulle is op parool vrygelaat sonder haar medewete, anders as hoeprofiel sake in ons land. Siek man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.