30 jaar tronkstraf vir renosterstroper

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Stroper is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in die Krugerwildtuin met renosterhorings betrap is.

Sidney Sibuyi is Donderdag in die Skukuza-streekhof gevonnis nadat hy skuld beken het op aanklagte van onregmatige betreding van ʼn nasionale park, die jag van drie renosters en sameswering om die misdade te pleeg.

Sibuyi is tot twee jaar tronkstraf gevonnis op die aanklag van betreding, tot 10 jaar tronkstraf op elk van die renosterjag-klagte en tot vier jaar tronkstraf vir sameswering om die misdade te pleeg. Die regter het gelas dat van die vonnisse gelyklopend uitgedien word en Sibuyi is tot effektief 30 jaar tronkstraf gevonnis.

Sibuyi en twee makkers het in September 2020 onwettig die Stolznek-gebied van die Krugerwildtuin binnegekom om renosters te jag. Veldwagters het skote gehoor en reageer waarna Sibuyi in hegtenis geneem is. Sy twee makkers kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds op vrye voet. ʼn Sak met vyf vars renosterhorings en een swaarkaliber-geweerdemper is by Sibuyi gevind. ʼn Vuurwapen en ander stropingtoerusting is ook in die omgewing gevind.

Oscar Mthimkhulu, uitvoerende bestuurder van die Krugerwildtuin, het alle rolspelers gelukgewens met die suksesvolle vervolging van Sibuyi.

“Ons is bly oor hierdie swaar vonnis wat die hof opgelê het en hoop dit sal ʼn sterk boodskap uitstuur dat wildmisdaad ʼn ernstige saak is en lewenslange gevolge het vir diegene wat hulle daaraan skuldig maak.

“Ons mandaat is om hierdie manjifieke wesens te bewaar vir toekomstige geslagte en die kwessie dat mense genadeloos drie op ʼn slag stroop, dui net aan hoe gevoelloos hierdie misdadigers is. Hulle verdien hierdie swaar vonnisse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karoo ·

dit sal moontlik nog kom… wanneer vee “bedreigde spesie” sou word.

Anel ·

Dankie, dit is goed so, maar kan ander misdade soos moord en verkragting ook sulke vonnisse kry, effektief, sonder keuse van parool op ‘n srkere tyd?

JN ·

Goed die straf is so hard vir Renoster stropery.
Skrikwekkend dat moord net 25 jaar of so werd is..

Sê maar net ·

Baie bly oor die lang tronkstraf. Hoogtyd dat dit gebeur en ‘n sterk boodskap stuur…..
Maar iets is baie verkeerd met die hele regstelsel in ons land. Wil graag weet hoe kry moordenaars, slegs tien tot vyftien jaar tronkstraf en stropers en verkragters 30 jaar? Moet moordenaars van mense, dan nie lewenslank sit nie? Vra maar net. ….

Karoo ·

Julle het die “verkeerde man” agter tralies gesit, hy is kanon voer…. onderhandel sy vryheid inruil vir die vastrek van die “King-Pin” wat die opdragte gee en die groot geld maak. Dis julle man…. nie die ou wat nou weggesit word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.