507 dae later, steeds geen geregtigheid vir vermoorde Bokgabo (4)

Klein Bokgabo Poo. (Foto: Twitter)

Dit is vandag (Donderdag) 507 dae sedert Bokgabo Poo (4) se verminkte liggaam op afsonderlike plekke in Boksburg aan die Oos-Rand gevind is. Niemand is egter al aan haar wrede moord skuldig bevind nie, onder meer weens ’n massiewe agterstand met DNS-toetsings by staatslaboratoriums.

“Dit is ’n beledigende onreg, alles as gevolg van die voortslepende DNS-agterstand wat duisende slagoffers en hul gesinne onbepaald op geregtigheid laat wag,” het Kaylynn Palm, aksiesentrumkoördineerder van die drukgroep Action Society, gesê.

Bokgabo is op 10 Oktober 2022 as vermis aangemeld nadat sy nooit van ʼn park in Wattville, Benoni, teruggekeer het nie. Daar is later op twee afsonderlike plekke op van haar liggaamsdele afgekom.

Ntokozo Khulekani Zikhali staan tereg op aanklagte van ontvoering, verkragting, moord en die skending van die vierjarige Bokgabo se liggaam. Hy was ten tyde van die moord uit op borgtog in ʼn ander saak waarin hy van die verkragting van ʼn negejarige meisie aangekla word.

Action Society sê dat die DNS-agterstandkwessie die saak egter geweldig vertraag.

“’n Groot bekommernis wat onlangs oor die DNS-agterstande opgeduik het, is die nie-nakoming van wetgewing wat vereis dat monddeppers geneem moet word van persone wat in hegtenis geneem is en van skedule 8-oortredings aangekla word,” sê Palm.

“Uit die 362 686 skedule 8-oortreders wat in die 2022-’23-boekjaar in hegtenis geneem is, is slegs 296 574 monddeppers geneem.”

Dít beteken dat in byna 20% van gevalle word dié wetgewing nie nagekom nie.

“Die werklikheid is dat hierdie agterstande, tesame met ’n databasisstelsel wat nie op datum gehou word nie, daartoe lei dat sake ‘koud’ word. Dit lei ook tot die vrylating van verdagtes wat dan nog slagoffers teiken.

“Bokgabo se moord is ’n duidelike voorbeeld hiervan. Dit is egter nie die eerste voorbeeld nie en sal ook ongelukkig nie die laaste wees indien hierdie tendens voortduur nie.”

Action Society eis dringend dat persone wat beskuldig word van skedule 8-oortredings soos moord, poging tot moord, onsedelike aanranding en verkragting, geprioritiseer word en dat die polisie se databasisse op datum gehou word.

“Meer as 80 moorde word elke dag in Suid-Afrika aangeteken, maar weens ʼn DNS-agterstand word slegs 14,5% daarvan opgelos. Dit is onaanvaarbaar dat slagoffers en hul gesinne jare sonder antwoorde van die polisie moet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Maar het ek nie gelees dat ALLE agterstande nou uitgewis is nie? Die agbare mini-ster het so iets gese!

willie ·

So waar is ons liewe Minister van Polisie? hy vertel dan vir ons dat alle misdade ens afneem, nou raak ek dom `

Marous ·

Het hy weer gelieg toe hy vertel het die agterstand is uitgewis . Die verslae le seker in die vark hok in Pretoria.

Ria ·

Dis tyd dat Cele gaan. Hy moet maar sy volgende hoed en helikopterrit self betaal.

Suzette ·

Ek het sy (BC) se bekentenis op TV gehoor dat die “agterstand uit gewis is” Die man is wragtig erger as n patalogiese leuenaar. Hy lieg so glad hy glo homself

Jillian ·

So hartseer dat so mooi land so uitmekaar val maar in tussen sit ons president en ministers orals in ander lande en probeer hulle probleme uitsorteer as hule eie land sin en so ook hulle eie mense se probleme. So jammer die polisie het jou so gevaal mooie meisiekind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.