7 710 binne drie maande in SA vermoor

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Altesaam 7 710 mense is tussen 1 Oktober 2023 en 31 Desember 2023 in Suid-Afrika vermoor. Dit is 155 meer moorde as die vorige drie maande. Dit kom neer op 83 moorde per dag.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag met die aankondiging van die derde kwartaal se misdaadsyfers gesê dit is vir hom ontstellend dat die moordsyfer met 2,1% vanaf die tweede kwartaal na die derde kwartaal gestyg het.

Kontakmisdaad – moord, aanranding en verkragting – het oor die algemeen met 1,5% gestyg.

Altesaam 911 meer aanklagte van poging tot moord en 2 931 meer aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer is gedurende die tydperk aangemeld.

Die aantal motorkapings het ook toegeneem.

Moorde in die derde kwartaal sluit in die moord op 22 polisiebeamptes, van wie 10 beamptes aan diens was toe hulle vermoor is, asook 20 moorde op plase. Drie van dié slagoffers was boere.

Ses voorvalle waartydens ʼn groep mense op een slag om die lewe gebring is, is gedurende die derde kwartaal aangemeld. Die voorvalle het grootliks bygedra tot die moordsyfer, is daar vanmiddag verduidelik.

Die minister het verder bekend gemaak dat 4 882 verdagtes gedurende die derde kwartaal in hegtenis geneem is op aanklagte van moord en poging tot moord.

Altesaam 12 van die verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op polisiebeamptes.

Wat provinsies betref, het KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat minder moorde vergeleke met die tweede kwartaal aangemeld.

Die top vyf polisiestasies waar die meeste moorde gedurende die derde kwartaal aangemeld is, is in Inanda in KwaZulu-Natal en Mfuleni, Gugulethu, Nyanga en Khayelitsha in die Wes-Kaap geleë.

Die Wes-Kaap blyk steeds die teelaarde van bendegeweld te wees, aangesien 250 van die 268 bendeverwante moorde gedurende die betrokke tydperk in dié provinsie aangemeld is.

Seksuele misdrywe

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Sowat 1,7% minder seksuele misdrywe, waaronder verkragting en seksuele aanranding, is gedurende die derde kwartaal by die polisie aangemeld.

Verkragting het spesifiek (ook met 1,7 %) afgeneem. Ses van die land se nege provinsies, waaronder Gauteng, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo, Noord-Kaap en Wes-Kaap, het almal ʼn afname in verkragtingsake aangeteken.

Die polisiestasie in Inanda – wat bekend is vir die meeste klagtes van verkragting – het 20 minder klagtes in die derde kwartaal ontvang.

Cele het egter vanmiddag gesê dit is steeds kommerwekkend dat die meerderheid van verkragtings gedurende die derde kwartaal by die slagoffer se huis plaasgevind het. “Die oortreders was óf bure óf vriende óf ʼn familielid.”

Talle verkragtings word ook bloot nie by die polisie aangemeld nie.

Altesaam 4 264 verdagtes is gedurende die tydperk in hegtenis geneem vir geslagsgebaseerde misdade soos verkragting en seksuele aanranding.

Minder transitorooftogte

Altesaam 46 gewapende transitorooftogte is vanaf begin Oktober tot einde Desember by die polisie aangemeld.

Dit is egter 11 minder transitorooftogte as die vorige drie maande.

Cele het bygevoeg dat meer as 75 gesoekte verdagtes die afgelope jaar in hegtenis geneem is in verband met transitorooftogte.

Eiendomsverwante misdaad

Eiendomsverwante misdaad het ʼn algehele afname van 2,9 % beleef.

Inbrake by nieresidensiële persele het ʼn daling van 5,9 % beleef, terwyl inbrake by residensiële persele ʼn daling van 4,4% in die aantal gevalle aangemeld het.

Sowat 2,1% minder voorvalle van veediefstal is ook volgens die minister gedurende die derde kwartaal aangemeld.

DNS-agterstand

As jy vir Cele kan glo, kon die polisie uiteindelik die agterstand in DNS-toetse opklaar. Volgens Cele is daar tans geen enkele agterstallige DNS-toets nie. Die agterstand het op 251 000 in die finansiële jaar 2021-’22 gestaan.

Cele het verduidelik dat die uitbreiding van die DNS-laboratorium in Gqeberha wat in Augustus 2023 sy deure oopgemaak het, geweldig bygedra het tot die verwerking van meer DNS-monsters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jack ·

En nog steeds sal CR hom nie in die pad steek nie.Die verskoning was altyd dat Cele die deure oophou in KZN en die kiesers bring.Nou..? MK looi die ANC so Cele kan nou maar afgedank word.Geen verdere rede om tyd en geld op hom te mors nie.KZN gaan nie deur die ANC gewen word nie.

Blikke ·

Man, die ou is trek besig en kom nie by als uit nie…jy weet hy moes ook die borgaansoek in Groblersdal bywoon om seker te maak die landros doen sy werk….ek wil nie die ou se job he nie….lyk vi my hy word te min betaal vir al die werk wat hy moet doen…kry hom eintlik jammer…

efjy ·

En dan gaan help ons regering hamas. Maar hulle weet natuurlik nie wat in RSA gebeur nie. ( of hulle gee nie ‘n flenter om nie. Lippediens en ontkenning is goed genoeg vir hulle)

Andre ·

…mens moet nie vir Cele verwar met statistieke nie; die boeremag-dinge vat al sy tyd.

Vonkprop ·

‘n Daling beteken nie dit gebeur minder nie, dit beteken net mense mors nie meer hulle tyd om dit by die polisie aan te meld nie, want niks gebeur in elk geval nie.

Marinda ·

Dit is absuluut skrikwekkend van die moordsyfers. Ons is eintlik in n oorlogsone in. Nou kuier ons regering weer in Rusland om Amerika verder te verjaag. As handelsvennoot is amerika belangriker as rusland. Ons moet eenvoudig gaan stem om n beter regering te kan hè.

Tinus ·

Die krimineel het mos meer regte as die wetsgehoorsame persoon. Dan betaal die staat hul verdediging in die hof en die saak word uitgerek en na tien jaar is daar nog geen uitslag in die saak nie. Senzo Meyiwa se saak bewys dit.

Piet 6 ·

Kom ons kry so ń bietjie perspektief:
83 moorde per dag oor ń tydperk van 3 maande.
20 moorde op plase, waarvan 3 boere was in dieselfde tyd, dit wil sê in drie maande.

Laat mens dink. Elke moord, maak nie saak waar dit gebeur nie, is te veel en moet nooit plaasvind nie.

Jacobus ·

Siud Afrika is in n dodelike oorlog gewikkel met hierdie terroristiese anc in beheer en met n onbevoegde cele as die bevelvoerder. Ja alles in kleinletters want hulle verdien niks behalwe KORRUPSIE EN MISDAAD.

Hedda ·

Ek kan maar net nie help om te wonder hoe getrou hierdie statistieke régtig is nie.

Henry ·

maar hulle is bekommerd oor Israel wat hulself verdedig.
anc moet eerder aangeklae word vir volks moord in Suid Afrika

Helgard ·

Min. Cele moenie sy kommer uitspreek nie, hy moet ook by die wêreldhof aangekla word. Hy laat dit toe, hy moet persoonlik aanspreeklik gehou word. Hy het geen idee wat om te doen nie. Dan praat Min. Ramaposa van suksesse van die ANC??

Andre ·

Interessant. Anc kerm oor Israel, maar %gewys is ons moorde baie meer as die dodetal in Palistina.

piet ·

Wat is die definisie van ‘n boer op ‘n plaas. Is dit net die boer of sluit dit sy gesin ook in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.