719 sterf reeds in Desember op paaie

(Foto: Departement van vervoer/X)

Altesame 719 mense het in die eerste drie weke van Desember al op die land se paaie gesterf, het die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, bekend gemaak.

Die departement het sy padveiligheidsplan vir die feestyd verlede maand bekend gemaak, met teikens wat vir elke provinsie gestel is om padsterftes te verminder.

  • KwaZulu-Natal: -19,8%
  • Gauteng: -35%
  • Oos-Kaap: -18,6%
  • Limpopo: -35,6%
  • Wes-Kaap: -51,8%
  • Mpumalanga: -39,7%
  • Noordwes: -40,1%
  • Vrystaat: -30%
  • Noord-Kaap: -61,9%

(Foto: Departement van vervoer/X)

Die teikens is gegrond op vorige jare se prestasies en het ook vyf voorkeurprovinsies geïdentifiseer wat verantwoordelik is vir sowat 80% van alle padsterftes elke jaar. Dié provinsies is KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Tot dusver is die Oos-Kaap egter die enigste van die vyf provinsies wat padongelukke en -sterftes kon verminder.

Só lyk padsterftes per provinsie:

  • Gauteng: 187 (+23,8%)
  • KwaZulu-Natal: 135 (-6,3%)
  • Limpopo: 88 (dieselfde as verlede jaar)
  • Mpumalanga: 81 (+6,6%)
  • Wes-Kaap: 76 (-1,3%)
  • Oos-Kaap: 59 (-41%)
  • Vrystaat: 49 (-7%)
  • Noordwes: 37 (-17,8%)
  • Noord-Kaap: 16 (-49,7%)

Die minister sê die eerste helfte van die veldtog is gekenmerk deur “roekelose wetteloosheid, onversetlike houdings en onbedagsame gedrag” van motoriste. Duisende boetes is uitgereik, met die meeste wat opgelê is vir spoedoortredings, motoriste wat nie hul veiligheidsgordels dra nie, bestuur sonder ʼn rybewys, ongelisensieerde voertuie en gladde bande.

Sindisiwe Chikunga, minister van vervoer. (Foto: X)

“Ons begin ʼn neiging sien wat kommer wek terwyl ons die tweede helfte van ons veldtog ingaan. Die komende dae gaan veral uitdagend wees weens buitengewoon lang naweke oor die Kers- en Nuwejaarvakansie.”

Botsings was tot dusver 0,8% minder in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, met ʼn daling van 4,3% in sterftes.

Die meeste ongelukke vind tussen 19:00 en 20:00 plaas, gevolg deur 22:00 tot middernag en dan weer in die vroeë oggendure tussen 01:00 en 02:00.

(Foto: Departement van vervoer/X)

Die minister sê ʼn nuwe verskynsel is ongelukke tussen 09:00 en 11:00 op “ongewone dae soos Maandae en Dinsdae”.

Sy sê padongelukke en die gepaardgaande lewensverlies of ernstige beserings leer ons ook ʼn waardevolle lewensles: “Die lewe van ander op die pad maak saak en dit is belangrik dat ons roekelose en selfsugtige gedrag op die pad vermy omdat ons optrede heel waarskynlik onskuldige lewens kan kos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.