750/7: Die Anker-kolwers gaan oorboord in lopiefees

Matthew Smith het 241 lopies teen Spring Boys’ High geslaan. Foto: Verskaf.

Kolwers poer-poer nie meer in wedstryde wat oor 50 boulbeurte beslis word nie. Wie wil nou ʼn aflewering verdedig as jy die bouler onder kwaai druk met ʼn omgekeerde mokerveeghou kan plaas?

In 2006 het die Proteas byvoorbeeld meer as 430 lopies vir ʼn oorwinning teen Australië op die Wanderers aangeteken, terwyl Engeland in Junie 498/4 teen Nederland op ʼn klein veld in Amstelveen geslaan het.

Maar die onlangse vertoning van Hoërskool Die Anker se eerste krieketspan teen Springs Boys’ High is ongetwyfeld die kersie op die lopieslaankoek.

Die Brakpan-skool het teen 15 lopies per boulbeurt met die wilgerlat laat waai om ʼn allemintige 750/7 in hul toegelate 50 boulbeurte aan te teken.

Matthew Smith (241 van 76 aflewerings) en Joshua Kaltwasser (168 van 80 aflwerings) het ʼn vennootskap van 354 lopies geniet, waarna Quinton Mamayo (5/10) en Jaco Jansen van Vuuren (5/34) korte mette met die Springs-kolwers gemaak het om hulle vir slegs 52 lopies uit te knikker.

Om ʼn lang storie kort te maak: Die Anker wen die eensydige wedstryd met ʼn ongelooflike 698 lopies!

“Reguit oor die bouler se kop,” is Smith se doodeerlike antwoord toe hy oor sy gunstelinghou uitgevra is.

En die jong kolwer het beslis kans gehad om sy houe-repertoire ordentlik uit te stal. Hy het met sy 18 viere en 22 sesse die wind behoorlik uit Springs se seile gehaal.

“Hul boulwerk was eintlik redelik oukei gewees, maar ek het seker gemaak dat ek behoorlik munt uit ʼn swak aflewering slaan.”

Die skool het intussen ʼn bietjie speurwerk gedoen om te kyk of Smith en Kie ʼn lopierekord losgeslaan het. Krieket is dan een van die min spansportsoorte waar individuele vaardighede ʼn besliste invloed op die wedstryd kan hê.

In Indië het ʼn 15-jarige leerder van KC Ghandi High School in 2016 die eerste kolwer geword om 1 000 lopies in ʼn beurt aan te teken, maar dit was egter in ʼn meerdaagse wedstryd en nie een wat oor 50 boulbeurte beslis is nie.

Benewens sy spogbeurt is Smith ook trots op sy spanmaats se merkwaardige vertoning.

“Te danke aan ons openingskolwers wat ʼn stewige grondslag gelê het, kon ek en Josh met baie meer vryheid kolf. Ek is baie trots en dankbaar dat ons ʼn bydrae tot die span se uitstekende prestasie kon maak.”

Hy vertel dat sy krieketstorie reeds op ʼn jong ouderdom begin het. Hy het mini-krieket in graad een gespeel en so saam met sy bewese kolfvaardighede is hy ook ʼn goeie wegbreekbouler.

“Ek wil baie graag eendag professionele krieket speel.”

Maar vir eers wil hy saam met Die Anker se ander jong krieketsterre toesien dat die skool die liga wen; hul nettolopietempo moes sekerlik ʼn hengse hupstoot ná die Springs-wedstryd gekry het.

  • In hul jongste wedstryd het hulle vir Alberton met 225 lopies geklop. Kaltwasser het 93 lopies gemoker, terwyl Smith met ’n boulontleding van 3/13 spog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hennie ·

Kies die mannetjies vir die 5 dag toetse. Ons kort sulke spelers.

Vonny ·

Matthew jou yster. Ons het jou hulp nodig by die Proteas.
ASB

Witbaard ·

Kies hulle dadelik vir die Proteas. Hoop vd Dussen en Markram lees dit (en kry skaam)

Hendrik ·

Baie geluk aan die manne.
Dit moet egter ook in perspektief gesien word in die liga waarin hulle speel. Hulle speel nie in die hoogste liga van hulle streek nie omrede hulle nie goed genoeg is om te kan meeding nie. Inteendeel sal die spanne in die hoogste liga van die streek hulle waarksynlik uihaal vir onder 100 lopies.

Willem ·

Stem ten volle saam met Hendrik. Laat die manne in die hoër skole liga speel en dieselfde lopies aan teken dan kan julle begin praat oor Protea span.

Corne123 ·

Daar is n afrikaanse seding wat lui hulle het n – pakslae gekry

Dewald ·

Wel gedaan aan hierdie knap seuns, wat duidelik oor sakke vol talent beskik.

Ek dink egter dat die ongelooflike eensydige uitslag (waar dit duidelik nie n krag teen krag wedstryd is nie), doen niks goed vir die selfvertroue van die seuns aan die verloor kant nie. Dit doen ook niks goed vir die seuns aan die wen kant nie – wat op hulle ouderdom nog leer van toewyding, deursettingsvermoe en hard oefen.

Henkb ·

Mooi, dit was teen die blinde skool. Laat ons sien teen ñ sterker span….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.