77 beseer toe busse omslaan

Die twee busse het vroeg Dinsdagoggend gebots. (Foto: The Transport Guy/Twitter)

Nagenoeg 77 mense is Dinsdagoggend beseer nadat twee busse in Aucklandpark, naby die Universiteit van Johannesburg (UJ), gebots het.

Een van die busse was op pad na die universiteit om studente af te laai.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê paramedici is kort voor 08:00 na Kingswaylaan ontbied.

“Een van die busse het op die sykant oor die breedte van die pad gelê en die ander bus het teen ʼn betonstruktuur gebots,” sê hy.

Die Johannesburgse brandweer het met behulp van hidrouliese toerusting talle passasiers uit die busse gehaal, terwyl nooddienste ʼn prioriteitsbepaling gedoen het om vas te stel watter pasiënte dadelik behandeling benodig.

Paramedici van Emer-G-Med, asook ER24 en verskeie ander nooddienste, het die tientalle pasiënte behandel wat ernstig beseer is.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê hierdie pasiënte is van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hulle na verskeie hospitale geneem is vir verdere behandeling.

Die res van die pasiënte is behandel vir geringe tot ernstige beserings.

“Geen sterftes is aangemeld nie,” sê Meiring.

Herman Esterhuizen, mediaverhoudingsbestuurder by UJ, sê na verneem word, was 19 van die beseerdes studente aan UJ.

“Drie van die studente is na ʼn hospitaal geneem en die res ontvang tans berading op kampus,” sê hy.

“Dit is betreurenswaardig dat van ons studente tydens die ongeluk beseer is. Die universiteit sal alles moontlik doen om te verseker dat die studente die nodige mediese behandeling en berading ontvang.”

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

UJ het ook onderneem om saam met die betrokke owerhede te werk om die oorsaak en aard van die gebeure vanoggend vas te stel.

Die polisie help intussen om verkeer in die gebied te herlei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.