80% van Gauteng se gesondheidverskaffers nie betyds betaal

Foto ter illustrasie. (Foto: Josh Appel/Unsplash)

Ten spyte van die belofte om betalings aan verskaffers te verbeter, betaal die Gautengse gesondheidsdepartement steeds nie 80% van sy verskaffers betyds nie.

Dié gegewens spruit uit die departement se vierde kwartaalverslag wat onlangs in die Gautengse wetgewer ter tafel gelê is. Hierdie tendens is geskoei op betalings wat tussen Januarie en Maart vanjaar gedoen is.

Volgens die verslag is slegs sowat 5 500 van die departement se meer as 26 000 verskaffers (20,6%) binne 30 dae betaal.

“Hierdie swak uitkoms is te wyte aan betalingsuitsonderings wat laat opgelos word as gevolg van ʼn verskeidenheid goed soos ongeldige aankoopbestellings, prys-/hoeveelheidsverskille in fakture en kwessies tussen die tesourie en verskaffers wat betalings vertraag,” sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Gauteng.

Vroeër vanjaar het dit aan die lig gekom dat die departement R3,1 miljard aan meer as 42 000 verskaffers skuld.

“Laat betalings is verwoestend vir klein ondernemings, aangesien hierdie ondernemings dan werkers moet afdank of hul deure sluit,” sê Bloom.

“Sommige maatskappye weier nou om hul dienste/produkte aan die departement te verskaf totdat hulle betaal word. Dit is een van die redes waarom hospitale se basiese voedselitems vir pasiënte, insluitend brood, opraak. Pasiënte ly die meeste onder al hierdie toevoeronderbrekings.”

Volgens Bloom moet die nuwe departementshoof, dr. Nomonde Nolutshungu, so vinnig moontlik die finansiële bestuur verbeter sodat alle verskaffers betyds betaal kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Verby met Doris Day . Die vernietiging sal nooit herstel word deur die bewoners van hierdie gehug nie .

Marius ·

Wanbetaling is ‘n algemene probleem met die staatsdepartemente.

Johann ·

En so gaan die kaders dit deurtrek na hulle NGV. ALMAL bankrot kry. Soos die ANC.

Jack ·

So gaan die diefstal maar voort hetsy direk of weens bevoordeling. Mahala is al wat in die land werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.