813 dae onskuldig agter tralies; nou moet minister betaal

(Argieffoto: SA Polisie)

Deur Tania Broughton, GroundUp

ʼn Man wat ʼn kaper doodgeskiet het, het meer as twee jaar onnodig agter tralies gesit omdat die polisie getuienis weerhou het dat die man uit noodweer opgetree het.

Waarnemende regter Irene de Vos het die minister van polisie vandeesweek in die Johannesburgse hooggeregshof beveel om Ntokozo Patrick Xulu altesame R2,6 miljoen te betaal vir onregmatige inhegtenisneming en aanhouding.

Xulu is 813 dae lank aangehou ná ʼn kapingspoging en gewapende rooftog buite sy huis. Hy het een van die kapers in die voorval doodgeskiet.

Xulu is in hegtenis geneem terwyl hy op pad was na ʼn plaaslike polisiestasie om die voorval aan te meld. Die polisie het hom voorgekeer en hy het gesê dat hy iemand geskiet het. Hy het ook sy gelisensieerde vuurwapen aan die beampte gewys. Hoewel hy deurlopend volgehou het dat hy uit selfverdediging opgetree het, is hy in hegtenis geneem en twee aande in die polisieselle aangehou voor hy in die hof verskyn het.

Hy is borgtog geweier en was tot sy verhoor in aanhouding.

Xulu sê hoewel hy in opdrag van die staatsaanklaer in aanhouding was, was sy skadevergoedingseis teen die polisie omdat die ondersoekbeampte sy verdediging doelbewus weerhou het.

De Vos het beaam dat Xulu herhaaldelik aan die polisie gesê het dat hy uit selfverdediging opgetree het. Die aanklaer was egter onbewus daarvan dat die persoon wat aangekla word, ʼn slagoffer van die aanval was en opgetree het om sy eie lewe te beskerm.

Hy het ook terwyl hy in aanhouding was sy weergawe aan “enigiemand wat wou luister” vertel.

“Ek het vir hulle gesê, maar niemand wou na my luister nie. Ek was die slagoffer van die misdaad, maar hulle het my soos die misdadiger behandel,” het Xulu gesê.

Volgens De Vos het dit mettertyd duidelik geword dat die kapingspoging plaasgevind het toe Xulu van die werk tuisgekom het. Die buurt waar hy gewoon het, was gevaarlik en toe die kapers toeslaan, het hy ʼn waarskuwingskoot afgevuur. Hy het daarna na een van die kapers geskiet en toe in die rigting van die Hillbrow-polisiestasie gery om die voorval aan te meld.

“As hy van die toneel wou vlug, het hy nie baie goeie werk gedoen nie. Hy moes in ʼn heel ander rigting gegaan het,” het De Vos gesê.

“Sy weergawe is tydens die moordverhoor aanvaar. Sy verduideliking van die aanval en die waarskuwingskote wat hy afgevuur het, is bevestig deur objektiewe bewyse in die vorm van patroondoppies wat op die toneel gevind is en ballistiese verslae.”

Die polisiebeamptes het ontken dat Xulu beweer het hy het uit selfverdediging opgetree. Bewyse, in die vorm van ʼn dekbrief wat ʼn week nadat hy in hegtenis geneem is, gestuur is vir toetsing van die patroondoppies, het egter die teendeel bewys. Die bevelvoerder van misdaadondersoeke in Hillbrow het die datum en tyd van die oortreding opgemerk en gesê dat ʼn kaper “op heterdaad” geskiet is.

De Vos het bevind dat dit onwaarskynlik is dat Xulu nie die polisie sou vertel het dat hy uit selfverdediging opgetree het nie.

“Die polisie se weergawe is onwaarskynlik,” het sy gesê.

Die regter het gesê die ondersoekbeampte is gevra hoekom hy nie die aanklaer van Xulu se verdediging ingelig het nie.

“Sy verstommende antwoord was dat selfs al is hy [daaroor ingelig], was dit nie sy plig om dit aan die aanklaer te verduidelik nie,” het sy gesê.

“Dit is strydig met ons wetgewing. Hy het sy openbare plig versuim.”

Die aanklaer, wat in Xulu se skadevergoedingseis getuig het, het gesê as sy van die verweer ingelig was, sou sy die saak anders benader het.

Voorts het die polisie se optrede die landdros verhoed om ʼn ingeligte besluit oor Xulu se borgtogaansoek te neem.

Rakende die uitwerking wat onregmatige inhegtenisneming op Xulu se lewe gehad het, het De Vos bevind dat diegene daarby betrokke dit nie eens oorweeg het nie.

“Die polisie het nie net sy getuienis weerhou nie, hulle het ʼn slordige ondersoek gedoen en dit vir maande aaneen vertraag sonder enige redelike verduideliking.

“Dit was die eerste keer in sy lewe dat Xulu in hegtenis geneem is. Sy aanhouding het hom geskok en getraumatiseer. Hy het verduidelik van die min kos wat hy ontvang het, die aanrandings wat hy van ander gevangenes moes verduur en die vrees waarin hy geleef het terwyl hy aangehou is.

“Sy jongste dogter, wat op hom staatgemaak het vir ʼn mediese fonds, is mediese sorg geweier, wat sy gees gebreek het.

“Hy het in konstante vrees vir bendes geleef. Hy het ʼn gewelddadige bakleiery vrygespring deur onder sy bed weg te kruip. Hy dra steeds die litteken op sy gesig weens hierdie geveg. Dit blyk dat hy ʼn emosionele ineenstorting gehad het. Hy het verduidelik dat hy honger, bang en koud was. Hy het meer as twee jaar van sy lewe verloor.”

Die regter het die minister opdrag gegee om die skadevergoeding en die koste van die aansoek te betaal.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Peetjie ·

Goed so… Dis tyd dat die publiek èrnstíg opgeneem word – veral in selfverdiging situasies

SwartBees ·

En dan wil mense hê die doodstraf moet terug gebring word…..dink net hoeveel onskuldige mense sal dan sterf? Hierdie is n voorbeeld van een persoon wat deur ons reg stelsel ingedoen is.

Bolandse Nooi ·

Presies!!!!!!!!!!!!! 100% … Nee, 10 000% reg!!!!!!!!!!!!!

Kobus ·

Nee liewe leser, dis nie die minister wat moet opdok nie, dis ons, die belastingbetaler wat vir die chaos moet opdok

bolletjie blom ·

Dit is jammer dat ons belasting betaler vir ander se foute moet betaal.

Piet Snot ·

‘n Wyse man het eenkeer gesê ʼn land verdien die regering wat hy ingestem het.

Raadsman ·

Die betrokke polisie beamptes is waar ons eerste probleem le. Hulle neem reg in eie hand en moet aan die pen ry, nie net die minister nie. Dit gebeur te veel elke dag dat hulle mag misbruik.

Sê maar net ·

Stem 100% saam, want hý kom skotvry hiervan af!! Baie onregverdi.g!!

Marcello ·

Jy is korrek, ek weet van so ‘n geval waar ‘n Ma in hegtenis geneem is sonder bewyse, 3 daie in die Polisie selle spandeer het, oor ‘n valse klagte van aanranding van haar kind, sy was nie eers naby hom op daardie staduim nie………………………..

Pierre ·

Die betrokke polisie beamptes en staats aanklaer moet ook in persoon gedagvaar word.

Piet Snot ·

Waarom die staatsaanklaer? Het jy nie die berig gelees nie, Pierre?

OU SAAR ·

Almal wat betrokke was by die arme man se lot moet gedagvaar word. Hy moet sommer siviele eise met koste teen elke “polisieman” en “regsgeleerdes” wat betrokke was by sy onregmatige aanhouding instel.
Regtig, dis verregaande dat onskuldige mense moet boet en ly onder misdaad omdat 90% van die polisiemag en wetsgeleerdes onbevoeg en korrup is…

Harley Davidson ·

Onbevoegdheid heers in die piesang Republiek van Suid-Afrika PRSA.

Jacobus ·

Die misdadigers en moordenaars het meer regte as wetsgehoorsame burgers in hierdie lamd.

Astrain ·

Hy moet baie, baie meer geld betaal word as 2.6m – dit moes hel gewees het!

marius ·

Nou moet die belastingbetaler opdok . Waarom nie die polisieman in persoonlike hoedanigheid nie ?

CHRISTINE ·

Die polisie is mos daar om die ANC ‘VIP’ kaders te beskerm. Wie is die publiek in die ANC Suid Afrika??
O en die belastingbetalers? Hulle word landuit gedwing.

Sue ·

Dit is allerverskriklik. Hy verdien baie meer as dit om so behandel te word.

Johan ·

Ek gun die man skadevergoeding van R2.6m, maar WEER EENS word belastingbetalers se geld vermors weens slapgattige onbevoegdheid! En WEER EENS sal daar geen ootrede teen die treurige ondersoekbeampte wees nie. Maar nou ja, n snoek vrot mos van sy kop af en WEER EENS sal die onbevoegde minister net verder onbevoegd voort ploeter!

Mnr De Beer ·

R2.6 Miljoen rand vir 813 dae onskuldig in die tronk is hopeloos te min.

Herpiet ·

Die slagoffer het 10 teen 1 die “poliesman” se vriend doodgeskiet… daarom die moedswilligheid

Hannelie ·

Weereens die POLISIE. Hulle het baie onbevoegde mense. Die ondersoekbeampte van die Polisie moet ook aangekla word.

ES ·

Daardie polisiemanne moet sommer ook aangekla word omdat hulle versuim het om hul plig te doen soos wat van hulle verwag word. Dit is tyd dat daar van hulle voorbeelde gemaak word.

Roek ·

As sy regs span hul sout werd is sal hulle nou die kommesaris en Bekkie in hul peroonlikheid dagvaar asook naamskending as ‘n krimminele saak ook !

Daizee ·

R2,6 miljoen??!!! Jammer maar vir meer as 2 jaar onskuldig agter tralies a.g.v. ‘n moedswillige polisieman is dié bedrag vir my ‘n belediging!!!!

Anel ·

Nogal jammer dat die ondersoekbeampte nie in sy persoonlike hoedanigheid gedagvaar word nie. Hoeveel sulke sake is daar nie nog nie? En wat het van die res van die kapers geword? Saak seker nooit verder ondersoek nie! Nou moet ons, die belastingbetaler die skuld betaal. En daar is nie meer geld nie!!!!

Hendrik ·

Dis nonsens hierdie – dis nie die miniter wat betaal nie, dis ons as belastingbetalers wat betaal. Hou mense aanspreeklik vir hulle dade. Laat die skuldige individue die boete uit hulle eie sakke betaal. Verkoop hulle bates en trek 50% van hulle inkomste per maand af tot die skuld betaal is.

Johan ·

100% Akkoord Hendrik, maar ongelukkig sal dit nie onder hierdie bewind gebeur nie. Daar was nog altyd in die SAP se begroting geld vir eise teen die SAP vir verkeerde optredes soos in hierdie geval. Ek wonder net hoeveel was daardie begroting 30jr gelede en hoeveel is dit nou…

Karoo ·

Hoekom word ‘n CEO en bv.’ n Trustee persoonlik aanspreeklik gehou maar as jy vir die staat werk dan moet die belasting betaler weer opdok? Ek weet…. want die staat kan nie die “boete” betaal nie maar ons moet die “goue eiers” le.

Sê maar net ·

Die arme man! Wat ‘n patetiese hantering van hierdie saak. Hy en sy gesin behoort nou op staatsonkoste, trauma berading ook te kry!!

Nonnie ·

NOG ‘N BEWYS DAT ONS KASTIGE ‘POLISIE’ ‘N VERVLAKSTE KRIMINELE ORGANISASIE IS !!!!

Meinung ·

Skokkend, skokkend! Ek is só bly meneer Xulu kry vergoeding! Die volgende het betrekking: (1) Die “belastingbetaler” sal seker die geld moet voorsien. Waarom gee die hof nie opdrag dat die minister in sy *persoonlike hoedanigheid* daarvoor moet instaan nie? (2) Net so vir die betrokke polisielede; hulle moet sáám met die minister in hulle *persoonlike hoedanigheid* vir die eis instaan. Ek sou sê dit moet 80:20 verdeel word. Die minister kan ook nie instaan vir die idiotisme van die polisielede nie. As sulke polisielede (en álle ander amptenare wat stommiteite aanvang) sélf moet betaal vir hulle onregverdige optrede, sal dit baie vinnig verminder. Hulle moet wéét hulle sal betaal as hulle nie binne die wet optree nie. (3) Dit klink of daar ‘n geweldige mate van diskommunikasie was. Waarom is die saak nie lankal opgelos nie? Waarom is daar nie vinniger ondersoek ingestel na die Xulu se verweer nie?

Jennifer ·

Die polisie het te veel mag en gemeng met onobjektiwiteit is dit ‘n baie gevaarlike kruising.
Een polisie man kan iemand se lewe vernietig.
Dit gaan nie verander, die massas hou dinge soos dit is en dat dit nie kan verander met hul stemmery.
Ons enigste uitweg is om pad te gee en dit is deur ons self af te sonder op ons eie onafhanklike soewereine gebied deur ons konstitusionele reg uit oefen om af te stig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.