9-jarige glo aangerand: Saak weens ‘veiligheid’ geskuif

hof-hamer

Argieffoto.

Die saak teen twee mans van Bronkhorstspruit wat daarvan beskuldig word dat hulle na bewering ʼn negejarige meisie aan ʼn boom vasgemaak, haar aangerand en geskiet het, sal weens veiligheidsredes na die streekshof in Pretoria oorgeplaas word.

Jacobus Potgieter (34), ʼn boer, en Heinrich Dumas (48), ʼn plaasbestuurder, het Dinsdag weer in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn. Die twee word aangekla van poging tot moord, ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die onwettige rig van ʼn vuurwapen.

Hul borgtogaansoeke is aanvanklik geweier, maar hulle het op 19 Oktober verlede jaar suksesvol teen dié uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria geappelleer.

Die staat het Dinsdag versoek dat die saak na die streekshof in Pretoria oorgeplaas word. Landdros David Shikwambana het aan die ouers van die beweerde slagoffer gesê die aansoek vir oorplasing na ʼn ander hof is weens die chaos wat op 14 November voor die Bronkhorstspruit-landdroshof plaasgevind het.

Op die betrokke dag moes polisiebeamptes rubberkoeëls afvuur om ʼn groep betogers uitmekaar te jaag wat begin het om klippe te gooi nadat hulle ingelig is dat borgtog aan die beskuldigdes toegestaan is.

“Die realiteit en praktiese redes is dat daar probleme was rondom sekuriteit. Dit is daarom dat die staat die aansoek gebring het dat die saak na die streekshof oorgeplaas word,” het Shikwambana gesê. Hy het gesê hofeiendom is beskadig en sommige mense wat by die hof werk is tydens die betoging beseer.

Die saak sal op 20 Maart in die streekshof in Pretoria aangehoor word.

Maroela Media het vroeër berig Potgieter en Dumas is op 10 September verlede jaar in hegtenis geneem nadat hulle die vorige dag glo ’n negejarige meisie van die nabygeleë informele nedersetting aan ’n boom vasgebind, geklap, ’n vuurwapen teen haar kop gedruk en skote op haar, haar boetie en nog ’n seun afgevuur het.

Konst. Peter Machebe, die ondersoekbeampte, het tydens die twee beskuldigdes se borgtogaansoek getuig dat die meisie saam met die twee seuns en hul honde gaan stap het. Die honde het voëls gejaag en die kinders is agterna – in Potgieter se omheinde plaas in.

Daar is toe glo op hulle geskiet en die kinders het weggehardloop. Die meisie is egter gevang.

Potgieter het getuig dat hulle gereeld probleme met onwettige jagters op die plaas het. Toe hy dus mense op ’n koppie in ’n omheinde gebied sien, het hy Dumas gebel om te kom help.

Hy het op pad daarheen drie honde teëgekom wat hy met ’n skoot in die grond verjaag het. Dit het die mense op die koppie laat hardloop, maar Dumas het die meisie gevang en na die plaashuis geneem. Die meisie het glo erken dat sy en die ander daar was om springbokke te jag.

Sy is glo gewaarsku om dit nie weer te doen nie en laat gaan. Die landdros het destyds toegegee dat die meisie se beserings nie ernstig voorkom nie en dat die staat sekere van die klagtes moeilik gaan bewys.

Lees alle vorige berigte oor Jacobus Potgieter en Heinrich Dumas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
MAGDA

Wat die 2 mans gedoen het is verkeerd en hulle sal hulle straf moet vat maar ek dink ook die hele storie is bietjie uit verband geru en ek kan hulle frustrasie op daai oomblik verstaan. Hulle het nie net onskuldig gaan stap nie, sy het erken hulle het gegaan om springbokke te jag. Ek bly self op ‘n plaas en ons het baie skade met onwettige jagters. Wens ek kon fotos opsit van die verminkte diere dan sal sommige mense dalk meer begrip he. Die diere wat so gejag word word lewendig verskeur en baie ly voordat hulle uiteindelik… Lees meer »

Flip Pretorius

Kan die mense tog nie dink nie, hel die land is op n mespunt dan kom twee witmans en doen dit. Dink tog n biekie aan ons land ook en ons kinders se toekoms. As hulle skuldig is straf hulle

Pop

N negejarige wat geen sagte plek het vir diere nie?? Wat met honde jag???. Wat gaan word, wonder ek. Is dit hoe jong kinders optree.?

Retha

Stem heeltemaal saam..n kind van 9 wat met honde jag is beslis self nie self so onskuldig hier nie

SjN

Die opdrag om onwettig te jag is aan die minderjariges gegee deur volwassenes tot hul voordeel aangesien hul weet die kinders sal slegs op waarskuwing vrygelaat word as die gereg sou optree, hoop geregtigheid geskied.