96 dae in hospitaal ná ‘vlamme-nagmerrie’, maar pa bly veg

Herman Putter en sy vrou, Daleen (Foto: Verskaf)

Vir 96 dae al veg Hermann Putter om sy lewe.

Dié 64-jarige pa van Vanderbijlpark het ná ʼn fratsongeluk ernstige tweede- en derdegraadse brandwonde oor sy hele lyf opgedoen.

Herman Putter het in September besluit om ʼn kartonboks vir ʼn TV te verbrand, eerder as om dit weg te gooi, nadat daar weke tevore by die gesin se huis ingebreek en talle van hul waardevolle besittings gesteel is.

“My pa wou nie hê die boewe moet sien dat hulle ʼn nuwe televisie gekry het nie en het besluit om eerder die boks te verbrand,” vertel sy dogter, Bernadine Muller (30).

“Hy het die Sondagoggend omstreeks 09:00 brandspiritus op die boks gegooi, maar dit wou nie vlamvat nie. Hy is toe na die motorhuis, waarna hy ʼn bietjie petrol oor die boks gegooi en dit aan die brand gesteek het.”

Sy sê die brandspiritus en petrol het binne sekondes ʼn reusevuur veroorsaak en haar pa het ook aan die brand geslaan.

“Hy was heeltemal in vlamme. My ma het hom tussendeur die skok probeer help, maar hy het net vir haar geskree ‘los my vrou, jy gaan brand’, terwyl hy in vlamme gehul was.”

Putter se vrou, Daleen (62), het dadelik die bure om hulp geroep. Die buurman en sy seun was oomblikke later daar en het gehelp om die vlamme, wat later na ander plekke op die erf versprei het, te blus.

Die ongelukstoneel (Foto: Verskaf)

“Hulle het dadelik met my pa na die Cormed-hospitaal in Vanderbijlpark gejaag. Hy is met kleefplastiek en foelie bedek om die vog van die blase regoor sy lyf binne te hou.”

Putter is later dieselfde dag na die Netcare Alberton-hospitaal se brandeenheid oorgeplaas waar hy nou al langer as drie maande in die intensiewesorgeenheid in ʼn kritieke toestand lê. In hierdie tyd moes hy talle terugslae in die hospitaal oorkom.

Vele terugslae

Muller hou elke dag boek van haar pa se toestand en sê hy kan nie praat of loop nie; “hy kan nie eens eet of drink nie, hy word binneaars gevoed en as hy dors is, kry hy ys oor sy lippe”.

“My pa moes die afgelope drie maande baie hindernisse te bowe kom. Drie dae ná die voorval het hy ons vir ʼn tweede keer baie groot laat skrik. Die dokters moes sy longe uitpomp omdat daar vog op sy longe was. Hy moes ʼn paar weke terug ook ʼn noodoperasie ondergaan waartydens sy kolon verwyder is.

“Hy is baie swak en baie siek. Hy moet die heeltyd teen virusse en infeksies baklei, hy moet gereelde bloedoortappings kry, hy moes dialise kry om sy niere te ondersteun weens al die medisyne wat hy moet drink. Hy het ook ʼn infeksie in sy keel gekry weens die trageotomie in sy lugpyp wat hom help om asem te haal,” sê Muller.

Foto: Verskaf)

Woensdag het Putter sy 29ste operasie binne net drie maande ondergaan en tans veg hy teen bloeding in sy organe. In September het hy ʼn veloorplanting gekry, maar net dae later het dokters besef dat sy liggaam die vel verwerp het.

“Hy het intussen weer veloorplantings ondergaan en gaan weer vir ʼn veloorplantingsoperasie moet gaan. Die dokters sê hulle gaan dit nou eerder stukkie vir stukkie doen om seker te maak dat sy liggaam nie die vel weer verwerp nie.

“As hy gesond word, sal hy na ʼn rehabilitasiesentrum toe moet gaan om weer van vooraf te leer loop en hy sal ʼn spraakterapeut moet kry om weer te leer praat,” sê Muller.

Sy vertel dat hulle nou al vir 14 naweke, elke naweek, ry om by hom te gaan kuier.

“Elke keer voor ek sy hospitaalkamer instap, bid ek eers. Dit is regtig vir my die verskriklikste ervaring om my pa so te sien. Om hom daar te sien lê met al die masjiene wat om hom piep, al die verpleegsters en naalde…

“Hy is kwesbaar. Hy kan niks doen nie. Hy kan nie praat nie, hy het ʼn  masjien wat hom help om asem te haal, dit is regtig nie lekker. Ons huil elke dag, en ek huil elke liewe keer as ek by sy hospitaalkamer uitstap.”

Dit het die gesin met ʼn gevoel van hopeloosheid gelaat.

“As hy net kon praat om vir ons te verduidelik waar dit seer is, of vir ons kan sê hoe hy voel, dan sou ons hom dalk kon help… maar hy kan nie. Hy wys vir ons as sy maag seer is en partykeer lyk dit of hy met ons wil gesels, maar ons verstaan nie wat hy probeer sê nie.”

Hoop op wonderwerk

Soms wens sy dat sy haar pa se pyn net vir paar uur kan wegvat en op haarself neem, mymer Muller.

“Ek wil net hê hy moet vir paar ure sonder pyn wees. Ek wens net ek kan al sy infeksies vat en dit in ʼn asblik gooi en vir my pa sê dat hy oukei gaan wees.

“Ons kan nie wag vir die dag wanneer hy uit die hospitaal ontslaan word nie. Ons besef dat daar baie rehabilitasie voorlê, maar ons kan nie wag dat dit begin nie. Ons wil net hê hy moet buite gevaar wees. Ons wil net hê hy moet weer tussen ons wees, waar hy hoort,” sê Muller.

(Foto: Verskaf)

Bowenal kan hulle nie wag om net weer sy stem te hoor nie.

“Dit is nou al drie maande wat ons nie sy stem kan hoor nie.

“My pa baklei elke minuut van die dag om hier te wees. Hy is in ongelooflik baie pyn, maar hy baklei vir sy vrou, sy dogters, en om te sien hoe sy kleinkinders grootword.

“Ons is ʼn baie hegte gesin. Ek en my sussie, Marcia (35), sal enigiets vir ons ouers doen. Ons is altyd daar vir mekaar. Ons is ongelooflik lief vir mekaar.

“My pa is die gom in ons familie. Hy is die sjef in die huis, die een wat altyd grappe maak. Hy is ons steunpilaar. Hy moet bly veg, hy mag nie opgee nie, ons het hom nog so nodig.”

(Foto: Verskaf)

Muller sê die gesin weet die pad vorentoe is lank, maar hulle bly bid vir wonderwerke.

Die mediese rekeninge bly ook instroom en Putter se dogters het ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om hul ouers te help.

“Ons wil nie hê ons ouers moet hierdie las ook nog oral saam met hulle ronddra nie. Ons wil net hê hulle moet fokus om my pa weer gesond en terug by die huis te kry.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ai ……….. bitter hartseer. Maar, wonder ek, watter soort lewe sal dié man hê ás hy gesond word? Is ons nie selfsugtig as ons mense op allerlei maniere aan die lewe hou nie? Immter tog, sterkte aan die gesin.

Delia ·

Tragies. Sjoe. Petrol, vuurhoutjies…glad nie n kombinasie
Skenk eerder kartonne vir herwinning.

Karoo ·

Hermann, jy het ‘n lelike ding oorgekom en dit om iets anders te verhoed, vasbyt ou maat, sterkte aan die Putter familie en vriende.

Martie Smartie ·

@Bolandse nooi. Daardie tipe opmerking en argument is vir ‘n ander dag. Wat wil jy hê moet sy geliefdes doen? Vra dat die dokters hom laat dood gaan? Nee a, dis ‘n pa en man en steunpilaar wat platgeslaan is. Ons moet almal vir hom bid en nie kom met onvanpaste idees nie, asb.

Koen ·

Kan nie glo wat mense aanvang nie. Soak ‘n boks in petrol en parrafien en steek dit aan die brand in ‘n garage. Dom of slim. Besluit maar self.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.