Aanrandingsaak: ‘Malema en Ndlozi toon geen berou’

Julius Malema en Mbuyiseni Ndlozi (regs) buite die hof (Foto: EFF/Twitter)

Die verhoor van EFF-leier Julius Malema en EFF-LP Mbuyiseni Ndlozi op klagte van aanranding op SAPD-kolonel Johannes Venter het Vrydag in die Randburg‑landdroshof hervat.

Die voorval het in 2018 by Winnie Mandela se begrafnis plaasgevind nadat die beskuldigdes se voertuig deur Venter gestop is. Die beskuldigdes het toe die voertuig verlaat en Venter na bewering aangerand. Kringtelevisie-beeldmateriaal van die voorval is wyd versprei in die media.

Ndlozi het Vrydag in die saak getuig. Hy het erken hy het Venter gestamp en aangevoer dat hy en Malema se regte vertrap is toe hulle ’n geliefde wou gaan begrawe. Volgens Ndlozi was die bedoeling om te verseker dat Venter hulle nie keer om die terrein binne te gaan om die begrafnis by te woon nie.

Malema het aan verslaggewers buite die hof gesê dat hy en Ndlozi vol vertroue is dat die hof in hul guns sal beslis. Hy voer aan dat hy en Ndlozi Venter gestamp het uit selfverdediging. “Ons het ons reg op waardigheid verdedig. Ons het ons reg om te rou verdedig,” het hy gesê.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, meen egter Malema en Ndlozi se getuienis het bewys dat hulle geen berou het vir hul optrede nie. “Die SAPD se enigste rol is om die gemeenskap te beskerm en prominente politici moet aanspreeklik gehou word indien hulle nie hierdie rol respekteer nie. AfriForum sal voortgaan om vir geregtigheid in hierdie saak te staan.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum tree ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak op en het betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik nie die beskuldigdes wou vervolg nie. Nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n skrywe aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) gerig het, het die NVG wel besluit om die saak te vervolg.

Die verdediging het vroeër ’n artikel 174‑aansoek gebring na afsluiting van die staat se saak om die beskuldigdes vry te spreek op grond van onvoldoende bewyse. Hierdie aansoek is egter deur die hof geweier omdat die hof gevind het dat daar wel prima facie‑bewys van aanranding was waarop geantwoord moes word.

Die verhoor is tot 29 September uitgestel vir die opstel van finale betoë waarna die hof ook uitspraak gaan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Piet 6 ·

Waarom die saak nou weer vir 3 maande uitstel? Die voorval was al in 2018!

Althes ·

As Afriforum nie tot hierdie saak toegetree het nie, het die arme kolonel geen regte gehad nie.
Malema en Kie se arrogansie lê in die sekerheid dat instansies en die regering se broeke vir hul bewe.

miche ·

Ek het nogal gewonder hoekom is Die Uwe so stil deesdae…
Hy gaan seker nou hergroepeer en terugslaan met ‘n “bang”.

Peter ·

Niks met waardigheid of geliefde te doen nie, die klagte is aanranding Julius jou rubbish

Magda G ·

Mos kroonwild en kan doen wat hulle wil. Van uitstel kom afstel

Karlahari ·

As jy die film “The Untouchables” kyk, het die mafia nie goed daarvan afgekom nie.
Kom ons vertrou dieselfde gebeur hier

Harley Davidson ·

Vergelyk hierdie saak nou met die Groblersdal man en sien hoe onregverdig is die gereg in Suid Afrika.

JM ·

Hierdie kaartmannetjie verbeel hom mos hy het gearriveer en hy is bo die wet verhewe. Hoog tyd dat hy in die bek geruk word.

Kobus ·

Hulle is beslis besig met emosionele afpersing. Hulle is nou die “slagoffers” want hulle “waardigheid”, “regte vertrap” afskeid van ‘n geliefde vrou” en dat hulle hulself teen die SAPD lid verdedig het. Nee wat, hulle gaan met ‘n glimlag wegstap.

SjN ·

Hoekom weer uitstel, Al die bewyse is reeds in hul besit, regstelsel raak n grap vir sekere kaders.

Samuel ·

Die hof is seker te bang vir die EFF. Malema en kie is mos na bewering vriende met CR en Hoedman.

@n0Niem77 ·

Nou ja Corrie en die ander wat uitegtart word deur gepeupel…hier is dit nou. Juliaaas se woorde: “Ons het ons reg op waardigheid verdedig. Ons het ons reg om te rou verdedig,”

Ek hoop ons regters en magistrate neem kennis van die woorde. Verder kan jy nie meer die skaal eenkant toe oordeel nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.