Aansoek om verlof tot appèl in SEB-noodfondssaak

(Argieffoto)

Solidariteit en AfriForum het vandag aansoek om verlof tot appèl in hul onderskeie sake teen die departement van toerisme in die Pretoriase hooggeregshof beteken. Dit volg nadat hierdie departement vroeër bekendgemaak het dat hy noodfondse vir ondernemings in dié bedryf wat deur die Covid-19-krisis geraak word onderhewig aan rassemaatstawwe sal toedeel.

Solidariteit voer aan dat die regering ʼn verantwoordelikheid teenoor alle burgers in die land het en dat dit waansinnig en immoreel van die regering is om aan te dring dat hy ʼn reg het om te mag diskrimineer.

“Dit is verregaande dat noodfondse op so ʼn wyse toegedeel word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Ons praat nie hier van subsidies of steun nie. Ons praat van ʼn regering wat ʼn bedryf tot op sy knieë dwing met ʼn lomp en skadelike inperking en wat dan besluit dat net eienaars wat aan ʼn sekere rassegroep behoort toegang tot noodfondse mag hê.”

AfriForum wys daarop dat die Covid-19-krisis die regering se ware kleure en rasgedrewe doelstellings ontbloot het, wat meebring dat minderhede opnuut sal moet besin oor maniere om na hulself en mekaar om te sien te midde van die vyandigheid van ʼn regering wat beslis nie na alle burgers se belange wil omsien nie, selfs nie in ʼn krisistyd nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die appèlaansoek maar net die begin van ʼn regsproses wat AfriForum bereid is om uiteindelik tot in die hoogste hof in die land en selfs internasionaal te voer. “Dit is belangrik dat regsekerheid verkry word of dit wel so is dat terwyl minderhede se regte reeds so ondergeskik in die huidige grondwetlike bedeling gestel word, daar selfs tydens ʼn noodsituasie blatant teen minderhede gediskrimineer kan word,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adam Adriaan ·

En wat gaan die regering doen as al die ondernemings in blanke besit, betaling van belasting opskort? Dit in Solidariteit (Helpmekaar fonds )se fonds stort. Dit klink na ‘n ryn gedagte. Dan sal ‘n mens die regering se rumoer hoor!!!! Dit is onwettig . Dit is rasisme!! ens!!!! Gal braak sal aan die orde van die dag wees.

Anoniem ·

Die opskorting van belasting deur die Blankes is virseker ‘n briljante idee.

Althes ·

Wat die ANC nie besef nie,is dat menseregte die afgelope dekades meer prominent geword het – so hul visie en missie is ‘outdated’ , ongrondwetlik, diskriminerend en rassisties.
Dat ñ hof in hul guns beslis het, laat my kop in geloof skud.

Ettienne ·

Die uitslag van hierdie aansoek van verlof tot appel mag miskien wys tot watter mate die regsbank steeds polities onafhanklik is…

donsie ·

ek is self een van daardie blanke besigheids eienaars, maar ek gaan nie eers doe moeite doen om aansoek te doen nie, ek gaan maar net eenvoudig my besigheid toe maak, my mense pakkette gee terwyl ek nog ‘n paar rand het om hulle uit te betaal,
wanneer alles weer rustig is dan sal ek my besigheid weer oopmaak, beslis nie weer vir belasting registreer nie so daar gaan hulle inkomste.
waarom nou nog appelleer, die geld is in elkgeval klaar uitgegee, al beslis die hof nou dat ons blankes ook kan toelae kry DAAR IS NIKS MEER OOR OM UIT TE DEEL NIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.