Aanvaar WhatsApp-bepalings of geen meer toegang

(Foto: pixabay)

Die gewilde boodskapdiens WhatsApp het sy nagenoeg twee miljard gebruikers Donderdag gevra om nuwe bepalings te aanvaar wat hom gaan toelaat om meer inligting met sy moedermaatskappy Facebook te deel en advertensies en e-handel daarby in te sluit.

Die bywerking het groot kritiek onder gebruikers uitgelok omdat hulle die bepalings moet aanvaar of toekyk hoe toegang tot die diens – wat ook geënkripteerde stem- en video-oproepe insluit – van 8 Februarie opgeskort word.

Facebook beoog om WhatsApp te gebruik om inkomste te verdien deur ondernemings toe te laat om sy klante via die platform te kontak en produkte selfs regstreeks aan hulle te verkoop soos wat reeds in Indië die geval is.

“Privaatheidsbeleid en die bywerking van bepalings is algemeen in die bedryf en ons gee gebruikers oorgenoeg tyd om die veranderings, wat op 8 Februarie in werking tree, te hersien,” het ʼn woordvoerder van Facebook gesê.

“Alle gebruikers moet die nuwe diensbepalings aanvaar as hulle wil voortgaan om WhatsApp te gebruik.”

Die maatskappy sê die bygewerkte bepalings gaan beteken WhatsApp kan bykomende inligting met Facebook en sy ander apps soos Instagram en Messenger deel. Dit sluit in kontakte en profielinligting, maar nie die inhoud van boodskappe nie. Dit bly steeds geënkripteerd.

In die Europese Unie (EU) en Engeland laat die nuwe bepalings net die ontwikkeling van funksionaliteit vir beroepsgebruikers van WhatsApp Business toe.

Sommige kenners waarsku egter die bywerking is nie wettig nie.

“As die enigste manier om die verandering te weier is om op te hou om WhatsApp te gebruik, word die toestemming afgedwing omdat die gebruik van persoonlike data onwettig is,” het Arthur Messaud, ʼn prokureur vir La Quadrature du Net, gesê. Die organisasie beskerm die regte van internetgebruikers.

Facebook is onder toenemende druk van regulatoriese owerhede terwyl hy probeer om sy dienste te integreer.

Die EU het die Amerikaanse sosialemediareus vroeër met €110 miljoen (sowat R2 miljard) beboet omdat hy verkeerde en misleidende inligting oor sy 2014-oorname van WhatsApp – wat betref die vermoë om rekeninge tussen die dienste met mekaar te verbind – verskaf het.

Federale en staatsreguleerders in die VSA het Facebook ook daarvan beskuldig dat hy sy verkryging van WhatsApp en Instagram gebruik om mededinging uit die weg te ruim en het ʼn antitrustgeding teen die maatskappy aanhangig gemaak met die doel om Facebook te dwing om daarvan ontslae te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.