Aarto se toekoms in gedrang ná hoof trekpas kry

(RTIA/Twitter)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê die opskorting van die kontrak van die uitvoerende hoof van die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) laat vrae ontstaan oor die toekoms van Aarto.

Die aankondiging deur die RTIA aan die einde van Oktober oor die beëindiging van die indiensnemingskontrak van sy voormalige uitvoerende hoof laat ernstige vrae ontstaan oor die toekoms van die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto). Die AA sê in die lig van die beëindiging van Japh Chuwe se kontrak moet alle pogings om Aarto in werking te stel, opgeskort word en die Aarto-wet moet teruggetrek word.

Die AA het verlede week die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer skriftelik versoek om Aarto op te skort; die RTIA te ontbind en duidelikheid te verskaf waarom Chuwe se kontrak beëindig is.

Die RTIA het in ʼn verklaring op 29 Oktober aangekondig dat sy raad van direkteure Chuwe se kontrak beëindig het “ná bevindings van ʼn dissiplinêre proses as gevolg van die uitslag van ʼn ondersoek deur ʼn onafhanklike maatskappy van forensiese ondersoekbeamptes”. Die raad het gesê dié ondersoek spruit uit “die 2019/2020 oudit-bevindings van die ouditeur-generaal en fluitjieblaser-berigte oor bewerings van ernstige wanadministrasie deur die registrateur/uitvoerende hoof (mnr. Chuwe) en ander senior amptenare”.

Die AA sê Chuwe was byna 15 jaar lank in diens by die RTIA, aanvanklik as senior bestuurder en later vanaf 2010 as registrateur/uitvoerende hoof tot en met sy afdanking. Hy was óf self verantwoordelik of baie nou betrokke by:

  • die aanloop tot en inwerkingstelling van die Aarto-loodsprojek wat in 2008 van stapel gestuur is wat ongeveer ʼn 18 maande periode sou wees;
  • die mislukking van die Aarto-loodsprojek en die onverklaarbare vertragings in terugvoer oor en hersiening van die proses;
  • die misbruik van die proses en minagting van die Aarto-wet wat tot ʼn regsbevinding teen die RTIA in die Fines 4 U-hofsaak in die Pretoriase hooggeregshof gelei het;
  • die hersiening van die Aarto-wet wat beskerming en administratiewe regverdigheid as kern van Aarto verwyder het en verdere komplikasies veroorsaak het; en
  • die teenstrydige en inkomste-georiënteerde hersiening van Aarto-regulasies insluitend die instelling van die boeteheffing en hersiening aan skedule 3 wat onregverdig is – veral teen diegene wat vir ʼn lewe voertuie bestuur.

“Die versuim van die RTIA om ʼn regverdige, gelyke en doeltreffende verkeersoortredingstelsel in te stel kan dus primêr voor Chuwe se deur gelê word. Onder sy leiding was die organisasie wanfunksioneel, nie in staat om Aarto in te stel nie en ook nie om Aarto te administreer nie,” het die AA in sy skrywe aan die parlementêre komitee gesê.

Die AA sê die minister van vervoer moet dus die Aarto-wet terugtrek, die RTIA ontbind en die toepassing van verkeersoortredings intussen direk onder die beskerming van die Wet op Strafregtelike Prosedure plaas.

“Die besonderhede oor redes waarom Chuwe afgedank is, moet ook ten volle bekendgemaak word insluitend alle belangrike datums en gebeure; die randwaarde of enige finansiële verliese wat die RTIA gely het en indien enige verliese gely is, watter stappe die regering gaan doen om die verliese op te maak. Die prosesse wat van stapel gestuur is oor ander ‘senior bestuurders’ moet ook bekendgemaak word.”

Die AA het vroeër gesê hy ondersteun die instelling van ʼn puntestelsel, maar is besorg dat huidige regulasies eerder gemik is op inkomste, as wat dit padveiligheid gaan verseker.

“Die tyd het aangebreek dat die parlement padveiligheid bó profyt stel. ʼn Beduidende stap in dié rigting sal wees om die instelling van die huidige Aarto-wet op te skort en bekend te maak waarom Chuwe afgedank is. Suid-Afrikaners het ʼn reg om te weet waarom ʼn uitvoerende hoof van ʼn belangrike instelling soos die RTIA afgedank word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Yvonne ·

Ai is daar dan nou wraggies niks wat nie besoedel is deur onregmatigheid nie??

Piet ·

Ek dink nie hierdie is ‘n goeie stelsel nie. Jy het geen kans om saak in ‘n hof te stel nie. Invordering word gedoen deur een-of-ander administratiewe maatskappy en daar besluit hulle of jy skuldig is of nie. Wil of kan nie jou vertoe verstaan nie.

Marius ·

Ek neem aan die wet kom ook van Europa af , want daar werk dit goed. Hou net in gedagte dat daar nie taxis in Europa is soos in SA nie. Die mense wat daar ry is baie meer wetsgehoorsaam as die meeste mense in SA. In SA gaan alles oor geld en niks oor veiligheid nie.

Kokerboom ·

Wys asb net vir my EEN ding wat ANC regime in 27 jaar tot stand gebring het? Waarom verdra ons die skande?

Pieter ·

Wat stel jy voor doen “ons”. Verder afbrand en plunder?

Waarnemer ·

Alles wat die ANC en hul kaders aanpak is n bedrogspul en n gemors,hopelik val die tolkwessie ook nou tot n einde noudat OUTA die hofsaak gewen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.