ActionSA begin met regstappe oor Ezulweni-skikking

Argieffoto van ActionSA. (Foto: ActionSA)

ActionSA het amptelik met regstappe begin om inligting te bekom oor die skikking wat die ANC met die maatskappy Ezulweni Investments bereik het, om die party se R102 miljoen skuld te delg vir verkiesingsbaniere wat hy in 2019 laat maak het. Die regstappe behels ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan die ANC om die betrokke skikkingsooreenkoms te bekom.

Dié aansoek is bykomend tot die skriftelike versoek wat die party verlede week aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gerig het waarin die partye die kommissie versoek om die ooreenkoms  ingevolge artikel 14 van die Wet op Partyfinansiering te ondersoek.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, sê egter die party het geen twyfel dat sy Paia-aansoek deur die ANC geïgnoreer sal word nie.

“ActionSA sal hierdie regsproses voortsit so lank as wat dit moet neem omdat daar nie bloot van Suid-Afrikaners verwag kan word om ʼn blinde geloof te hê in die ANC se belofte dat die skikking wettig was nie.

“Die ANC was nog ses maande gelede nie in staat om werknemers buite hul kantore te betaal nie en skielik verander hierdie prentjie in Desember na ʼn party wat nege-syfer-skuld kan delg en agt-syfer-stadionbyeenkomste kan aanbied. Suid-Afrikaners ken die ANC beter as om dit op sigwaarde te aanvaar,” sê Beaumont.

ActionSA het ʼn sterk vermoede dat die ANC moontlik die bepalings van die Wet op die Finansiering van Politieke Partye oortree het om die skuld te delg.

Nog géén inligting rakende die aard van die skikking is bekend gemaak sedert daar in Desember aangekondig is dat ʼn skikking buite die hof bereik is nie.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het die party in Januarie aangeraai om die kantoor van die ANC se tesourier-generaal te nader om duidelikheid oor die saak te kry.

“Dit is redelik eenvoudig. Dit is ʼn vereffening van skuld. Dus, diegene wat daarna wil kyk, kan dit doen – as hulle wil,” het die president toe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Seef ·

Wat help dit tog alles? Net weer klomp liegstories en mors van tyd en geld.

JohanR ·

Die ANC het nog amper drie maande oor vir al hulle verkiesing truuks! As hulle soe kan lieg net na die opbou na ‘n verkiesing wat doen hulle nie buite ‘n verkiesing nie?

Seef ·

Sê my asseblief of dit net ek is maar ek loop deesdae met ‘n wrewelrige woede binne my teenoor almal wat skelm, agterbaks, eiegeregtig, korrup is en boonop nog openlik loop en lieg ook. Ek voel ons moet begin iets doen i.p.v net altyd praat. Massa optrede, weerhouding van belastings of iets.

Casper ·

Seef,ek weet nie waar jy werk nie maar ek weet werkgewers trek belasting van jou salaris af,so hoe gaan jy belasting weerhou.As jy nie jou belatingopgawe indien nie het jy moeilikheid of so iets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.