Adam Young veilig tuis, Skotties op pad

Adam, Nyala en Isla kort nadat hulle in Egipte herenig het. (Foto: Verskaf)

Adam Young, die Suid-Afrikaner wat twee weke gelede in oorloggeteisterde Soedan agtergebly het om sy gesin se honde op ʼn vlug na Suid-Afrika te kry, het ’n kort rukkie gelede in Gqeberha geland en is met sy vrou en kinders herenig.

Die gesin se geliefde twee Skotse terriërs, Nyala en Isla, is kort op sy hakke.

Die twee hondekinders sal ná middernag op ’n vlug uit Egipte na Suid-Afrika vertrek en teen Vrydagoggend in Johannesburg land.

Nyala en Isla sal egter ’n week in kwarantyn moet deurbring voordat hulle ook met hul gesin kan herenig.

“Die kinders is uit hulle velle en los Adam nie vir ’n oomblik alleen nie,” het Young se vrou, Ilse Young, kort ná sy tuiskoms aan Maroela Media gesê.

Ilse, Adam, hul driejarige tweeling, Duncan en Isabella, en Nyala en Isla het in Khartoem gewoon toe gevegte verlede maand in groot dele van Soedan uitgebreek het.

Die gesin moes nes duisende ander mense die moeilike besluit neem om eerder na hul tuisland terug te keer en kon ʼn bus van Khartoem na Aswan, ʼn stad in die suide van Egipte, haal, maar moes noodgedwonge hul honde agterlaat.

Daar is toe gereël dat die twee honde in twee kratte op ʼn ander bus gelaai word. Maar toe die honde in hul kratte op die Egiptiese grens agtergelaat word, het die gesin die besluit geneem dat Adam sou agterbly en Ilse en die kinders na Suid-Afrika sou vlieg.

Adam het Nyala en Isla op die grens opgespoor en sy weg tot in Kaïro gevind.

Dit is hier waar hy egter die afgelope week moes wag op klaring aangesien die Egiptiese owerhede aanvanklik geweier het om die permitaansoek vir die twee Skotse terriërs sonder bloedtoetse te verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Monique ·

Ek vind dit vreemd dat ek meer bekommerd was oor die honde as die mense.

agnes ·

Dit is fantastiese positieve nuus. Bly vir Hulle almal inklusief hul hondekinders

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.