Administrasie dreig vir sukkelende Ekurhuleni

Ekurhuleni-argieffoto (Foto: ActionSA)

Die Ekurhuleni-metro kan dalk onder administrasie geplaas word oor sy power finansiële situasie. Eskom se jongste onthulling oor hoeveel dié munisipaliteit hom skuld, is dalk net die finale spyker in sy doodskis.

Só waarsku ActionSA, wat verlede week ʼn dringende mosie gesteun het om die metro se finansiële situasie te bespreek.

Die speaker het egter die mosie van die hand gewys. Die besluit is glo geneem om die metro se burgemeesterskomiteelid vir finansies te beskerm, wat volgens ActionSA die rede is vir die metro se finansiële ineenstorting.

Siyanda Makhubo, ActionSA se koukusleier in Ekurhuleni, sê die metro skuld altesame R4 miljard aan sy krediteure. Dit sluit in R1,5 miljard aan Eskom, R2,5 miljard aan uitgekontrakteerde arbeid, R174 miljoen aan Rand Water en R117 miljoen aan die Ekurhuleni Water Care Company (ERWAT).

“Versuim om hierdie verpligtinge na te kom, veroorsaak die risiko dat Ekurhuleni vir die eerste keer onder administrasie geplaas word,” sê hy.

ActionSA het ʼn brief aan die speaker gerig en gevra dat ʼn spesiale raadsvergadering belê word sodat die stand van sake aan inwoners verduidelik word.

“Die burgemeester moet aan die inwoners van Ekurhuleni verduidelik hoekom hulle die metro met hul belastinggeld moet vertrou wanneer die metro versuim om sy finansiële verpligtinge na te kom,” sê Makhubo.

“ActionSA dring daarop aan dat die burgemeester, die burgemeesterskomiteelid vir finansies en die stadsbestuurder toegee dat die metro se huidige bestuur van die finansies en meganismes wat deur die ANC-EFF-koalisie ingestel is, nie werk nie.

“Dit is duidelik dat ʼn ingrypende verandering in hierdie metro nodig is en die enigste manier wat dit kan gebeur, is as die huidige koalisie verwyder en vervang word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.