Adrio König het ‘hart vir moeilike vrae’ gehad

Prof. Adrio König (86). (Foto: Verskaf)

Prof. Adrio König, gerespekteerde teoloog en skrywer, is Woensdag dood. Hy was 86 jaar oud.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê König het ʼn besonderse gawe gehad om soms moeilike, abstrakte en teologiese begrippe vir gewone lidmate toeganklik te maak. “Hy het ʼn hart gehad vir die moeilike vrae in lidmate se lewens en het dit op ʼn baie verruimende wyse vir mense verstaanbaar gemaak.

“Hy het ook met sy vinger op die pols van gewone lidmate geleef,” sê Claassen.

Volgens hom was König ʼn uitstekende prediker en was sy dagboek dikwels ver vooruit bespreek, veral vir Pinksterreekse. “Hy was ʼn baie goeie en ʼn sterk prediker.”

In sy eie gemeente, Kerksondermure in Centurion, het hy ook deurlopend wonderlike bydraes gelewer, veral rakende die doop. “Sy doopgesprekke vir ouerpare was ongelooflik verrykend.

“Hy was ʼn besonderse mens en ʼn baie goeie akademikus,” sê Claassen.

König was tot sy dood by die Kerksondermure-gemeente betrokke en was veral aktief by die Bybelskool en doop. Hy is bestempel as ʼn man “wat ʼn manier gehad het om dinge te doen en te sê”.

Jean Oosthuizen, verslaggewer en ʼn voormalige nuusredakteur van Kerkbode, het König in sekere opsigte as ʼn “vreemde teoloog” bestempel wat in sy leeftyd as liberaal én konserwatief ervaar is.

“Adrio König sal onder meer onthou word as ʼn teoloog wat sterk standpunt ingeneem het teen apartheid toe baie ander teoloë in die NG Kerk huiwerig was om dit te doen. Hy sal ook onthou word vir sy dapper en akkommoderende uitsprake oor homoseksualiteit,” het Oosthuizen op Facebook geskryf.

Sy skryf ook dat sommige van sy uitsprake en boeke beteken het dat hy veral in sy jonger dae in die NG Kerk as “liberaal” beskou is.

“Daar was egter ook ʼn vreemde teenstrydigheid in König se teologie. Oor sommige ander sake soos Jesus se opstanding en ander kwessies was hy uiters behoudend. Dit was veral sy betrokkenheid by die erg behoudende Evangeliese Inisiatief in ongeveer 2007 wat hom in die konserwatiewe kamp van die NG Kerk laat beland het.

“Hy was egter ʼn teoloog wat hom deur niemand in ʼn kamp wou laat jaag nie en ʼn uiters gedugte teologiese redenaar – of ʼn mens met sy teologie saamgestem het of nie.”

König was ʼn oudprofessor in sistematiese teologie aan Unisa en skrywer of redakteur van boeke wat volgens Kerkbode insluit Kyk, Ek kom gou! (1974), Hier is Ek! Gelowig nagedink oor God (1) en Jesus die Laaste: Gelowig nagedink oor die Einde (2) (1975), God, waarom lyk die wêreld so?, Die helfte is my nooit oor Jesus vertel nie, Fokus op 300 geloofsvrae, Die groot geloofskommentaar, asook Paulus, Geloofskatte uit Psalms en Geloofskatte uit die Evangelies.

  • ʼn Gedenkdiens vir König word Maandag 25 Julie om 11:00 by Kerksondermure in Hippolaan, Centurion, gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Wat ‘n groot verlies vir die Christelike geloofsgemeenskap. Rus in vrede.

Henry ·

Ek is juis besig om sy boek oor Openbaring te lees. Inigste simpstie.

OW ·

Een van die teologiese swaargewigte wat SA gehad het.Lees en bestudeer enige van sy werke en die waarheid sal soos die lig na vore kom.Sy kaliber kom net eenkeer in ‘n leeftyd voor.Rus in vrede oom Adrio.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.