Afgedankte Jiba eis nie meer pos terug

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Adv. Nomgcobo Jiba, wat vroeër deur pres. Cyril Ramaphosa afgedank is, beywer haar nie meer om haar pos in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) terug te kry nie.

ʼn Kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van oudregter Yvonne Mokgoro het in April bevind dat Jiba en Lawrence Mrwebi, spesiale direkteur van openbare vervolgings, albei deur pres. Cyril Ramaphosa uit hul poste ontslaan moet word. Hulle is daarna die trekpas gegee.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het hierna met ʼn proses begin om te besluit of Jiba en Mrwebi in hul poste heraangestel moet word.

Jiba het haar tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend om die parlementêre proses te keer en om weer in haar pos aangestel te word. Die hof het haar aansoek met koste van die hand gewys.

Adv. Nomgcobo Jiba.. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Jiba het Donderdag aan die speaker van die nasionale vergadering, Thandi Modise, geskryf dat sy nie meer vra vir ʼn heraanstelling nie en dat die redes hiervoor persoonlik van aard is.

Die parlement het in ʼn verklaring gesê Jiba het haar dank uitgespreek oor die manier waarop die parlement die situasie hanteer het.

“Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste en die staande komitee oor veiligheid en justisie sal nadat die kwessie oorweeg is, terugvoer aan die huis gee met inagneming van adv. Jiba se brief.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Nou toe Nou!Die wolkombers is nou weer skoon! Daar wag dalk ‘n goeie possie in Denemarke of miskien in Japan – net die tyd sal leer!?

Daan Erasmus ·

Sy is seker ‘n ambassadeurs pos iewers aangebied. Of dalk voel sy dat sy die perfekte Public Protector kan wees. Niks skok my meer nie

Willem Grobler ·

Ja-nee, daar was beslis twyfel of die spul ANC rowers in die parlement van haar ontslae sou raak en dit sou darem bitterlik sleg gelyk het. Of hoe? So my mening is dat daar saggies in haar oor gefluister is om in die belang van die “movement” bietjie opsy te staan totdat hulle haar na ‘n ander pos kan ontplooi.

Doris ·

Ek dink dit was tyd dat hulle van haar ontslae geraak het. Sy self het nie baie aandag gegee aan sake wat aandag moes kry nie. Dit was makliker vir haar om sake gesluit te kry. Ek dink dit is hoogtyd om van al die vrot appels in die Regstelsel ontslae te raak. Daar is nog baie van hulle wat daar sit en die stoele warm hou. Plaas mense in die poste wat die werk kan doen en wil doen. Regstelsel daar is baie sake wat weer aandag moet kry wat gesluit is.

JohanR ·

Praat van pos. Daar moet ‘n opening by een of ander poskantoor wees? Sy kan al die briewe en pakkies stempel. Die vrou behoort eintlik in die tronk, vir al die lewens wat sy verwoes het oor baie jare!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.