Afgetrede katamaran-vervaardiger in huis vermoor

Duncan Lethbridge (Foto: Instagram)

’n Bejaarde man is gisteraand dood nadat hy, sy vrou en die egpaar se huishulp in hul huis in St. Francisbaai in die Oos-Kaap oorval, vasgebind en aangerand is.

Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, het die oorledene as die 76-jarige Duncan Lethbridge geïdentifiseer. Lethbridge is ʼn afgetrede katamaran-vervaardiger en voormalige bedryfshoof van die maatskappy St. Francis Marine.

Volgens Swart was die huishulp (53) omstreeks 17:00 buite die egpaar se huis doenig toe sy deur twee gewapende mans oorval is. Die mans het haar by die huis ingedwing waarna sy en die egpaar vasgebind is.

Hier is die egpaar aangerand waarna die verdagtes op die sleutels van die kluis aangedring het. Lethbridge se vrou (71) is toe gedwing om die kluis vir hulle oop te sluit. Die mans het kontant en ander waardevolle besittings uit die kluis gesteel waarna hulle te voet laat spaander het.

Die huishulp kon sowat twee ure ná die voorval daarin slaag om haarself los te wikkel en alarm te maak by die bure wat op hul beurt inderhaas die ambulans en polisie na die toneel ontbied het.

Lethbridge is deur die nooddienste in die sitkamer aangetref waar hy gesig na onder gelê het. Sy hande was vasgebind en sy mond toegeplak. Hy is op die toneel dood verklaar.

Sy vrou het beserings in die voorval opgedoen en was erg getraumatiseer. Hoewel die huishulp nie beserings opgedoen het nie, was sy ook baie getraumatiseer.

Swart het aan Maroela Media gesê die oorsaak van Lethbridge se dood is in die stadium onbekend. Die polisie sal wag op die uitslag van ’n nadoodse ondersoek.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisroof. Die verdagtes is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piper ·

groot skok vir my. het hom persoonlik baie goed geken en baie avonture saam beleef oa. die kaap na rio se multiromp gewen. hy het niemand ooit skade gedoen nie en deur hardewerk n ryk man geword. ek weet daarddie brandkas het baie en duur juwele in gehad. simpatie vir sy vrou en twee kinders.

Gaitsigubib ·

Nog n voorbeeld van n mens wat sy lewe lank hard gewerk het en seker net in vrede wou rus. In sy laaste ure beleef hy toe n nagmerie i.p.v die vrede wat elke mens na smag. Ek ken die antwoord maar vra steeds “waar sal ons hulp vandaan kom”?

Jerry ·

Deesdae skuil onheil en wag daar waar ons dit verwag, maar ontstellend ook daar waar ons dit die minste verwag. Weerlose ouer mense moet hulle luukshede verkoop en n meer eenvoudige lewe lei en liefs maar in sekuriteitsaftreeoorde gaan bly.

Michael P ·

Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie Wat van hy is net WREED VERMOOR.

Uil ·

Te sleg om te werk , dit is mos makliker om te roof en moor! Blameer die regstelsel wat hierdie skuim in howe verdedig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.