AfriForum stig eie veiligheidsmaatskappy

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, tydens Solidariteit se 2019 Toekomsberaad. (Foto: Verskaf)

AfriForum het sy eie private veiligheidsmaatskappy gestig met die doel om misdaad onafhanklik te bekamp en potensiële gevalle van onrus by veral skole te ontlont.

Forum Sekuriteit is die naam van dié nuwe maatskappy en dit is reeds by die owerhede geregistreer, het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum Donderdag op die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad in Pretoria gesê.

Sedert die burgerregteorganisasie AfriForum in 2015 sy driebeen-“suksesresep” teen misdaadbekamping van stapel gestuur het, het die instansie groot vordering gemaak om Suid-Afrikaners te beskerm, sonder hulp vanaf die polisie.

Kriel het gesê landsburgers voel onveilig. “ʼn Gevolg hiervan is dat baie mense moed vir die toekoms verloor het en ʼn toenemende getal mense die land verlaat. AfriForum se Wêreldwyd-veldtog, wat kontak met Suid-Afrikaners in die buiteland behou, se slotsom is dat misdaad die grootste enkele rede vir emigrasie is. Diegene in die buiteland wat wil terugkeer na die land, maar dit nie doen nie, beskou ook misdaad as die grootste rede waarom hulle nie terugkeer nie,” het hy bygevoeg. “Maar daar is hoop!”

Kriel meen hoewel dit die staat, polisie en strafregstelsel se primêre taak is om landsburgers se veiligheid te verseker, misluk hulle egter hierin. “AfriForum is dankbaar dat ons reeds ver gevorder het met die vestiging van die uitvoerende vermoë om self misdaad te bekamp,” het Kriel gesê. “In slegs vier jaar het AfriForum ʼn veiligheidsnetwerk gevestig wat 143 buurt- en plaaswagte insluit. Sy buurtwaglidmaatskap het ook met amper 300% toegeneem tot 9 600 buurtwaglede.”

Foto: AfriForum

Om verder misdaad te voorkom, het die organisasie ook ʼn kommunikasienetwerk bewerkstellig. Hierdie netwerk sluit tans 5 115 radiostelle en 60 herhalers in, wat 24 uur per dag deur ʼn nasionale radiostelsel beman word, om met alle strukture te kommunikeer.

In sy lugvleuel het AfriForum vier lugsteuntakke vanjaar gevestig en is 19 hommeltuig-operateurs opgelei.

Verder het die organisasie twee nasionale beheersentrums gestig – een in Pretoria en een in Orania, terwyl dit 44 streekbeheersentrums op die been gebring het.

AfriForum is ook by die raad vir ambagte geregistreer om twee geakkrediteerde kwalifikasies aan te bied, en 3 800 mense is tot dusver vanjaar opgelei. Teen die einde van die jaar sal die syfer al op 5 000 mense staan. Nóg ʼn kursus, ʼn nuwe gemeenskapsveiligheid-leerplan met 16 modules, is ook geakkrediteer en sal in Oktober bekendgestel word.

Om bystand te verskaf aan families wat traumaberading moet ontvang, “hoofsaaklik weens plaasaanvalle”, het AfriForum ook ʼn trauma-ondersteuningseenheid gestig. Die eenheid hanteer tans sake van sowat 16 slagoffers en ʼn vrywillige ondersteuningspan word binnekort opgelei. ʼn Slagofferondersteuningsfonds is ook gestig.

Tot dusver het die organisasie talle operasies uitgevoer. Dié jaar het AfriForum reeds drie pogings tot grondgryping stopgesit en is die grond aan die regmatige eienaar terugbesorg. Vier nasionale patrollies is ook gehou, waaraan meer as 20 000 mense deelgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Chris Ws ·

Mooi!Hou so aan AfriForum!Julle is op die regte pad.Dis net jammer dat daar so baie boere in ons GPF gebied is wat nog steeds apaties staan teenoor plaas veiligheids strukture en die aanskaffing van radios.Maar dis hoe ons mense nou eenmaal is.

Markus ·

Baie goeie inisiatief, die nr 1 bly nog steeds n onafhanklike staat want alhoewel ons meer en meer die regering se werk moet oorneem maar steeds meer en meer belasting moet betaal dink ek die tyd het aangebreek om belasting korting te kry op misdaad bekamping en misdaad voorkoming uitgawe,maar dankie Afriforum hou so aan.

Chris vd Westhuizen ·

Baie geluk met suksesse Ons moet vashou aan die geloof en genade en nederig bly

Pieter ·

Ek hoop afriforum gaan van ons belasting geld by die regering kry vir die diens

Nettie ·

WAAR is Afriforum in VERAL die platteland van die Wes-Kaap?????? Ek dink nie ons dorp – Worcester – HET ‘n Afriforum tak hoegenaamd nie.

Hendrik ·

Wie is die “iemand” wat verantwoordelik is om so n tak te stig?

Hennie ·

Baie mooi Afriforum! ‘n Boer laat nie met hom mors nie! Baie sterkte vir die toekoms!

Foxi ·

Ek staan sterk saam. Daar moet nie terug gestaan word nie, as dit NIE gedoen word nie, gaan dit net aanhou en aanhou. Hier kom n uitkoms…..dit sal net n rukkie vat.

Lou ·

Wel gedaan Afriforum. Ons is bly dat julle die voortou neem in hierdie aksies en terug veg teen die korrupte ANC en trawante.

Wielspore ·

Dit is hoekom ek my Solidariteit lidmaatskap met die grootse liefde betaal, want tussen Solidariteit en Afriforum doen hulle baie vir die Afrikaner.
Sluit gerus aan!

Al ·

Afriforum het ongelooflik baie vermag in so ñ kort tyd. Ek is trots op jul en gee my bydrae maandeliks met graagte.

Pottie ·

Afriforum moet nou net kom met n plan dan kan ons op hou om vir die ANC ons belasting geld te gee dan kan ons die belasting geld gebruik om eskom ens reg te kry want die ANC gaan en sal nooit regkom nie

Jerry ·

Mooi Kallie. Hierdie lyk na die begin van groter dinge mbt beveiliging. Afriforum se beveiliging kan egter eers as n sukses gereken word wanneer daar geen meer slagoffers aan ons kant van die heining is nie, dus is die kern waarom beveiliging draai so eenvoudig soos “prevention is better than cure” so “dont count your chickens before they hatch Kallie”. Sterkte, dit begin darem al n bietjie beter lyk, maar onthou dit is nog nie n sukses nie!

Erik ·

Vir net EEN aanval of moord wat afgeweer raak, reken ek dit n sukses

Leon ·

As jy nie deel van hulle organisasie is nie of by hulle ingeskryf is nie, patrolleer hulle nie jou straat nie. Hulle patrolleer net die elite plekke. Die plebs tel nie by hulle al probeer hulle die wêreld wysmaak hulle gee om.

Sannie ·

Dis onwaar. Die hele dorp se buurte en strate word gepatroleer, selfs die plotte en plase -sonder om enige strate of buurte uit te sonder. Of jy lid is of nie.

Wingman ·

Forum Sekuriteit is ‘n besigheid. Jy sal maar moet betaal vir die diens. Daai hommeltuie kos geld. Mense moet salarisse kry. Niemand werk mahala nie.

Brand ·

Uitstekende plan vir beveiliging. Van die os op die jas – Kallie kan gerus die boemelaar vermomming afskeer! Dit is ‘n mode vir die jonger manne. Ons oues lyk net slordig en onversorg!

jaco ·

wag net totdat 1 afriforum-buurtwaglid n misdadiger wat nie wit is nie spuit met pepersproei, dalk te hard stamp uit selfverdediging en en en.
DADELIK sal daar beskuldigings wees van wit rassisme en poging tot moord en DADELIK sal afriforum se buurtwagte gedwing word om te ontbind.
my ervaring is: laat “our people” eerder die buurtwagte beheer. hulle doen dit net so effektief soos ons, maar omdat dit dan “hulle” is wat lelik is met “hulle”, is daar geen klagtes agterna nie. hulle vat misdadigers behoorlik vas.

Hennie ·

Mooi so Afriforum, ten minste gebruik julle darm my geringe maandelikse bydrae ten goede!

Gert Retire@Midstream ·

Baie opgewonde. “Wat maak oom Kallie met ‘n baard? Waar kom oom Kallie vandaan? Wat maak oom Kallie daar?” Sterkte manne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.