AfriForum wil Gautengse skole help met plasingsprobleme

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

AfriForum wil graag Afrikaanse skole in Gauteng help wat probleme met plasings van leerders van gr. 1 tot gr. 8 vir volgende jaar ondervind.

Die plasing van leerders begin op 4 September en sal tot die einde van die jaar voortduur en alle leerders geplaas is.

Teen Sondag is altesame 757 075 aansoeke vir plasing reeds ontvang. Net meer as 35 000 hiervan is as onvolledig uitgewys – daar is dus geen bewys van huisadres ingedien nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, verkeer die Gautengse onderwysdepartement andermaal onder groot druk om leerders wat vir plasing in die provinsie aansoek gedoen het, te akkommodeer.

“Dit is ’n jaarlikse dilemma wat daaraan toegeskryf kan word dat die departement nie in staat is om voldoende skole te voorsien om aan die groeiende aanvraag in die provinsie te voldoen nie,” sê Bailey.

“Wat dit nog meer kommerwekkend maak, is dat die provinsie geld wat deur die jare toegeken is om meer skole te bou, selde spandeer het, wat net nog ’n aanduiding van die departement se wanbestuur is.”

Volgens Bailey is ’n verdere uitdaging die wanfunksionele skole in Gauteng wat veroorsaak dat ouers nie noodwendig hul kinders in die skole naaste aan hulle wil plaas nie, maar verstaanbaar probeer om plek vir die kinders in funksionele skole te kry.

“Wanneer dit nie slaag nie, spoor dit nie die departement aan om aanspreeklik te wees en skole reg te ruk nie, maar word allerlei populistiese uitlatings gemaak – soos om te beweer dat Afrikaanse enkelmediumskole die oorsaak van die probleem is.”

AfriForum het verneem van Afrikaanse skole wat onder groot druk is om meer klasse te akkommodeer, waarvoor hulle infrastruktuur nie voorsiening maak nie. Bailey sê die opsie om meer kinders in ’n klas in te druk, bedreig nie alleen die kinders se fisieke veiligheid nie, maar bring ook die gehalte van die onderrig wat aangebied word in gedrang.

Nog ’n opsie, naamlik om enkelmedium‑ Afrikaanse skole wat reeds vol is met Afrikaanse leerders te dwing om vir Engelse leerders met parallelmedium- of dubbelmediumonderrig plek te maak, sal beteken dat Afrikaanse leerders moet plek afstaan aan Engelse leerders, wat die dilemma net gaan vererger, sê Bailey.

“Verder is daar plaaslik en internasionaal legio bewyse dat hierdie skole op die ou einde weer enkelmediumskole sal word, maar dan in die dominante taal, wat in dié geval Engels is. Omskakeling na parallelmedium- of enkelmediumonderrig is fataal vir Afrikaanse moedertaalonderrig.

“AfriForum sal graag Afrikaanse skole help wat plasingsprobleme van dié aard ondervind. Beheerliggame word aangeraai om eers die knelpunte met hulle kringbestuurder en ander gemagtigde amptenare van die departement direk op te neem en rekord van die gesprekke te hou. “Indien dit nie die gewenste uitwerking het nie, sal AfriForum graag help. Die beheerliggame kan dan aan AfriForum ’n mandaat gee om namens hulle regstappe te doen.”

Enige navrae in die verband kan gestuur word aan [email protected].

Maroela Media het vroeër berig SMS’e sal van 4 September aan ouers gestuur word, met die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, wat sê nie almal sal dit op dieselfde dag ontvang nie. Sou ouers nie ʼn SMS ontvang nie, kan hulle die status van ʼn aansoek steeds aanlyn by www.gdeadmissions.gov.za nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Catherina ·

Afriforum doen so baie. Kan iemand hulle nie help om skole te bou vir slegs Afrikaanssprekende kinders, met klein getalle in klas en goed opgeleide onderwyspersoneel… Ek weet daar is al klaar, maar hopeloos te min.

Amelia ·

As mens net kyk hoeveel skole is in verlede (en steeds) afgebrand sou daar genoeg skole gewees het kyk ook hoe lyk party van skole niks word instand gehou nie ek voel jammer vir die afrikaanse skole
waar meeste onderwysers nog onderwysers is en nie net daar is vir pay nie

Koos 100 ·

Amelia, dis gewoonlik township skole wat gebrand word, en dit is gewoonlik nie eerste keuse skole nie, weens die lae kwaliteit van onderwys. Ek het nog nooit gesien dat ‘n goeie funsionele skool gebrand word nie.

Harry ·

Honest question, has anyone ever tested the constitutionality of this school placing system? Does the Constitution not give people a right to choice and association?

Koos 100 ·

Harry. That is the aim of the BELA law. The ANC want to take this choice away from schools and parents, under the cover of race.

Republikein in die Wes Kaap ·

Landswyd is die swart middelklas sterk besig om huise te koop in woonbuurte waar Afrikaners voorheen gekonsentreer het. Dus sal Afrikaanse skole daar moet voorsiening maak vir kinders wat Engels verkies. Die dae van Afrikaanse skole is getel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.