AfriForum wil hinderlae op hoofweë help bekamp

Ysterpenne op paaie. (Foto: Gautengse verkeerspolisie)

AfriForum sê sy buurtwagte in en om Pretoria is daartoe verbind om die ernstige toename in hinderlae op veral hoofweë in die omgewing te bekamp. Dit sluit in boewe se gebruik van skerp ysterpenne om motoriste voor te lê.

Maroela Media het verlede week berig ʼn man is op die N4 by Donkerhoek in Pretoria doodgesteek toe hy ʼn motorband langs die pad omgeruil het. Hy het kort tevore oor ʼn skerp voorwerp in die pad gery.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê dié burgerlike ingryping vorm deel van AfriForum se breër veldtog “om die misdadige bloedvergieting wat opportunistiese misdadigers en moontlik selfs ook georganiseerde groepe op ons paaie uitvoer”, hok te slaan.

“Hierdie modus operandi word by die dag meer algemeen en verskeie ernstige voorvalle is die afgelope paar weke aangemeld.

“Selfs ambulanse en voertuie van die Tshwane-metropolisie (TMPD) het al die slagoffers van dié aanvalle geword,” sê Broodryk.

Hy sê gedeeltes van die N1 in die noordelike dele van Pretoria, asook die R80 en die N4 in die noordelike dele en in die ooste van Pretoria, is reeds berug vir hierdie soort lokvalle.

“Daarbenewens is ander paaie soos Garsfontein- en De Villebois Mareuil-weg ook as lokvalbrandpunte geïdentifiseer.”

AfriForum se buurtwagte in die Pretoria-omgewing het hulle nou daartoe verbind om die misdaadbrandpunte waar hierdie hinderlae op hoofweë gereeld voorkom, by hul patrollieroetes in te sluit.

“AfriForum-buurtwag sal bedag wees op enige verdagte items op dié roetes en gemeenskapslede bystaan wat moontlik bystand in dié verband nodig het.”

Broodryk sê die gebruik van skerpgemaakte ysterpenne om voertuie te beskadig en motoriste sodoende tot stilstand te dwing om hulle aan te val, is voorheen meer gereeld op agterpaaie en stil roetes aangeteken.

“Misdadigers het egter nou begin om hierdie tegniek ook op besiger paaie te gebruik, hoewel dit dikwels in stiller tye van die dag – en veral deur die nag – uitgevoer word.

“AfriForum doen ’n beroep op plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en ander gemeenskapsveiligheidstrukture om saam met AfriForum te werk om hierdie soort misdaad te bekamp.”

Broodryk sê motoriste kan die volgende riglyne in gedagte hou:

  • Moet onder géén omstandighede stilhou ná ’n voorval waar die voertuig se bande, voorruit of onderdele beskadig is nie. Ry sover moontlik totdat jy ’n veilige bestemming bereik het.
  • Kontak dadelik jou plaaslike buurtwag, sekuriteitsmaatskappy of nooddiens en stel hulle in kennis van die voorval. Gee volledige besonderhede rakende die voorwerp wat in die lokval gebruik is en verskaf die adres of ligging daarvan. Dit sal aanvalle op motoriste wat moontlik ná jou op dieselfde manier geteiken word, kan voorkom.
  • Maak seker jou selfoon is gelaai voor jy in die pad val.
  • Deel jou ligging met geliefdes, veral wanneer jy alleen reis.
  • Wees paraat en kom in die gewoonte om verder in die pad te kyk om sodoende enige bedreigings, vreemde voorwerpe of mense langs die pad betyds raak te sien.
  • Stoor nooddienste, die buurtwag of jou sekuriteitsmaatskappy se kontaknommer op jou foon.
  • Oorweeg dit om ’n nooddiens-app, soos die AfriForum 911-paniekknoppie-app, op jou foon te installeer. Dié app is gratis beskikbaar op Google Play Store (vir Android-toestelle) en die App Store (vir iOS-toestelle).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

Behoort dit nie ‘n regeering taak te wees nie? Nee wag die ANC is besig moenie hulle pla met sukke nonsens nie. Wonder wat ons in dertig jaar sou gedoen het sonder AfriForum en Solidariteit?

Douglas ·

One moet almal by Afrifirum aansluit. Hull doen uitstekende werk vlr die bree gemeenskap.

Lettie ·

Ek (pensionaris) behoort al baie jare aan Afriforum en Solidariteit. Mense ondersteun hulle asseblief! Hulle veg hard om ons mooi land te beskerm.

Aai ·

Betaal my goed dan sal ek in die aand daar le en wag met night vision en dot scope dan is die probleme opgelos.Die skuldige een sal langs die ysterpenne le geen hofsaak.

Blikkies ·

@Aai, wil jy nie maar die werkie pro-bono doen nie, dit is tot almal se voordeel.

Toergids ·

Destyds, nou praat ek van baie jarre terug was daar sulke ouens in blou klere en geel bakkies wat probleme uitgesorteer het, dalk moet ons net hoor wat van hulle geword het.

skurweberg ·

@Toergids, praat jy nou van die ouens wat met die kettings gewerk het.

Danie ·

Kry die suid afrikaanse polisie diens daar weg en uit dan stop alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.