AfriForum wil Ramaphosa kruisondervra oor kaderontplooiing

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die lewering van sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Maandag ’n formele aansoek by die Zondo-kommissie oor staatskaping ingedien ingevolge waarvan ’n bevinding gevra word dat pres. Cyril Ramaphosa gedagvaar word om voor die kommissie te verskyn.

AfriForum vra spesifiek dat pres. Ramaphosa oor die ANC se kaderontplooiingsbeleid ondervra word en versoek ook dat die organisasie die geleentheid gegun word om voorleggings in dié verband aan die kommissie te lewer en self ook die president te kruisondervra.

Die aansoek spruit uit die feit dat pres. Ramaphosa van 2013 tot 2016 die voorsitter van die ANC se komitee oor kaderontplooiing was. Gedurende hierdie tyd is verskeie individue wat tans van korrupsie en staatskaping beskuldig word, op grond van hulle lojaliteit teenoor die ANC in sleutelposisies aangestel.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, verduidelik dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid waarskynlik die grootste bydraende faktor tot korrupsie en staatskaping is.

“Die ANC is uitgesproke oor sy benadering dat lojaliteit aan die party ’n bepalende faktor is wanneer dit by aanstellings in sleutelposisies in die regering kom,” het Roets gesê. “Dit dra oënskynlik selfs meer gewig as meriete en die vermoë om die werk te doen. Waaroor daar egter geheimsinnigheid heers, is presies wat hierdie komitee se doen en late is, asook watter individue op grond van hulle lojaliteit aan die party in sleutelposisies aangestel is.”

Roets voeg by dat hierdie beleid nie slegs oor ontplooiings in sleutelposisies gaan nie, maar ook oor die herontplooiing van partylojaliste.

Individue met betrekking tot wie AfriForum vrae aan pres. Ramaphosa wil stel, sluit die volgende in: Brian Molefe, Dudu Myeni, Pravin Gordhan, Lucky Montana, Jeff Radebe, Joseph Phungula, Sifiso Buthelezi, Thuli Madonsela, Kady Muteba, Patello Lebbaka, Francois van Eeden, Lynette Brown, Nicholas Linnel, Nhlanhla Nene en Modise Motloba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JM ·

Kaderontplooiing is die groot oorsaak van die land se ondergang. Ramaphosa moet EERLIK verduidelik!

Persheks Adri ·

Hier kort BAIE name op die lys! So te sê die hele verdomde lot van hulle… Wonder of hy sal opdaag om te antwoord mmmmm

Johann ·

Onaantasbaar….onverandwoordbaar. Blatante vergryper saam met sy kaders.

Hendrik ·

Daar moet nie net oor kader ontplooing gesels word nie, die volgende moet ook oor gevra word:
1. Rasse aangeleenthede – hoekom is BBEEE nog in werking?
2. Wat word gedoen (nie woorde nie, maar harde feite) oor die beskerming van minderheidsgroepe.
3. Hoe sien die ANC en die president die grondwet? Hoekom oortree hulle die grondwet – die grondwet maak nie voorsiening vir BBEEE nie.
4. Hoe kan die ANC en die president waarborg gee teen anargie?
5. Hoe gaan die ekonomie opgebou en herstel word? (Nie woorde nie maar bewyse)

gatgogga ·

Hendrik. Die Zondo-kommissie gaan oor staatskaping, man.

Strandloper ·

Is Ace Magashule dan nie ook een nie of draai hy nou almal rat voor die oë?

Jaco ·

In die ou SA het die regerende Nasionale Party ook maar hulle eie vorm van kaderontplooiing gehad: lede van die geheime Afrikaner Broederbond het allerhande lekker jobs in die staatsdiens en by groot Afrikanerbesighede soos Volkskas en SANLAM gekry. Vir dié wat nie weet nie: die Broederbond was ‘n geheime organisasie wat Nasionale Party beleid geformuleer het. Ek gee toe, bekwaamheid het ‘n baie groot rol gespeel in dié aanstellings, maar daar was tog maar ook gevalle waar Broeders jobs gekry het waarvoor ander aansoekers beter bekwaam was.
Mense wat van my verskil, hoef net die Afrikaanse Wikipedia se artikel oor Gideon Roos te gaan lees. Hoogs bekwaam, maar hy wou die SAUK neutraal hou. Die regende Nasionale Party en die Broederbond het van hom verskil en hom uit die SAUK uitgewerk.
So, die beginsel van kaderontplooiing het die ANC van vandag maar net by “ons” van die verlede gekeer.

anko ·

Jip, dit was so. My pa het altyd gepraat van die “swart skoene”. Die verskil is dat die ou regime het gesorg dat alles in werkende orde was en dan blykbaar vir hulself gesorg. Was te jonk daardie dae om te besef wat aangaan. Nou is dit andersom. Als val uitmekaar want daar word eers gevat en dan is daar niks oor vir ontwikkeling en heel maak nie. Dis so so hartseer

Dries ·

Wat de $#@% wil jy beweer. Bevoegdheid was baie baie hoog op hulle lys. Ek sou dit nooit ooit kader ontplooing noem nie. Dalk bietjie baantjies vir boeties. JY KEER ONGETWYFELD KADER ONTPLOOING GOED OU MAAT

Dapper Patriot ·

Wat sal ons sonder AfriForum doen?
Enige iemand wat a toekoms vir hulself en kinders wil hê, behoort lid van AfriForum te wees!

jzjz05 ·

Die cANCer regering sal dit nooit toelaat nie.kader beskerming drae baie meer gewig as lands belange.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.