Afrika-lande soek beleggings, wil nie bakhand staan

Met die bevolking jong mense wat die vinnigste groei, glo Afrika-amptenare en sakelui die vasteland bied ongeëwenaarde geleenthede vir beleggers. (Argieffot: Luis Tato/AFP)

Van Suid-Afrika tot Nigerië en Rwanda, wil Afrika-lande vandeesweek ʼn magsvertoon by die Wêreld- Ekonomiese Forum voorhou en hul beeld transformeer deur private beleggings, eerder as ontwikkelingshulp, op te raap.

Daar is vanjaar in Davos geen paneelbespreking oor ontwikkelingshulp nie en Afrika-beleidmakers by die Switserse oord bespreek eerder vrye handel, belegging en die energie-oorgang.

Met die bevolking jong mense wat die vinnigste groei, glo Afrika-amptenare en sakelui die vasteland bied ongeëwenaarde geleenthede vir beleggers.

“Hierdie is die verhaal van al die uitdagings en risiko’s, maar daar is ook ʼn formidabele verhaal van die ongelooflike beleggingsgeleenthede wat die vasteland bied,” sê Marie-Laure Akin-Olugbade, ʼn senior uitvoerende hoof by die Afrika-ontwikkelingsbank.

“Ons dink ons moet daardie storie vertel,” het sy by ʼn byeenkoms van sakelui en politieke invloedrykes gesê.

“Deur die storie te vertel van wat die vasteland bied, is alreeds ʼn goeie stap om die private sektor aan boord te kry.”

Ander deel haar geesdrif.

“Ons is ʼn posisie om werklik voordeel te trek uit die digitale omwenteling in die wêreld,” het Kashim Shettima, adjunkpresident van Nigerië, tydens ʼn bespreking van die Pan-Afrika-vryhandelsgebied gesê.

Dié gebied bestaan uit 47 lande met ʼn bevolking van 1,4 miljard mense.

“Mense begin die belang van Afrika se plek in die geskiedenis oor die volgende 10 of 20 jaar verstaan,” het Ajay Banga, president van die Wêreldbank, gesê.

Benin-sanger Angelique Kidjo glo ook dinge verander. “Dit verander die afgelope dekade in musiek en kuns in die algemeen. Hoekom sou die sakekant nie verander nie?”

Meer finansiering benodig

Die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram (UNDP) het ʼn nuwe inisiatief genaamd “Timbuktoo” by die forum bekend gestel; ʼn plan om $1 miljard (sowat R19 miljard) in openbare en private kapitaal in innoverende nuwe maatskappye op die vasteland te belê.

“Afrika gaan toenemend na vore tree as ʼn beleggingsbestemming,” sê UNDP-administrateur, Achim Steiner.

Vandag se waarde van jong maatskappye in Afrika verteenwoordig slegs 0,2% van jong maatskappye wêreldwyd. Die meeste kapitaalinspuitings in nuwe Afrika-maatskappye kom egter van die buiteland, terwyl 83% na sakeondernemings met ondernemings in net vier lande gaan: Egipte, Kenia, Nigerië en Suid-Afrika, aldus die VN.

“Soveel idees sterf ʼn vroeë dood, eenvoudig omdat niemand ʼn kans daarop wil waag nie,” sê Steiner.

Rwandese president Paul Kagame het by die bekendstelling van die UNDP-inisiatief gesê nuwe maatskappye op die vasteland benodig die finansiering om op “internasionale vlak mee te ding”.

Kagame het bekend gemaak dat Rwanda $3 miljoen (sowat R57 miljoen) tot die fonds sal bydra.

Onder die vaandel van die projek, sal die geld gebruik word om agt innovasiesentrums in agt Afrika-lande, waaronder Ghana, Marokko en Senegal, op die been te bring.

Beleggers gerus gestel

“Een van die fundamentele uitdagings om ontwikkelingsdoelwitte in Afrika te behaal, is die vermoë om aansienlike hulpbronne vir finansiering te mobiliseer,” sê Nana Akufo-Addo, president van Ghana.

Omdat die meeste Afrika-ekonomieë min beweegruimte het om meer te bestee, sal “belegging uit die private sektor ʼn noemenswaardige rol speel”, het Akufo-Addo gesê.

Anne Beathe Tvinnereim, Noorweegse minister van internasionale ontwikkeling, sê “humanitêre situasies word al hoe meer – in volume en omvang en die behoeftes word al hoe groter” terwyl die finansiële ruimte om dit te hanteer, toenemend “krimp”.

Tvinnereim sê daar is ʼn “persepsie van risiko” wat deur openbare geld geabsorbeer kan word.

Noorweë en die VSA het onlangs ʼn program van stapel gestuur wat finansiering aan klein en mediumgrootte ondernemings in Afrika se landboubedryf sal verskaf.

Die geld sal nie regstreeks na die maatskappye herlei word nie, maar in fondse wat geld van private finansiers sal insluit.

“Dit kan gedoen word as ons die waarborgmeganisme op die regte manier opstel,” sê Tvinnereim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.