Afrikaanse skole blink weer uit

Van links: Melanie Buys, Leon Fourie en Valentyn van der Merwe (Foto: Verskaf)

Afrikaanse leerders het byna ʼn kwart van die onderskeidings in wiskunde en fisiese wetenskappe tydens die afgelope matriekeksamen ingeoes. ʼn Groter persentasie Afrikaanse leerders het ook die matriekeksamen geslaag of toelating tot verdere studies verwerf.

Volgens ʼn verslag deur Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het matrikulante wat die 2021-matriekeindeksamen in Afrikaans afgelê het, weer eens uitstekend presteer. Die verslag is Woensdag bekendgestel.

Luidens die verslag het Afrikaanse skole ʼn algemene slaagsyfer van 84,9% behaal, wat 8,5% hoër is as die nasionale gemiddeld. Leerders in dié skole het boonop 25% van die onderskeidings in fisiese wetenskappe en 24,9% van onderskeidings in wiskunde behaal.

Meer as die helfte (58,2%) van Afrikaanse leerders het ook toelating tot B-graadstudies behaal, teenoor die 36,4% van leerders landwyd.

Afrikaanse skole beklee ook sewe plekke in die lys van skole met die meeste onderskeidings per kandidaat.

Leon Fourie, uitvoerende hoof van SOS, het Woensdag klem daarop gelê dat bogenoemde statistieke rondom moedertaalonderrig vanself spreek.

“Dit is van kardinale belang om soveel as moontlik leerders toegang te gee tot wêreldgehalte onderwys in hul moedertaal. So kan hulle in eie reg ontwikkel om uiteindelik as suksesvolle burgers ʼn waardevolle bydrae tot hul gemeenskap en die land te lewer,” het Fourie gesê.

Hoewel daar in 2021 sewe minder Afrikaanse skole as in 2020 was, is daar ’n styging in die getal Afrikaanse kandidate wat die matriekeksamen in 2021 geskryf het. Afrikaanse skole is groter as ander skole, met gemiddeld 113 kandidate per skool teenoor die nasionale gemiddeld van 102 per skool.

Afrikaanse leerders en wiskunde

Wat wiskunde betref het Afrikaanse kandidate drie keer meer onderskeidings (9,6%) as die nasionale gemiddeld van 3% behaal.

“Die prestasie is merkwaardig, aangesien kandidate in Afrikaanse skole slegs 8% van die totale getal wiskunde-kandidate in die land verteenwoordig,” het Fourie gesê.

Die slaagsyfer vir wiskundegeletterdheid in Afrikaanse skole is ook baie hoog met 84,1% van die leerders wat dié vak slaag. Dit is omtrent 10% meer as die nasionale gemiddeld van 74,5%.

Die daling in die getal leerders in Afrikaanse skole wat wiskunde as vak vat, is egter groter as op nasionale vlak en slegs ʼn kwart van Afrikaanse leerders (26%) het verlede jaar wiskunde in matriek geskryf. Dit is 9,5% laer as die nasionale gemiddeld. Afrikaanse wiskundegeletterdheidskandidate het toegeneem van 67% in 2020 tot 71% in 2021.

Maroela Media het vroeër berig die afname in matrikulante wat wiskunde as vak neem en ook slaag, is kommerwekkend.

Volgens die verslag is Hoër Meisieskool Bloemhof (85,2% kandidate) die Afrikaanse skool met die hoogste persentasie kandidate wat verlede jaar wiskunde geskryf het. In die tweede plek is Paul Roos Gimnasium (77,4% kandidate), gevolg deur Hoër Meisieskool Paarl (75,8% kandidate), Gereformeerde Skool Dirk Postma (74,1% kandidate) en Hoërskool Menlopark (73,8%).

Laai die volledige verslag hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

minnie muis ·

ja ne wat se daai lee blik van onderwys nou……… gaan seker weer Jan blameer

Casper ·

Lefufi ek hoor jou glad nie,praat harder man.Dit is beter.Jy sê die pandemie is die oorsaak vir die ander leerders se swak prestasies,o en die reën wat paaie onbegaanbaar gemaak het en beurtkrag wat dit moeilik gemaak het om te leer.OOO blomme en toe jy wakker word toe is jou koffie koud.Sê vir jou kindertjies hulle het net hulle verstandelike vermoëns te blameer.

Misky ·

Trots Afrikaans!!!!! Wens ek kon Lesoufie se bakkies sien as sulke nuus oorgedra word

Witwax ·

Dit is net jammer, baie van daai slim afrikaanse kinders gaan Suid Afrika verlaat , want hier is nie n toekoms vir hulle nie.

domheks ·

Moet tog nie laat lesoefieeee dit hoor nie, hy is jaloers..

FM ·

Ons is geseënd en geen wêreldse mag kan dit verander nie. Baie dankbaar vir elkeen wat dit vir die Afrikaanse skole moontlik maak om ten spyte van politiek só voort te bou.

Mariana ·

Briljant. Baie geluk aan die presteerders. Waar ‘n wil is, is ‘n weg.

JohanR ·

Daar het jy dit Blade. Hoe sal die matriekeksamen lyk sonder Afrikaanse studente ou Blade jou slegte kommunis, met jou R700000 motor!

Vernon ·

Maar kyk bietjie op die Kompartement se prysuitdeling-funksies…wie staan daar???? Ek rus my tas….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.