‘Afrikaanse skole steeds uitnemend ondanks talle aanslae’

Melanie Buys, hoof van stelsels by die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Foto: Verskaf.

“Afrikaanse skoolopleiding beleef ʼn krisistyd.”

Só sê Melanie Buys, hoof van stelsels by die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Die SOS meen Afrikaanse skole moet tans talle aanslae afweer – van die gesentraliseerde toelatingstelsel en die nuwe godsdiensbeleid tot kwotas in sportspanne, swakker posvoorsiening en gedwonge vennootskap met swak bestuurde Engelse skole.

Dít kom nadat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Donderdag tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê het 6 800 leerders het nog nie plek in skole vir volgende jaar nie en alles moontlik word gedoen om al die leerders geplaas te kry, “waaronder om Afrikaanse skole te dwing om volgende jaar ʼn Engelse klas in te neem”.

Volgens die SOS is die sentrum bewus van etlike Afrikaanse skole wat onder groot druk verkeer om leerders te aanvaar wat onderrig in Engels vereis. Buys meen daar is ʼn gebrek aan politieke wil van die huidige regering om Afrikaanse skole te beskerm. “Afrikaans as onderrigtaal word aktief deur die regerende party ondermyn en politieke uitdagings neem toe,” sê sy.

Sy voer aan dat ideologies bevooroordeelde denke van politieke leiers daartoe lei dat besluite geneem word wat geensins in belang van gehalte-onderwys vir leerders is nie, maar slegs politieke doelwitte dien. “Met die onlangse sentrale hantering van toelatings tot skole in Gauteng het [Lesufi] se aandrang dat taal geen rol in aansoeke by skole speel nie ʼn groot gemors veroorsaak.”

Sy voeg egter by die SOS se veldtog om meer as 15 000 ouers en onderwysers teen hierdie wysiging van die toelatingsregulasies te mobiliseer het beslis druk op die departement geplaas om plasings by skole reg te stel en skole se taalbeleid in ag te neem.

Van die ongeveer 25 000 skole in Suid-Afrika is slegs 1 200 (5%) enkelmedium- Afrikaanse skole. Byna die helfte van hierdie Afrikaanse skole is in die Wes-Kaap. In Gauteng is daar meer as 2 080 skole, waarvan slegs 124 Afrikaans is. In ander provinsies lyk die getalle selfs slegter.

“In Gauteng is daar ʼn geraamde tekort van 159 skole. Die rede hiervoor is nie ʼn tekort aan kapitaal nie, maar swak beplanning en versuim om skole te bou. Selfs al sou al 124 enkeltalige Afrikaanse skole na dubbelmedium verander, sal dit geen verskil aan die probleem van toegang en gehalte maak nie,” beklemtoon Buys.

Hoewel Gautengse skole die mees aktiewe politieke druk ervaar, bly Afrikaanse skole hier en in ander provinsies goed, sê Buys. “Die rede vir Afrikaanse skole se sukses is nie bevoorregting nie, maar goeie bestuur, ouerbetrokkenheid en versigtige finansiële beplanning wat dit steeds moontlik maak om gehalte te behou.”

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Foto: ANA/Jonisayi Maromo

Die brandende kwessie van moedertaalonderrig

In die PIRLS-verslag, ʼn internasionale studie oor leesvermoë wat in November 2017 bekendgestel is, is bevind dat 8 uit 10 graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip kan lees nie. Tog het Afrikaanse leerders veel beter gevaar, en in lande wat die beste presteer het, is moedertaalonderrig ʼn gegewe, soos in Rusland en Ierland.

Internasionaal is daar toenemend ʼn bewustheid van die waarde van moedertaalonderrig. Unesco, met sy 195 lidlande, erken moedertaalonderrig as ʼn basiese mensereg. Volgens die Wêreldbank is die grootste enkele aanwyser van uitsluiting van onderwys die kwessie wanneer onderrig nie in die moedertaal is nie.

Buys voeg by dat die miskenning van moedertaalonderrig verreikende gevolge kan hê. “In Turkye, Nepal en Guatemala het die miskenning van moedertaalonderrig aanleiding gegee tot burgeroorloë in daardie lande. In Oos-Pakistan het die aandrang op erkenning van hul moedertaal gelei tot die totstandkoming van ʼn nuwe land, Bangladesj.”

Sy wys daarop hoewel Lesufi beweer dat Suid-Afrika nie enkelmediumskole kan bekostig met die groot vraag na onderrig nie, hou moedertaalonderrig inderdaad kostevoordele in omdat dit slaagsyfers verhoog en uitsak- en herhalingsyfers verlaag. Oor die koste van moedertaalonderrig sê die Wêreldbank in 2005 dat, hoewel onderrig in slegs die amptelike taal (Engels) 8% per jaar minder kos as moedertaalonderrig, die totale koste om ʼn leerder deur ʼn siklus van ses jaar sonder moedertaalonderrig te neem, omtrent 27% meer is, hoofsaaklik weens graadherhaling en hoë uitvalsyfers.

ʼn Verslag van die Wêreld- Ekonomiese Forum wat in 2014 gepubliseer is, voer aan dat die verwagte slaagsyfer in matriek vir leerders wat die eindeksamen in die moedertaal aflê, oor voldoende hulpmiddele beskik, en in klasse van nie meer as 30 leerders is nie, 80% is. Dié syfer verminder na 40% wanneer dieselfde omstandighede heers, maar die eindeksamen in ʼn tweede taal afgelê word.

Panyaza Lesufi (naasregs), Gautengse LUR vir onderwys, lig die media in oor die plasing van leerders in gr. 1 en 8 vir die 2019-skooljaar. Foto: ANA

Wêreldgehalte-onderrig steeds moontlik’

Buys sê te midde van druk vanuit verskeie oorde, bly Afrikaanse skole steeds “eilande van uitnemendheid” wat aan ouers waarde vir geld en vir leerders ʼn skoolloopbaan van gehalte bied.

“SOS fokus hoofsaaklik op die ondersteuning en ontwikkeling van Afrikaanse onderwysers. Ons glo dat hierdie belegging ʼn hoë opbrengs lewer – suksesvolle leerders wat hul skoolloopbaan voltooi met verskeie keuses vir tersiêre opleiding en beroepe. Soos die McKinsey-verslag uitwys: ʼn Onderwysstelsel is net so goed soos die gehalte van sy onderwysers,” sê Buys.

Die SOS het vakverenigings vir alle prominente vakterreine, asook verskillende onderwysfases. Die Wolkskool gebruik tegnologie om gehalte-onderwys oor die hele land aan Afrikaanssprekende leerders te bied, tot in die uithoeke van die land. Die SOS is ook deel van die Afrikaanse Onderwys-Netwerk (AON), ʼn netwerk van Afrikaanse organisasies toegespits op die uitbou en beskerming van Afrikaanse onderrig.

“Die SOS wil saam met skole en onderwysers werk om voort te bou op hierdie kultuur van uitnemendheid wat in ons skole bestaan. Deur belanghebbendes in onderwys te mobiliseer om hulle uit te spreek teen wetgewing en optrede wat moedertaalonderrig of die gemeenskap se inspraak in skole bedreig, maak ons seker die Afrikaanse gemeenskap se stem word gehoor en amptenare wat teen die belang van goeie onderwys optree, word tot verantwoording geroep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Stef ·

Ek wonder of die ANC nie kan onthou wat 1976 gebeur het nie of speel hulle een-vir-jou en een-vir my? Ek vermoed die laaste want hulle het rassisme ook ver volmaak. Seker om ons terug te kry? Nie eers die Britse reik kon ons terug kry nie, wanneer gaan hulle leer?

Ja ·

Ek stem 100% saam jou. Ons is basies op dieselfde boot. Kom ons hys die “Jolly Roger”, en word seerowers…

Leeutjie ·

My ma het altyd gese…laat die honde maar blaf die karavaan ry voort!! Ons staan onwrikbaar!

Johan du Toit ·

Waar is die 23 skole wat hulle af gebrand het in 2016????? Is daardie skole al herbou? Is daar planne om meer skole te bou, want hulle sal moet, want ons populasie raak meer en daar word nie nog skole gebou nie!

JC ·

Baie dankie! Doe so voort!

Die AON en sy werksaamhede gaan ‘n REUSE sukses wees!

Maak Suid-Afrika Weer Afrikaans!

Jo-Anne ·

Dink julle werklik die mense verstaan die Wêreldbank se syfers? Dalk is die berekeninge vir sommige mense bietjie “Hoërgraad”. Julle weet mos – nie almal is ewe “wiskundig” nie – daarom dat kinders deesdae deurgesit word al pluk hulle Wiskunde.

Stella ·

Hoe vinniger hul leer oor standaarde hoe beter vir ……… Standaarde moet behaal word nie verlaag word om dit maklik te kan behaal nie.

Prok ·

By die CVO skole is Afrikaanse onderrig ‘n gegewe. En Bybel as vak ipv godsdiensonderrig, en geskiedenis soos ons dit geleer het en en en

Andrea ·

Dis die enigste uitweg. Privaatskole gekoppel aan internasionale instellings, dalk in Nederland of België. Presies hoe dit sal werk weet ek nie, maar ons moet dit ondersoek. As ek kyk na die vrot hantering van Afrikaanse matriekvraestelle en -eksamen vanaf die dept, weet ek nie hoe lank ons gaan kan aanhou nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.