Afsondering: Enorme las op gesinne nog jare lank gevoel

Die navorsers het bevind die voortgesette verbod op skoolonderrig vir alle kinders kan nie langer geregverdig word nie. (Foto: Maroela Media)

Miljoene Suid-Afrikaanse kinders se onderrig en geestelike welstand word deur die voortgesette verbod op onderrig in die gedrang gebring en die ontwrigting van kinders se versorging, onderrig en gesondheid kan nie langer geregverdig word nie.

Dit is sommige van die skokbevindings wat navorsers aan die Universiteit Stellenbosch gemaak het in ʼn studie oor die uitwerking van die sluiting van skole te midde van die Covid-19-pandemie. Die studie is deur Servaas van der Berg en Nic Spaull gedoen.

Skole is op 18 Maart gesluit weens gesondheidsvrese oor die nuwe virussiekte en tot dusver is net gr. 7- en gr. 12-leerders toegelaat om terug te keer. Die ander grade sal geleidelik oor die volgende twee maande terugkeer, terwyl daar steeds voete gesleep word oor wanneer kinders in private kleuterskole weer mag terugkeer. ʼn Hofsaak in dié verband is tans aan die gang.

“Nadat ons al die bewyse in die studie hersien het, is ons van mening dat dit nie in die beste belang van kinders is om hulle uit die skool te hou nie. Alle kinders moet dus sonder enige vertraging na skole, crèches en vroeëkinderontwikkelingsentrums terugkeer.

“Die enorme koste wat kleiner kinders en gesinne weens die landwye staat van afsondering en die sluiting van skole moet dra, gaan nog minstens tien jaar lank gevoel word,” het die navorsers bevind.

Die navorsers sê hoewel dit aanvanklik, toe nog nie veel oor die virus bekend was nie, verantwoordelik was om skole te sluit, het die regering ʼn verpligting om die koste en uitgebreide skade wat sy beleid aanrig, te oorweeg.

Volgens die studie moet die departement van basiese onderwys ook erken dat dit onmoontlik gaan wees om ʼn voorgeskrewe sosiale afstand tussen leerders in klaskamers te handhaaf en dat dit nie afgedwing behoort te word nie. Nagenoeg 50% van alle klasse in Suid-Afrika oorskry die voorgeskrewe getal kinders per klas – in sommige gevalle is daar tot 60 leerders per klaskamer – en dat daar eerder op maatreëls soos handhigiëne en die dra van maskers gefokus moet word.

Luidens die navorsing bly nagenoeg ʼn miljoen kinders jonger as ses jaar oud in dié stadium alleen tuis omdat hul ouers of versorgers teruggekeer het werk toe, hoewel kleuterskole steeds gesluit bly. Indien álmal terugkeer werk toe, styg dié getal tot twee miljoen kinders tussen 0 en 15 jaar oud wat alleen sal moet tuisbly sonder enige volwasse toesig of ʼn ander kind ouer as 15 om na hulle om te sien.

Selfs voor die afsonderingstyd het nagenoeg 2,5 miljoen kinders in Suid-Afrika honger gely en onder die broodlyn geleef. Sowat ʼn miljoen kinders se groei is gestrem en honger en akute wanvoeding het waarskynlik geweldig vererger omdat honderde duisende mense hul inkomste verloor het en kinders nie meer gratis etes by skole ontvang nie.

Wanneer kinders teen die einde van die tweede kwartaal terugkeer skool toe, sal tussen 25% en 56% van hul normale skooldae vanjaar al verlore wees.

“Ons voer aan dat die betreklik lae sterftesyfer weens Covid-19 opgeweeg moet word teen die beduidende bykomende sterftekoers weens akute wanvoeding en verwante sterftes, veral weens longontsteking, diarree en MIV/vigs, wat uit die afsondering kan spruit.”

Volgens die navorsing word roetine-inentings in dié stadium agterweë gelaat en toetse vir MIV en tuberkulose (TB) het afgeneem. Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes word tot 48% minder toetse vir TB gedoen. Mense soek tans ook minder mediese hulp vir siek kinders.

Die navorsers het bevind kinders loop die gevaar om permanente sielkundige skade op te doen weens die verlengde afsonderingstydperk en die sluiting van skole. Die bykomende spanning wat finansiële druk op mense plaas kan boonop bydra tot meer voorvalle van kindermishandeling, sielkundige ineenstortings, die emosionele uitputting van versorgers en al hoe meer depressie en angs onder mense.

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa) het ook vroeër vandeesmaand gesê hy steun die besluit dat kinders dadelik moet terugkeer skool toe. Die vereniging het gesê hoewel kinders ʼn verhoogde risiko het om terug by die skool die virussiekte op te doen, is die uitwerking daarvan op kinders veel minder in vergelyking met volwassenes.

Die vereniging het gesê kinders verwerk die virus biologies beter, sal onwaarskynlik sterf aan Covid-19 en is waarskynlik minder aansteeklik as volwassenes. Hoewel kinders ʼn groter kans het om by die skool aan te steek, word die bykomende gevaar vir hulself en ander getroef deur die voordele daaraan verbonde om terug te keer skool toe,” het die vereniging gesê.

Volgens syfers van die departement van gesondheid het altesaam sewe mense onder die ouderdom van 19 jaar oud teen Maandag in Suid-Afrika weens die virussiekte gesterf. Dit is 0,5% van alle sterftes in Suid-Afrika.

Die departement maak egter nie die ouderdomme van diegene wat positief vir Covid-19 toets baie gereeld bekend nie. Teen 29 Mei het syfers gewys twee kinders tussen 0 en vier jaar oud het positief vir die virus getoets. Nog tien kinders tussen vyf en nege jaar oud, 12 kinders tussen 10 en 14 jaar oud en tien kinders tussen 15 en 19 jaar oud het positief vir Covid-19 getoets. Dit was toe 7% van alle Covid-19-gevalle in Suid-Afrika.

In daardie stadium was skole nog vir alle leerders gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie Smartie ·

Nou ja vat dit hof toe. Om dit vir die ANC sirkus te probeer verduidelik is tydmors

netekalleen ·

Om dit hof toe te vat gaan ook nie help nie want die regering skryf hulle besluite aan hulle voor nes met die helpende hand wat wittes nie insluit nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.