Pediaters steun besluit om skole te heropen

(Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa) steun die besluit dat kinders te midde van die Covid-19-pandemie dadelik kan terugkeer skool toe.

Skole landwyd moes Maandag vir gr. 7- en gr. 12-leerders heropen, maar die plan is laat vaar enkele ure voordat dit sou gebeur. Skole gaan nou na verwagting eerskomende Maandag (8 Junie) open. Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sê die besluit is gegrond op verslae wat sy van verskeie rolspelers ontvang het wat gewys het dat baie skole nog nie die nodige maatreëls ingestel het om te verseker dat leerders en onderwysers kan terugkeer nie.

Onderwysvakbonde en organisasies wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, het verlede week ook gesê skole moet gesluit bly totdat alle skole in ʼn posisie is om veilig te heropen.

Sapa sê in ʼn verklaring ten spyte van die betreklik min en swak gehalte van beskikbare bewyse, is dit nodig om besluite te neem oor ʼn terugkeer skool toe gegrond op die gevare en voordele van enige besluit.

Die vereniging sê hoewel dit so is dat kinders ʼn verhoogde risiko het om terug by die skool die virussiekte op te doen, is die uitwerking daarvan op kinders veel minder in vergelyking met volwassenes. “Die meeste kinders, ook dié met asma, allergiese toestande en MIV, kan terugkeer skool toe,” het Sapa gesê.

Sapa waarsku egter dat kinders met ernstige gesondheidstoestande soos immuunonderdrukking of hartsiektes, liefs moet tuis bly.

Die vereniging sê kinders verwerk die virus biologies beter, sal onwaarskynlik sterf aan Covid-19 en is waarskynlik minder aansteeklik as volwassenes. “Hoewel kinders ʼn groter kans het om by die skool aan te steek, word die bykomende gevaar vir hulself en ander getroef deur die voordele daaraan verbonde om terug te keer skool toe.

Twee leerders demonstreer sosiale afstand by Laerskool Tygerpoort (Foto: Verskaf)

“Die voordele daaraan verbonde om terug te keer skool toe, veral vir armer kinders, sluit ʼn positiewe uitwerking op hulle onderrig, toegang tot die skoolvoedingsprogram en geestelike gesondheid in.” Boonop gaan “die heropening van skole ouers en versorgers se vermoë om terug te keer werk toe ook verhoog,” sê Sapa.

Sapa sê volgens die departement trek net sowat 20% van skoolkinders in dié stadium voordeel uit aanlyn-onderrig.

Die vereniging sê ook kinders speel ʼn baie klein rol in die oordrag van die virus en onderwysers het nie ʼn hoë risiko om deur kinders besmet te word nie. “Onderwysers het ʼn groter kans om die virus by ander volwassenes op te doen (kollegas), by die huis of in die gemeenskap (buite die skool).”

Die vereniging sê die heropening van skole in ander lande het boonop nie tot enige groot Covid-19-uitbrekings gelei nie.

Die vereniging sê die gebruik van maskers (onder kinders ouer as vier jaar oud), sosiale afstandhawing en hande wat gereeld gewas word behoort as maatreëls teen die verspreiding van die virus by skole in werking gestel te word. “Die gebruik van ontsmettingstonnels of die sproei van kinders hou geen voordeel in nie en kan selfs skadelik wees.”

Die vereniging sê waar al die maatreëls nie reeds ingestel is nie, is Sapa van mening dat onderrig so veilig as moontlik hervat moet word terwyl die regering so gou moontlik die tekortkominge regstel.

Siek onderwysers, leerders en ander werkers moet liefs tuis bly, en so ook diegene wat ʼn Covid-19-geval tuis het. Die vereniging sê die meeste kinders – en talle onderwysers – gaan waarskynlik asimptomatiese draers van die virus wees en daar is dus minimale voordeel vir roetine koorstoetse, sê Sapa.

Volgens die vereniging kan maatreëls soos afstandhawing, die sluit van speelgronde, die afskaf van nie-noodsaaklike aktiwiteite en vergaderings, verskillende skoolure en pouses en ʼn verkorting van die skooldag of -week ook ingespan word om verspreiding van die siekte te verminder.

“Ons erken dat ouers se angstigheid nie ongegrond is nie en sommige kinders het ʼn groter gevaar om ernstig siek te word. Ouers en voogde se keuses moet gerespekteer word. Hoërisikokinders en diegene wie se ouers kies om hulle nie skool toe te stuur nie is net so geregtig op onderrig en pogings moet voortgesit word om dít te fasiliteer,” sê Sapa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Moet dit nie staan “pediaters steun besluit om parlement te heropen?”

Alma ·

Ek neem dan aan dat die pediaters sal voorstel dat die kinders as onderwysers optree aangesien dit net hulle gesondheid is waaroor bykans almal praat. Ek is BAIE lief vir my leerders maar redelik moeg daarvoor dat onderwysers as vanselfsprekend aanvaar word. Ek doen die werk al 36jaar met die grootste liefde in my hart maar sodra iemand dit van my verwag om maar net weereens myself en my gesin 2de te plaas uit pure selfsug en arrogansie dan word ek warm om die kraag. Respekteer asseblief ook die onderwysers se vrese. En waardeer die 300% wat hulle van hulleself gee ten koste van hulle eie gesinne en gesondheid. Dit is my werk ja maar my werk is veronderstel om 4 uur te stop bedags maar ongelukkig is deurnag baie keer die werklikheid. Ek bedoel onderwysers word aan 30 plus kinders blootgestel.Dit is immer hulle wat die kwesbares is en blatant geignoreer word. En weereens ek is baie lief vir my kids en hulle vir my maar gee asseblief net n gedagte aan die onnies se gesondheid ook.

Ek kan ·

Selfsug en arrogansie? Ek dink jy sou self baie gretig gewees het dat die skole weer heropen as jy nie ‘n salaris verdien het terwyl jy tuis bly nie.

Objektief ·

Dit is maklik om die saak op te los. EK word net betaal vir die konsulterende werk wat ek van die huis af kan doen; so pas dieselfde beginsel toe op onderwysers, parlementslede, stadsraadslede staatsdiens ens. Betaal hulle net vir die werk waarvoor hulle kan bewys lewer.

Onderwysers moet bewys lewer dat hulle wel 4 ure se werk doen en betaal hulle dan vir 4 ure.

Ek verseker julle hulle is vinning terug in die klas.

Martie Smartie ·

Ek verstaan GLAD nie waarom baie skole wat reeds kan open, moet wag vir ander skole on gereed te kom om te open nie, waar die regering nou skielike wakker skrik an agterkom daar is nie lopende water en sanitasie geriewe nie. Dis die edele A Motshekga se eie toedoen wat nou gebeur. Het niemand nog OOIT vir haar laat weet baie van haar skole sit sonder hierdie geriewe nie? Pateties. En skoolhoofde in Gauteng is bang om oop te maak want hulle is bang vir haar. AfriForum, julle weet leerlinge waarvan skole gereed is om te open, word ontneem van hulle grondwetlike reg om onderwys te ontvang hierdie week ne?

Objektief ·

Die effek van die weiering van unies om skole oop temaak gaan vir die volgende 12 jaar gevoel word en kinders word benadeel. “Homeschooling” begin die opsieraak om te voorkom dat jou kind n jaar agter raak.

Onderwysers besef nie dat deur te wieier om skool te gee word die behoefte vir hulle dienste verminder en minder skoolfonds worg ge-in, wat weer gaan ly tot salaris klagtes

Willem ·

Die land is siek nou wil mrk Wes Kaap skole hof toe vat omdat hulle hul werk gedoen het. Die mrk is aan die luiste unie se kant. Sadtu

Jack ·

Twee dinge wat my pla. As n skool voldoen aan die vereistes laat hom open hoekom wag vir almal. Daar is skole wat weens vandalisme ens nooit die jaar gaan oopmaak nie. Twee dra kinders nie die virus huistoe nie want ek sien nooit melding daarvan nie. Wat sal dan van die mees kwesbares word die bo 60 en siekes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.