Agoa in gedrang weens ‘diplomatieke dwaasheid’

Pres. Cyril Ramaphosa en pres. Joe Biden van die VSA (12 Junie 2021) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die enkele grootste multilaterale handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA word nou ook bedreig deur Suid-Afrika se voortdurende afskeep van diplomatieke verhoudinge met die VSA.

Die Amerikaanse wet oor groei en geleenthede vir Afrika, oftewel Agoa, se voorwaardes word jaarliks deur die Amerikaanse president hersien, ten einde kwalifiserende lande te identifiseer. Amptelike hersiening van die ooreenkoms geskied in 2025 en dr. Sandra Adendorff, kenner in internasionale handel en dosent in ekonomie by Akademia, meen dit sal dan waarskynlik tot nadeel van Suid-Afrika aangepas word.

Swak diplomatieke besluite, soos die weermagoefeninge saam met Rusland en China, hou wesenlike bedreigings in vir Suid-Afrika se baie gunstige handelsbetrekkinge met die VSA – iets wat elke landsburger se sak baie direk kan raak.

Volgens Adendorff is hierdie ʼn besondere bedreiging gegewe die astronomiese groei wat Suid-Afrika se handelsurplus met die VSA in die afgelope dekades getoon het.

“Ons kan nie net op ons eie voortbestaan nie. Ons is ʼn klein en oop ekonomie en is daarom ongelooflik afhanklik van handelsbetrekkinge,” sê Adendorff.

Daarom meen Adendorff die tyd het gekom vir die onafhanklike sakesektor om sélf alternatiewe handelsbetrekkinge in die buiteland te ontgin.

Sal SA uit Agoa geskop word?

Adendorf meen omdat Suid-Afrika so ʼn strategiese vennoot is, sal die land nie sommer heeltemal uit Agoa geskop word nie.

“Die VSA gaan ons waarskynlik eerder op die vingers tik en opnuut voorwaardes stel waaraan ons moet voldoen.

“Die ooreenkoms sal dus eerder gedeeltelik aangepas word ingevolge waarvan ons steeds vrystellings op sekere produkte kry, maar handelsvoordele op ander produkte en sektore verbeur.”

Sy meen egter selfs al word Suid-Afrika se status binne Agoa net afgegradeer, kan dit steeds betekenisvolle ekonomiese verliese meebring.

Ten einde vir Agoa te kwalifiseer moet lande voldoen aan die kriterium soos uiteengesit in artikel 104 van die ooreenkoms.

“Een van die voorwaardes vir kwalifisering is die stand van bilaterale politieke en diplomatieke verhoudinge tussen die VSA en die bepaalde land. Dit is juis waar Suid-Afrika moontlik in die toekoms benadeel kan word.”

Adendorff meen egter die groot ekonomiese en stabiliserende rol wat Suid-Afrika steeds in Afrika en suidelike Afrika speel, tel in ons guns. “As ons verarm, verarm ons buurlande ook.”

Agoa as kern van VSA-Afrika-handel

Die ooreenkoms is die eerste keer in 2000 bekragtig en in 2015 hernu. Dit stel gunstige handelsvoorwaardes tussen die VSA en kwalifiserende Afrikalande daar – insluitend ʼn wesenlike verlaging of selfs kwytskelding van handelstariewe.

Volgens Agoa se tweejaarlikse verslag van 2022 was die handelswaarde met kwalifiserende Afrikalande onder dié ooreenkoms in 2021 $44,8 miljard – ʼn toename vanaf 2019 se $36,7 miljard. Met die VSA wat meer invoer as uitvoer onder dié ooreenkoms trek kwalifiserende Afrikalande voordeel uit ʼn handelsurplus.

Onder Agoa dryf 35 Afrikalande met meer as 6 500 verskillende produkte handel.

“Elke lyntjie in daardie bladsye lange handelsooreenkoms is ʼn boer of ʼn bedryf – Agoa is nie sommer net ʼn klein ooreenkoms nie. Byna elke sektor in die Suid-Afrikaanse ekonomie baat hierby,” sê Adendorff.

Gesonde finansiële sektor

Buiten gunstige handelsooreenkomste is die VSA ook verantwoordelik vir die grootste finansiële invloei na Suid-Afrika.

“Dié invloei in ons finansiële mark is uiteindelik investering in ons ekonomie. Indien daar geen investering is nie, kan ons nie spaar nie en groei die ekonomie uiteindelik ook nie.

“ʼn Afname in die investeringsinvloei sal ʼn enorme negatiewe impak op ons ekonomie hê,” waarsku Adendorff.

Afgraderings soos dié en Suid-Afrika se insluiting op die gryslys maak die risikopremie om in Suid-Afrika te belê al hoër volgens Adendorff – iets wat potensiële beleggers afskrik.

Volgens die tweejaarlikse verslag bly Suid-Afrika egter ingevolge Agoa steeds die enkele grootste ontvanger van direkte buitelandse belegging deur die VSA in Afrika suid van die Sahara.

Suid-Afrika het steeds ʼn sterk en volwasse finansiële sektor wat ekonomiese deure kan oophou, daar waar die regering dit weens swak diplomatieke bande toeslaan. Die Absa Africa Financial Markets Index van 2022 dui die Suid-Afrikaanse finansiële sektor ook as die beste in Afrika aan.

“Suid-Afrika se gesonde en volwasse finansiële sektor is juis een van die grootste bates waardeur die privaat- en gemeenskapsektor rondom regeringsmislukking kan kom.”

Alternatiewe handelsbetrekkinge

Volgens Adendorff gaan handelsbetrekkinge, veral met die VSA, “koud word” en al moeiliker raak om te onderhou. Dit blyk boonop asof die regering hom hoegenaamd nie steur aan die ekonomiese risiko’s wat ʼn afgradering van Agoa kan inhou nie.

“Die sakesektor moet egter begin besef hulle kan nie net agteroorsit en die gevolge van die regering se foute gelate aanvaar nie,” sê Adendorff.

Volgens Adendorff is dit nou die ideale geleentheid vir ʼn georganiseerde sakesektor om alternatiewe handelsbetrekkinge sélf in die buiteland aan te gaan.

“Dit is belangrik dat mense hul koppe net ʼn bietjie lig en wyer kyk vir geleenthede,” sê Adendorff.

ʼn Georganiseerde sakesektor moet dus leer om anderkant die regering te dink aan alternatiewe handelsgeleenthede.

“Die lande met wie sulke alternatiewe ooreenkomste aangegaan word, moet egter ook stabiele finansiële sektore hê. So is daar geleentheid vir verhoudinge met rolspelers en markte in Suid-Amerikaanse lande soos Brasilië en Argentinië, asook in bepaalde Afrikalande soos Zambië, Marokko en Ghana,” meen Adendorff.

Hierdie tipe handelsbetrekkinge is soortgelyk aan die baan-twee-diplomasie wat deur georganiseerde gemeenskapsinstellings gehandhaaf word – dit geskied nie met regerings as die hoofrolspelers nie, maar eerder talle belangegroepe oor landsgrense heen.

Alternatiewe handelsbetrekkinge is volgens Adendorff op die lange duur uiteindelik die enigste manier om die wesenlike gevolge van die regering se voortslepende diplomatieke flaters vry te spring.

Adendorff se raad aan ʼn bedreigde sakesektor?

“Gaan soek vriende in die buiteland. Doen dit geleidelik en doen dit sélf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Danie ·

Weer ‘n foto van die swakste presidente ooit in die wêreld…
Daar gestel deur die domste kiesers ooit (reg van die eerste ja stem)…
Die stomme snuffel hond…
Die dik eekhoring…

annie ·

Ja, die VSA het nie verniet die ANC in die pound seats ingehelp nie. Hy soek nou sy pond vleis. Die totale afsondering van Rusland soos destyds met die NP in SA, is aan die gebeur. Cyril sal sit moet ken om nie sy destydse vriende in die gesig te vat nie. Die VSA het nie net die ANC nie maar verskeie bevrydings en -terroriste-groepe gebruik in sy soeke na wêreldoorheersing.

SjN ·

Die buitelandse beleggers besef dat die risiko te groot raak agv politieke redes en optredes.

Nici ·

Ek dink dit gaan meer oor afpersing om ander lande te dwing om die Amerikaanse agenda te volg. Amerika is die wereld se boelie.

Danie ·

Weer ‘n foto van die swakste presidente ooit in die wêreld…
Daar gestel deur die domste kiesers ooit (reg van die eerste ja stem)…
Die stomme snuffel hond…
Die dikke eekhoring…

Keelvol ·

Maar Ou Biden het dan gesê “they are our people.” Hoe dan nou?

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Inderdaad, besigheidslui moet onverwyld handelsbetrekkinge met vele stabiele lande aangaan en die Luthulihuis-mafia eenvoudig eenkant ranger en marginaliseer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit sal een van die fondasies van die regime knak.

Jaco ·

Kan SA net nog 1 ding doen voor Agoa verby is:
President Biden en sy hoogheilige Demokrate het so ‘n mooi mooi oop “human rights” georiënteerde oop immigrasiebeleid. Ek wonder net, dít kan mos ook tot SA se onderdrukte wit mense se voordeel wees: ramaphosa kan al SA se “rassistiese” wit mense wat so “erg ongelykheid” in SA skep, mos na die “oop” Amerika deporteer. En Biden sal dan so min of meer verplig wees om ons in te vat. Dit sal mos nou mooi wys hoe sy “non-racial, non-discriminating human rights” werk.

Jack ·

Amerika is lankal nie meer die wonderlike land as wat hulle voorgee om te wees nie. Daar is ‘n onoffisieele burger oorlog aan die gang. Amerika se bevolking is taans meer gepolariseer as in die afgelope 160 jaar. Dis wokists teen behoudendes, sosialiste teen vryemark aanhangers, blank teen swart. Californië het ‘n dwelmhool geword en is peperduur om in te woon. Soontoe trek? Ag nee wat.

TruthDealer ·

Ja ek sal ook verby hou, dankie. Amerika beleef nou totale morele verval, en die ander probleme wat jy genoem het. Amerikaners kerm ook vreeslik oor die styging in kos pryse daar, en in lewenskoste in die algemeen. Dis hoegenaamd nie meer die Utopia wat dit eens was nie.

Hedda ·

Oeg, jy sal verbaas wees. Nes mens dink jy’t als gehoor, pop daar nóg iets uit…..

Kokerboom ·

Puik raad Dr Adendorff..Ons sal self in toekoms en die wat ons wou benadeel moet dan NIE kom bakhand staan!

hendrie ·

Dwaasheid is nie alleen tot die droewe land se diplomatieke terrein beperk nie!
Korrupsie, bedrog, diefstal, moord ens ens is eweneens bloot gevolge van dwaasheid. Mos…

Althes ·

Die pres en kabinet voel n veer vir SA se ekonomiese oorlewing. Mag hul gestraf word vir die honger en armoede wat hul veroorsaak.

skurweberg ·

Is daar nie miskien toneelspel en huigelary by hierdie verhouding betrokke nie?

TRP ·

Ons kan almal sulk en se gaan stem om ‘n verskil te maak, ongelukkig is die oorgrote stemmers nie van hierdie tipe nuus en nagevolge bewus. Jammerlik.

JohanR ·

Ek het altyd gedink Ramaphosa het darem ‘n paar pampoen putte daar bo! Darem 4 ,eer as Jacob Zuma met sy ses.

Papsak ·

Twee dwase anc moet nog net hulle self deur hulle ash trek dan is alles goed gedoen

Henk ·

Handelsbetrekkinge, handelsurplus, risikopremie ens. Ek is te dom om die berig te verstaan, maar wat ek wel weet is dat ons land nog baie gaan swaarkry. Geen groot woorde is nodig nie, ANC sê alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.