Agterstand by aktekantoor dalk gou opgelos

(Foto: pixabay)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het met die hoofde van aktekantore in al nege provinsies vergader om die probleem met die agterstand in aktekantore landswyd op te los.

Maroela Media het in Julie berig dat aktekantore in Gauteng, KwaZulu Natal en die Wes-Kaap maande lank sloer om aktes te ondersoek sedert die kantore in Mei tydens vlak 3 van die algehele afsondering weer kon oopmaak. Gevolglik kan kooptransaksies van eiendomme nie gefinaliseer word nie.

Die situasie in Kaapstad het tot so ʼn mate vererger dat die Kaapstadse Prokureursvereniging en ander instansies genoop was om dringende regstappe teen die aktekantoor te doen om ʼn hofbevel te kry wat dié kantoor dwing om sy werksaamhede hervat.

Didiza het Donderdag in ʼn verklaring gesê hulle is bewus van klagtes rakende dié agterstande en besef die aktekantoor speel ʼn belangrike rol in die eiendomsektor.

In die lig hiervan sal haar departement “so gou moontlik” die volgende noodmaatreëls instel:

Personeel wat aktes moet nagaan kan die dokument huis toe neem sodat hulle van die huis af kan werk. Personeel sal ook so ver moontlik toegerus word om van die huis af te werk.

Personeel by kantore hoef nie meer tot 30% beperk te word nie.

Alle aktekantore moet herrangskik word om behoorlike sosiale afstande tussen personeel te verseker.

Kantore moet slegs onder uiterste omstandighede gesluit word. Indien ʼn Covid-19 geval by ʼn betrokke kantoor aangemeld word, moet slegs die geaffekteerde afdeling, eerder as die hele gebou ontsmet word.

“Ons sal hard werk om die agterstand wat veroorsaak is deur Covid-19 op te los, sonder om die lewens van ons werkers in dié kantore in gevaar te stel,” lui die verklaring.

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese aangeleenthede, het dié aankondiging verwelkom. “Die gladde verloop van die registrasieproses vir aktes is noodsaaklik vir die suksesvolle belegging in die ekonomie. Nuwe beleggings is ook uiters belangrik vir die herstel en groei van die ekonomie in die provinsies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.