Akademia spog met kampus vir voltydse studie

Akademia sal voltydse studente op sy kampus in Centurion vanaf 2021 verwelkom. (Foto: Verskaf.)

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het Dinsdag sy eerste kampus vir voltydse studie in Centurion bekendgestel.

Skoolverlaters kan vanaf 2021 bedags klas op die Centurion-kampus in Gauteng draf, waar hulle op ʼn tradisionele wyse onderrig word deur ʼn dosent wat fisiek in die klas teenwoordig is.

“Dié kampusmodel is met ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum en biblioteek ingerig en hier sal die studente die keuse van ʼn meer omvattende studentelewe kan geniet,” het Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, gesê.

Daar word beoog om vanaf volgende jaar nege grade in die bestuurswetenskappe, geesteswetenskappe, opvoedkunde en regsgeleerdheid op die Centurion-kampus aan te bied. Aansoeke vir vyf van die kwalifikasies is reeds oop.

Die instelling is sedert 2012 bekend vir sy nauurse studierigtings wat in Afrikaans met behulp van gevorderde tegnologie aangebied word.

“Die gemeenskap se behoefte aan ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling waar studente ook voltyds op ʼn vriendelike en veilige kampus kan studeer, het die afgelope tyd drasties toegeneem. Die fondament van die bestaande nauurse onderrigmodel is goed vasgelê en daarom is Akademia nou gereed om hierdie behoefte aan te raak,” het Visser bygevoeg.

Studente en ouers het ‘n geleentheid gehad om na die kampus te kom kyk in September 2019. (Foto: Verskaf.)

Hy meen dié uitbreiding by Akademia is ʼn besonderse mylpaal vir die instelling, en skep hoop vir Afrikaanssprekendes wat in ʼn gehalte-omgewing onderrig in hulle moedertaal wil ontvang.

“Die eerste studente wat vanaf volgende jaar op Akademia se Centurion-kampus aansluit, gaan baanbrekers wees in die vestiging van kampustradisies wat vir dekades hierna nog nagevolg sal word,” reken Visser.

Visser het bygevoeg dat die bykomende voltydse kontakmodel as tussentydse stap van ʼn veel groter projek vir Akademia dien. Die instelling is besig met die ontwikkeling van ʼn residensiële kampus waar ongeveer 5 000 voorgraadse studente mettertyd voltyds in Afrikaans sal kan studeer.

“Hier sal uiteindelik ʼn breë spektrum van voorgraadse programme vanuit sewe fakulteite aangebied word,” vertel Visser. Die eerste dekane hiervoor is reeds in 2019 aangestel en hulle werk voluit aan die ontwikkeling en akkreditasie van nuwe kwalifikasies. Nagraadse kwalifikasies sal ook later ingefaseer word.

Ongeag die model wat studente kies, voltyds of nauurs, bly Akademia daartoe verbind om op ʼn uitnemende wyse aan die behoefte aan professionele opleiding te voorsien. “Die instelling strewe ook voluit na die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit oor eeue heen in die tradisionele universiteitswese gemanifesteer het.”

Studente ontspan tydens ‘n vorige opedag op Akademia se kampus in Centurion. (Foto: Verskaf.)

Volgens prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, volg universiteite wat vandag by die klassieke universiteitsmodel aansluit ʼn dubbele benadering in dosering. “In ons hipertegnologiese era geskied dosering die beste wanneer dit deur direkte kontak tussen dosente en studente én deur tegnologies bemiddelde ondersteuning en hulpbronne geskied.” Hy meen dat die direkte én tegnologiese aspekte eweneens belangrik is vir Akademia, en dat die klassieke opleiding en opvoeding van studente deur hierdie kombinasie tot sy reg kom.

“Met die ontwikkeling van die tussentydse kampus vir heeltydse studente gee Akademia ʼn reusetree om sy eie direkte benadering uit te bou en te versterk – dit alles sonder om die bestaande tegnologiese model af te water,” sê Goosen. “Inteendeel, Akademia voorsien dat albei benaderings mekaar in die toekoms sal aanvul en versterk.”

  • Akademia hou op 29 Augustus ʼn aanlyn kampusopedag om aan voornemende studente meer inligting oor studiemoontlikhede te verskaf en om op ʼn virtuele wyse te demonstreer hoe die tussentydse kampus ingerig word. Vir meer inligting oor Akademia besoek Akademia.ac.za, stuur ʼn e-pos na [email protected] of ʼn WhatsApp na 0861 222 888.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Amper sê ek ” great”. Baie baie geluk en alle voorspoed. Omdat bekwames aan die stuur is sal dit van krag tot krag gaan. Baie trots

Gerra ·

Baie geluk Akademia! Voorwaar iets om op trots te wees. Verwag jaloesie, teenstand en sleg se uit sekere oorde, maar laat dit afrol soos water op n eend se rug…. Gaan julle voort met bou!

Willem ·

Pragtig sterkte jul gaan teenkanting kry van baie maar druk deur

Rodger17 ·

Maak dit n leerinstelling slegs vir wittes om stakings,plundering en brandstigting uit te skakel!Dis ons reg om ons mense opleiding te gee in n veilig omgewing!Dankie vir dit en hou dit vir ons kinders omdat daar teen ons studente in ander in stellings gediskrimineer word op velkleur!

Jaco ·

ek hoop hierdie student kies hulle kursusse reg. Studeer in ‘n rigting waar werk eendag sal beskikbaar wees al is daar regstellende aksie en BEE. Dink ook maar aan oorsese werksgeleenthede, al is dit ‘n duur en lang proses om dit te kry.
Ek het 2 grade verwerf in ‘n rigting wat, nadat ek weg is uit die staatsdiens weens regstellende aksie, my geen werk kon gee nie. Die een deur na die ander is in my gesig toegeklap. Baie van daardie toe deure was nie oor die verkeerde velkleur nie. Ek het gedurig gehoor “oorgekwalifseer” en/of “verkeerd gekwalifiseer”. Uiteindelik het my CV aangedui dat ek nie universiteitsgrade verwerf het nie. Vreemd, maar toe kry ek ordentlike werk, maar ek sit met reusagtige skuld vanuit die werklose jare. Afbetaal gaan nog lank vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.