Akademia woeker met nuwe avonture

Dr. Tienie Ehlers, dr. Rachel Maritz en Marthinus Visser tydens die bekendstelling van Akademia et al. (Foto: verskaf)

Die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling, Akademia, is aan’t woeker met talle projekte wat dié gemeenskapsuniversiteit se groei opnuut in die kollig plaas.

Akademia spog nou met ʼn splinternuwe fakulteit, talle kortkursusse vir werkendes én kosbare gedenkboek.

Glasie geklink op kortkursusplatform

Akademia et al., ʼn splinternuwe kortkursusplatform onder die vaandel van Akademia, is op 18 Oktober by Leriba in Centurion bekendgestel.

Akademici, bekende sakelui en vriende van Akademia, wat vanjaar hul 10de bestaansjaar vier, het die funksie bygewoon om ʼn glasie op die instelling se kortkursusplatform te klink.

Dié platform is geskep om praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue en ondernemings te bied. Uitgesoekte kundiges en akademici sal hul aanbiederskoene van die verskeie kursusse volstaan.

Die opleidingsplatform bied aan individue die geleentheid om hulself te ontwikkel, kennis te verdiep en hulself beter vir die werksplek toe te rus.

“In die Akademia-konteks verwys Akademia et al. na ‘nog kursusse’ wat aangebied word deur ons eie dosente of moontlik buitedosente of instellings as ons vennote, dus ook ‘nog vennote en andere’,” vertel dr. Rachel Maritz, die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wat die Akademia et al.-platform bestuur.

Maritz benadruk dat voortgesette leer noodsaaklik vir werkendes is.

“Individue wat voortdurend en doelbewus aanhou leer deur kortkursusse te voltooi, verkry die geleentheid om kennis, insig, selfvertroue, waardes en interpersoonlike vaardighede op te skerp. Voortgesette leer is daarom belangrik vir die individu, maar juis ook omdat dit uiteindelik ʼn meer produktiewe en kreatiewe werksplek en gemeenskap skep,” sê Maritz.

Dr. Tienie Ehlers, onafhanklike sakekonsultant wat fokus op strategie, bestuurs- en leierskapontwikkeling, was die gasspreker by die Akademia et al.-bekendstellingsfunksie. Hy meen dat Akademia et al. se waardes, wat gemeenskapsontwikkeling en die opvoedingsideaal insluit, die kortkursusplatform uniek maak.

“Akademia et al. wil nie net resultate bereik nie, maar dieper in die gemeenskap delf en verandering bring.”

Akademia et al. bied ʼn verskeidenheid van kortkursusse om aan die individu se behoeftes te voldoen, met nuwe kortkursusse wat deurlopend by die lys gevoeg sal word.

Die eerste tien kortkursusse wat deur Akademia et al. aangebied word, is:

  • Inleiding tot forensiese linguistiek
  • Inleiding tot besigheidsetiek
  • Inleiding tot litigasietegnieke
  • Kuns van verkope: SPIN-vrae
  • Middel- en laevlakbestuur: Besluitneming en beplanning
  • Kernbeginsels van bemarking
  • Inligtingsbeveiliging
  • Ekonomiese en fiskale beleid
  • Onderrig van Afrikaans as addisionele taal
  • Ekonomiese en monetêre beleid

Akademia stel Fakulteit Regsgeleerdheid bekend

Dié privaat instelling skroom nie om nuwe geleenthede vir voornemende studente te skep nie.

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid is vroeër vandeesmaand by die instelling se Centurion-kampus bekendgestel.

Prof. Hermie Coetzee, gesoute akademikus en toegelate prokureur, sal die dekaanstoel van dié nuwe fakulteit inneem. Tydens haar inhuldigingstoespraak by die bekendstellingsgeleentheid, het sy geskiedkundige waarde aan die skep van ʼn nuwe fakulteit benadruk.

“Verder is die totstandkoming van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan Akademia ʼn heuglike oomblik vir moedertaalonderrig en om Afrikaans as ʼn regswetenskapstaal te bevorder.”

Volgens Coetzee is die Fakulteit Regsgeleerdheid se missie om ʼn baken van gehalte-regsopleiding in Afrikaans, kritiese denke, gemeenskapsdiens en bowenal hoop te wees. Sy hoop ook dat elke student wat deur die fakulteit gelewer word as ʼn gesonde, veelsydige, bekwame en oplossingsgedrewe regspraktisyn ʼn opbouende verskil in sy of haar gemeenskap sal maak.

“Ons fokus op die hoogste denkbare teoretiese opleiding, maar ook op die ideaal van wysheid, waarop die klassieke universiteitswese geskoei is. Dus, die strewe na kennis en wysheid in ʼn Afrikakonteks ten bate van die gemeenskappe waaruit ons kom en die gemeenskappe waarin ons studente ʼn positiewe verskil aan ons land en al sy mense kan en móét maak,” sê Coetzee.

Die twee departemente waaruit die fakulteit bestaan, is ook bekendgestel tydens die funksie.

“Dit is ʼn voorreg om twee uiters ervare, bekende en gedugte akademici aan die hoof van ons twee departemente te hê,” het Coetzee gesê.

Dr. Melanie Roestoff staan aan die hoof van die Departement Privaat- en Handelsreg en dr. Willem Gravett aan die hoof van die Departement Publiek- en Prosesreg. Albei departementshoofde is ook regspraktisyns.

“Dit is vir Akademia ʼn groot voorreg om die Fakulteit Regsgeleerdheid se geboorte te vier. Ons vier daarmee tesame ook ʼn diepe volwassenheid in dié fakulteit danksy die senior personeel en die bekwame leiding van prof. Coetzee,” het prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, tydens die geleentheid gesê.

Kosbare gedenkboek

Om sy 10de bestaansjaar te vier en belangrike hoogtepunte te herdenk, het Akademia ʼn spoggerige en kosbare gedenkboek ontwerp.

Dié boek vertel Akademia se verhaal van groei en ontwikkeling oor die afgelope 10 jaar. Die verhale van die baanbrekers wat gehelp bou het aan die instelling, lê ook in dié koffietafelboek opgesluit.

“Die suksesverhaal wat hier vertel word, gee uiteraard erkenning aan almal wat bygedra het tot die verwesenliking van ʼn kulturele, maatskaplike en akademiese prestasie, van stigters tot studente,” het APM Moen oor die boek geskryf.

“Hierdie boek is nie ʼn stuk stowwerige argiefmateriaal nie. Dit sluit die groot aantal denkers en drywers agter die ideale van hierdie instelling, van wie baie nog aktiewe personeellede is, in.”

  • Die Akademia-gedenkboek kan teen R650 by Die Winkel aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Tjaart ·

Baie trots op julle! Sterkte vir die pad vorentoe en dankie vir wat julle doen.

Jacques ·

Akademia, nog ‘n suksesverhaal, wat net bewys dat as iets reg bestuur word, is dit ‘n sukses. Orania nog ‘n bewys daarvan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wees verseker, die ANC/EFF hou julle dop.

AmY ·

Ek wens daar kon ‘n Akademia in elke provinsie wees.
Wens ek kon help sodat studente in vrede kon studeer.

Mariana ·

Wel gedaan. Doen so voort. Dankie vir die wonderlike werk wat vir Afrikaans gedoen word.

Vincent ·

En so gaan die Afrikaner vorentoe, stuk vir stuk, terwyl “our people” agterbly. Wel gedaan!!

Michael ·

En in 30 jaar waar “our people” die land “regeer” sien ek geen bewys van iets wat hulle opgebou/ontwikkel het vir “our people” nie. Daars egter duisende bewyse van alles wat hulle afgebreek en verwoes het. Dit moet tog iets van die inherente samestelling van die mense openbaar

Fran ·

Ons kan trots wees op wat die Afrikaner vermag het en nog steeds doen in hierdie verskroeide land. Die Afrikaner het al bewys dat hy nie opgee nie en sal aanhou. Trots Akademia!

Smiley ·

Kyk nou net !!! Op NW24 is daar n relaas oor n klip met n inskrywing van NP van Wyk Louw by US wat blykbaar aandtoot gee. Daar word energie gemors en derms uitgeryg oor wat hulle te doen staan met die klip. Ny Akademia bou julle egter volstoom voort met tasbare vordering aan iets nuut !!! Welgedaan. Ek is waaragtig trots op wat julle vermag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sal weer breek wat die Afrikaner gebou het.

Elizabeth ·

UITSTEKEND! Akademia et al. het hulself deur die jare bewys. Julle maak ons Afrikaanse harte trots.
Miskien kan julle in die toekoms kyk na ons verlore kinders wat skool te vroeg verlaat het en nie matriek klaargemaak het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.